Swewer sterf in ongeluk by Gariepdam

Die ongeluk het in die omgewing van die Gariepdam gebeur. Foto: SAPD

ʼn Sestigjarige swewer is op slag dood toe hy Maandag teen ʼn heuwel by die Gariepdam in die Vrystaat vasgevlieg het.

Die man, wie se naam nog nie bekendgemaak is nie, het omstreeks 12:00 van die dam af opgestyg en was van plan om weer op dieselfde plek te land, sê Yanga Ngcukana, polisiewoordvoerder. Die ongeluk het minder as 10 km van die dam af gebeur.

Ngcukana kon nie Dinsdag die oorsaak van die ongeluk bevestig nie en sê die polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur.

Volgens Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO), sal ʼn span van die BLO na die toneel gestuur word om die voorval te ondersoek. Hy het Dinsdag aan Maroela Media gesê die span sal deur spesialiste gelei word, maar kon nog nie bevestig wanneer die ondersoek sal begin nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.