‘Sy het gesmeek om jou liefde en aandag’

Jayde se ouers en suster in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Emosies het Vrydag hoog geloop in die hooggeregshof in Port Elizabeth toe Jayde Panayiotou se suster ʼn hartverskeurende brief voorgelees het en gesê het hulle sal Christopher Panayiotou nooit vergewe nie.

Panayiotou is vroeër die maand skuldig bevind aan die moord op sy vrou. “Ek wil hê jy moet weet dat my ma, pa en ek jou nooit sal vergewe nie,” het ʼn emosionele Toni Inggs gesê. “Die lafaards wat vandag hier in die voorste ry sit sal nooit vergewe word nie.”

Inggs is as die staat se enigste getuie geroep ter strafverswaring. Sy het gesê sy het ʼn jaar gelede besluit om te versoek dat sy Panayiotou en Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko, wat ook skuldig bevind is in verband met die moord, direk wil aanspreek.

“Ek staan vandag hier met ʼn gebroke hart, ʼn beskadigde lewe en geweldige woede. Julle het almal gewen. Julle het die selfsugtige speletjie gewen die dag toe julle ingestem het om Jayde te vermoor. Soos gewoonlik kry Chrissy [Christopher] presies wat hy wil hê.”

Inggs het daarop aangedring dat Panayiotou na haar kyk terwyl sy met hom praat. Hy het egter geweier en bly afkyk. “Om hier te staan en te sê ek haat julle drie kom nie eers naby aan hoe ek oor julle voel en wat julle aan my familie gedoen het nie.”

Inggs het verduidelik hoe die moord op haar suster tot gevolg gehad het dat haar wêreld buite beheer begin tol het en dat sy niemand meer kan vertrou nie. Volgens Inggs kyk sy heeltyd oor haar skouer en wonder of iemand gestuur word om haar volgende te vermoor.

Sy het gesê sy ervaar daagliks ʼn warrelwind van emosies bestaande uit skuld, woede, afkeer, haat, hartseer en verraad. Inggs het gesê Jayde het baie meer verdien as die materiële dinge wat Christopher uitgedeel het.

“Sy het gesmeek om jou liefde en aandag en dit is hoe jy haar terugbetaal het. Ek het gekyk hoe my ma en pa keer op keer uitmekaarval weens jou en al wat ek kan doen is toekyk, ek het nog nooit so hulpeloos in my lewe gevoel nie.”

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko in die hof (26 Oktober 2017). Foto: Raahil Sain/ANA

Volgens Inggs wens sy nie die drie mans was dood nie aangesien sy nie voel hulle verdien die vrede wat dood teweegbring nie. Sy het wel gesê hulle verdien nie om weer vry te wees nie. Inggs het ook teen Panayiotou se regspan uitgevaar en gesê haar familie is van dag een as die vyand behandel. Volgens haar het hulle bygedra tot die familie se emosionele lyding.

“Ons het nie hiervoor gevra nie, ons het nie gevra om hier te wees nie en ons het definitief nie hierdie behandeling verdien nie. Geen slagoffer se familie verdien hierdie behandeling nie.”

Adv. Terry Price, Panayiotou se regsverteenwoordiger, het aan Inggs gesê hy voel jammer vir haar familie en dat Jayde se dood ʼn verskriklike ding was. “Julle het my empatie.”

Die saak is tot Donderdag uitgestel op versoek van die verdediging wat nie gereed was om voort te gaan nie.

Christopher is op 2 November skuldig bevind aan die moord op sy vrou. Hy is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg. Nenembe, een van Panayiotou se medebeskuldigdes, is skuldig bevind op aanklag van moord, asook op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede. Sibeko is skuldig bevind op ʼn aanklag van sameswering tot moord.

Die uitspraak het gevolg ná ʼn marathon-verhoor wat meer as ʼn jaar gelede begin het en waartydens 58 getuies geroep is.

Lees alle vorige berigte oor Christopher Panayiotou op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê Claudie

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
Nms. Maroela Media

Nee o jinne ·

Nee o jinne, hoe kom jy hof toe op vonnis dag onvoorberei en vra uitstel. Geen respek, of kan die verdedigings advokaat nie sy saak op sy eie voorberei, wag eers, dan counter ons net op die staat.

