Swerm bye oorval gesin tydens uitstappie

Argieffoto (Foto: PollyDot, Pixabay)

ʼn Rustige uitstappie by ’n natuurlandgoed digby Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga het vir ʼn gesin van vyf in ʼn nagmerrie ontaard toe ʼn swerm bye skielik op hulle toegesak het. Die gesin, onder wie ʼn baba en kleuter, is met honderde bysteke na die hospitaal gejaag.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, vertel die ouerpaar en hul drie dogters – van wie een ʼn baba is – het Sondag laatmiddag ʼn rit deur die veld in die landgoed geniet toe hulle vermoedelik oor ʼn byenes gery het. ʼn Swerm bye het skielik deur die motor se oop vensters ingestroom.

“Die oudste dogter – ongeveer 12 jaar oud – het daarin geslaag om na ʼn nabygeleë plaashuis te hardloop om hulp te ontbied. Dit terwyl die bye steeds besig was om haar aan te val en aanhoudend te steek,” vertel Campbell.

“Die ‘oom’ van die plaashuis het haar oënskynlik met water gespuit en aangesê om in die swembad te spring, voordat hy hulp ontbied het.”

Die inwoner van die plaashuis het daarna na die veld gery om te sien of hy die res van die gesin kan help, maar moes terugdraai weens die swerm bye wat daar gewemel het.

Volgens Campbell het ʼn ER24-paramedikus omstreeks 18:15 op die toneel opgedaag en saam met die man met brandtoerusting die gesin gaan help.

“Hulle het gehoor hoe die pa van ʼn nabygeleë vlei af om hulp skreeu, waar hy saam met sy kleuter- en babadogtertjies in die water geskuil het in ’n poging om die bye te ontsnap.”

Die paramedikus kon daarin slaag om naby genoeg aan die pa te kom om die baba en kleuter te gryp, na die plaashuis te jaag en hulle direk aan die ambulanspersoneel te oorhandig om hulle na die hospitaal te neem.

Die oudste dogter is intussen ook na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

“Meer ER24-paramedici het op die toneel opgedaag en na die vlei gegaan om die pa te help. Hulle het die ma by die motor gevind.”

Die ouerpaar is albei vir honderde bysteke behandel en daarna na die Mediclinic-hospitaal in Mbombela geneem waar hulle by hul dogters aangesluit het vir verdere mediese behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ou bees ·

Was ook eenmaal so aangeval dis nie n grap nie daai bye is erg wow

Rooijan ·

Vriend van my is ook net buite Mbombela aangeval so n paar jaar terug, maar hy was allergies, en is ongelukkig dood, bye is nie jou maatjies nie hulle maak tientalle mense dood elke jaar.

DieKriek ·

Ek werk met bye en is al aangeval. Op veld uitstappies, neem Peaceful Sleep muskiet afweerder saam. Bye hou gewoonlik op steek as jy volgespuit is. As jy kan, staan onder n sproeier of tuinslang (stort werk ook). As jy in die swembad of dam spring, steek hulle nog jou kop en hulle wag vir jou om op te kom sodat hulle jou kan takel. Dis beter as niks nie.

Fluisterwind ·

Ek wil net die erens van die geval beklemtoon. As jy weet van ‘n swerm bye, laat dit so gou as moontlik verwyder. Ek het ‘n rukkie gelede ‘n swerm bye verwyder by ‘n huis waar klein kindertjies opgepas word, en het na die tyd self besef hoe gevaarlik daardie situasie was vir die kindertjies. Dit is ‘n tydbom waarop jy sit, maak werk van die verwydering van enige swerm bye. Ek het ook gaan oplees, dit is ‘n regulasies van die munisipaliteit van Pretoria, om bye in jou erf te laat verwyder, ander kan jy jouself aan die verkeerde kant van die gereg bevind. Wees gewaarsku.

FM ·

Nie net vir mense nie

Troetel diere word ook aangeval. Veral honde is al dood weens ‘n kwaai swerm.

Wanneer ‘n swerm trek is hulle minder aggressief maar moet steeds met rus gelaat word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.