‘Swendelaar’ van Modimolle vas

Lenn Roy Jofner (Foto: SAPD)

Die polisie in Modimolle (Nylstroom) in Limpopo doen ’n beroep op moontlike slagoffers van ’n vermeende swendelaar om na vore te kom.  Die verdagte is op dié dorp in hegtenis geneem nadat hy versuim het om te betaal vir brandstof wat hy by ’n plaaslike vulstasie in sy voertuig laat ingooi het. Hy is intussen met verskeie ander misdrywe verbind.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê Lenn Roy Jofner (24) is verlede Woensdag vir die gesteelde brandstof in hegtenis geneem toe hy duisende rande se bande by Supa Quick op die dorp wou bestel en koop.

Volgens Mojapelo het die polisie tydens die inhegtenisneming op vervalste diamante, vervalste R200-note, juweliersware en metamfetamien, beter bekend as “crystal meth” afgekom wat in sy voertuig versteek was.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat Jofner verbind word met soortgelyke misdrywe wat verlede maand in die omgewing van Vaalwater en Laersdrift gepleeg is.

Volgens Mojapelo staan Jofner nou tereg op aanklagte van bedrog, diefstal, die besit van vervalste geld, handel in dwelms, die besit van vermoedelik gesteelde goedere asook die vervalsing van uitgifte.

Die verdagte het reeds verlede week vlugtig in die Modimolle-landdroshof verskyn waar hy borgtog geweier is. Jofner sal na verwagting weer op 12 Mei in die hof verskyn.

Lede van die publiek wat moontlik deur die verdagte bedrieg is, word versoek om speursers. Amanda Rossouw by 071 133 8524 te bel of by die naaste polisiestasie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Emily ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg, En doen dit sommer met al die misdadigers in die land.

Wondermaarnet ·

Sjoe hy is omtrent skelm en sorg dat hy met meer as een item smokkel sodat hy verseker is hy maak geld. Sluit toe en gooi weg die sleutel.

Johan ·

Ek wonder hoekom hy nie vir die brandstof met die vals geld probeer betaal het nie. Dan was hy dalk nie gevang nie. Wonder maar net. ????

Jaco ·

ek praat nie die man se misdade goed nie, maar weens regstellende aksie en BEE weet ek hoe desperaat wit mense kan raak. tyd stap aan en aan. dinge moet betaal word. gesin moet versorg word en AANMEKAAR met elke werksaansoek moet jy hoor “sorry no job for you because you are white”. Eks meer as eenkeer deur die traumatiese werksoekproses. ek weet waarvan ek praat.
Ek weet ook van wit mense wat uit desperaatheid later hulle naskoolse kwalifakasies vanaf hulle CVs verwyder het en so die indruk geskep het dat hulle “dom”of swak geleerd is. Dit het darem gehelp om weer ordentlike werk te kry, maar tegnies het hulle gelieg.

Mauritz ·

Jaco, jou kommentaar is miskien geldig as ‘n algemene stelling. Hierdie ou is egter al verskeie kere in die verlede gearresteer vir verwante misdade. Ek verstaan nie hoekom hy nie al toegesluit is nie. Bowendien, hy het gegoede familie wat hom ‘n goeie werk sou kon aanbied as hy eerlik was.

Sê Ook Maar Net ·

Ek sien sim kaarte, ‘n modem ens. Seker nog ‘n ander paar skelmstreke waarvan hulle nie weet nie.
Sy beursie lyk darm mooi.

Op ‘n ligter trant :

Wat is die toppunt van optimisme ?

As jy met jou heel laaste geld ‘n beursie koop!!

Jan ·

Hy behoort lig daarvan af te kom. Kan selfs amnestie kry saam met die 19 000 ander kriminele wat vrygelaat word. Daar is darem nie tabakprodukte by hom gekry nie.

Yolandie ·

Wat ‘n ooorwinning vd SAPD. Ons sluit een toe en ou Cyril laat 19 000 gevangenis vry tydens die inperking. Happy Days!!!! Lagwekkend.

Tienie ·

Kom ons hoor van sy skool maats.

Hoe n mannetjie was hy op skool.

Ek wonder net wat het hy toe al aangevang??

Rita ·

Die outjie is aan ons bekend. Hy is al in Groblersdal van waar hy oorspronklik kom en Middelburg vir dieselfde modis operandie aangekeer. Wonder wat van al daai sake geword het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.