Die verdediging ·

Die verdediging voel heeltyd hul word met afkeur behandel, maar hul toon geen respek of omgee. Hul het slagoffers soos die oorsaak behandel, as Panayiotou in die 1ste plek nie met Jayde getrou het sou alles nie gebeur het. Die wat dit besluit /gedoen het is die oorsaak Mnr Price

Genieve ·

Ek glo nie wat ek hier lees nie die saak weer uitgestel straf hulle en kry klaar.Dat die families kan aangaan met hulle lewe.Moenie meer weer afhaal nie Maroela Media.

LV ·

Ek hoop die verdediging sal na afhandeling vd verhoor oor hul gedrag en optrede gaan besin. Is dit werklik hoe reg en geregtigheid moet geskied?

Tammy ·

Hoekom is die vrou met wie hy n verhouding gehad het nie ook aangekla nie? Daar is dan telefoonnommers van die beskuldigdes op haar foon gekry… of is ek heeltemal van die pad af met hierdie saak?

Nee wat ·

Nee wat jy het n goeie punt, daar is beslis nie nog bewyse om haar vas te pen en dit het uitgekom, hy het haar foon gebruik sodat sy foon nie getrace word nie. Ek hoop die stomme ding sien dat hy bereid is om haar in beskuldigde bank te laat staan vir sy dade, hoeveel voel hy werklik vir die vrou , net gebruik oftewel misbruik.

Wow ·

Wow Toni Inngs, ek het jou hele brief gelees, ek kan op niks verbeter nie, uitstekend gedoen, ek is bly jy het ook nie teruggestaan vir die onbeskofte manier waarop die verdediging jul behandel het nie, so asof hul voel as jul nie daar was sou hul nie so gesukkel het, hy het met die getuies gepraat asof hulle skuldig is. Dit meot alles met vonnisoplegging in ag geneem word.

Cherokee ·

Ek kyk nou na ‘n foto van haar sussie en besef sy was werklik so pragtig selfs sonder photoshop.

Magaretha van heerden ·

Dit is verskriklik wat julle as gesin deurgemaak het. Moenie toelaat dat die skurke die res van jul lewens steel en vewoes nie. Die wraak kom ons nie toe nie. Ter wille van julself moet julle hulle vergewe en teen die haat veg. Dis nie die moeite werd nie. Ek weet dit klink so maklik maar dit gaan n geweldige stryd vir julle wees om te vergewe. Jesus is die enigste een wat julle kan help. Vra en Hy sal antwoord. Jammer vir julle en bid dat julle seer weer sal genees.

Abie Blaauw ·

Dit is sekerlik een van die aspekte in ons “moderne” samelewing wat ek glad nie verstaan of kan aanvaar nie. Die feit dat regslui twv van “reg en geregtelikheid” (maar eintlik twv die geld) toegelaat word om ten koste van slagoffers hulle “kliënte” te verdedig ongeag die welsyn van die slagoffers. Die reg dwing dikwels die waarheid in die agterste gestoeltes in en kom misdadigers skotvry of met ligte strawwe daarvan af – bloot deur “regstegniese korrekteid. Gereg seëvier bitter weinig – ten spyte daarvan dat ‘n blinde man met ‘n stok kan aanvoel dat die beskuldige skuldig is en wel die daad gepleeg het. Ek het my vertroue in die proses lankal verloor. Regsverteenwoordigers vir misdadigers blyk gewetenloos te wees en moet altyd “wen” – dikwels ten koste van ware geregtigheid en dikwels ten koste van slagoffers of hulle families….dit is siek. Voorbeelde is legio – dink maar aan onlangse groot sake.

Jack Klok ·

Die besef het al lankal tot my deurgedring dat die regsverteenwoordigers van misdadigers nie belangstel dat reg moet geskied nie maar wel in die “speleltjie” met die aanklaers om te kyk wie is die vaardigste om die regsreëls te (mis)gebruik om in die hof die anderkant te troef.

En vandag, met onervare staatsaanklaers, ondersoek beamptes en selfs voorsittende beamptes, tesame met politieke vooroordeel, kom misdadigers letterlik weg met moord.

Vertragingstaktiek, appel op appel, tel ook by tot afwatering van die reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.