Switserse toeris uit see gered

Foto ter illustrasie. (Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het vandeesweek twee mense onderskeidelik aan die KwaZulu-Natalse en Wes-Kaapse kus gered.

Jan Hofman, stasiebevelvoerder van die NSRI St. Lucia, sê in ’n verklaring sy span is Woensdag omstreeks 15:00 saam met paramedici na Cape Vidal ontbied waar ’n vrou byna verdrink het.

’n Vrou (62) van Switserland is met die owerhede se aankoms op die toneel aangetref. Die vrou is deur seestrome meegesleur voordat twee branderplankryers haar te hulp gesnel het.

Volgens Hofman het die NSRI en paramedici die vrou op die toneel behandel voordat sy in ’n stabiele toestand na ’n hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling. Haar man het haar na die hospitaal vergesel.

In die Wes-Kaap is ’n man weer by Simonstad uit die water gered.

Hein Scheepers, stasiebevelvoerder van die NSRI Simonstad, sê sy span is Dinsdag omstreeks 15:30 saam met paramedici na die toneel suid van Kaappunt ontbied waar ’n man in ’n vistreiler ’n mediese kwaal gehad het.

Die man, ’n plaaslike visserman in sy 20’s, is met ’n reddingsvaartuig uit die see na die plaaslike hawe geneem, van waar hy in ’n stabiele toestand na ’n hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling.

Maroela Media het vroeër berig ’n tienerseun (17) van Delft en ’n ouer vriend (22) het Maandag in die see aan die kus naby Valsbaai in die Wes-Kaap vermis geraak.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het vanoggend aan Maroela Media bevestig dat die soektog na dié twee vriende steeds voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Makkie ·

Kan iemand my asb sê wat so n seeredding die “” geredde” persoon sal is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.