‘Sy het gewag vir haar lyfie om slap te word’

Koekemoer in die hof. Foto: Foto: 90.6 FM Stereo Nuus

Koekemoer in die hof. Foto: Foto: 90.6 FM Stereo Nuus

Landdros Robert Button het tydens die vonnisoplegging van Soniya Koekemoer (34) wat haar dogtertjie met ʼn tou verwurg het, gesê die gemeenskap het haar in die steek gelaat.

Koekemoer is Dinsdag in die streekhof in Vanderbijlpark tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op haar negejarige dogtertjie Michelle.

Volgens 90.6 FM Stereo Nuus het Button gesê Koekemoer moes hulp kry nadat sy 16 jaar gelede met bipolêre gemoedsversteuring gediagnoseer is. Hy het gevra waar lede van die gemeenskap was en waarom hulle haar nie gehelp het nie. “Die gemeenskap staan saam met jou in die beskuldigdebank,” het hy gesê.

Die staatsaanklaer adv. Erik van der Merwe het die hof vroeër versoek om Koekemoer tot minstens 20 jaar tronkstraf of lewenslank te vonnis vir die moord op haar dogtertjie. Hy het aangevoer Koekemoer het nie voldoende berou getoon vir haar daad nie.

Van der Merwe het gesê Koekemoer het Michelle met voorbedagte rade vermoor. “Koekemoer het die aand van 9 Junie besluit om ʼn einde aan alles te maak en sodoende ʼn nylontou gebruik om Michelle te verwurg.” Volgens van der Merwe het Koekemoer ook tydens die moord tyd gehad om terug te tree en die tou te verslap om só haar dogtertjie se lewe te red, maar sy het dit nie gedoen nie en gewag vir haar lyfie om slap te word.

Michelle Koekemoer

Michelle Koekemoer

Francois de Kock, Koekemoer se regsverteenwoordiger, het egter by die hof gepleit om versagtende omstandighede in ag te neem. Hy het aangevoer dat Koekemoer nie die moord op haar kind beplan het nie en dat dit die resultaat was van ʼn ma se moedeloosheid. Hy het ook ter versagting aangevoer dat Koekemoer skuldig gepleit en berou getoon het.

Landdros Button het in sy uitspraak gesê die hof glo dat Koekemoer die moord beplan het. Hy het egter ook gesê Koekemoer se selfmoordpoging was ʼn oproep om hulp. Button het gesê dit is nie die hof se plek om Koekemoer te oordeel nie, maar dat sy wel eendag rekenskap sal moet gee vir haar dade.

Koekemoer is op 22 Julie in hegtenis geneem nadat Michelle se liggaam op 10 Junie in haar bed in haar slaapkamer gevind is. Sy en haar ma het in ʼn woonstelblok in Vanderbijlpark gewoon.

Koekemoer het aanvanklik beweer sy het Michelle die laaste keer lewend gesien toe sy die vorige aand vir haar ʼn storie gelees en haar in die bed gesit het. Volgens Koekemoer het sy wakker geword met ʼn tou om haar nek en dadelik na haar dogter se kamer gegaan. Sy het gesê sy het Michelle se liggaam op haar bed aangetref, ook met ʼn tou om haar nek.

Lees alle vorige berigte oor Soniya Koekemoer op Maroela Media.

Inligting met vergunning van 90.6 FM Stereo Nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

So so bitterlik hartverskeurend. Daai arme kindjie. Watse vrees moes sy nie gehad het om te sien wat haar mamma aan haar doen nie? My ander vraag is waar is die pa in die hele storie? Rus in vrede klein poplap!!

Johann

Dit breek my hart elke keer as ek van die gevalle lees. (Poppie van Brits geval ook)
Ongelukkig het ek geen simpatie met haar omstandighede nie.
Daar is GEEN rede/ verskoning om ‘n kind te vermoor nie.
Daardie mense moet verewig en altyd in die tronk gaan sit.
Geen doodstraf nie – hulle moet die res van hulle lewe in ‘n tronk spandeer om te dink wat hulle gedoen het.
GEEN KIND EN GEEN VROU EN GEEN DIER verdien die dood nie.

Sooo jammer

Ek het soveel simpatie met haar. Ek het ook op ‘n stadium gevoel alles raak net soveel dat kinder- en selfmoord die enigste uitkoms sou wees. Min besef mens in daardie omstandighede dat jou lot wel kan verander as jy net alles oo gee aan die Here.

Sooo jammer

Ek het soveel simpatie met haar. Ek het ook op ‘n stadium in my lewe gedink selfmoord en kindermoord sou die oplossing wees op my omstandighede. Dit het alles verander toe ek my lewe ten volle oorgegee het aan God en Sy genade ondervind het. Ook om eerlik te kon wees met my familie het baie bevryding gebring. Mens is so geneig om weg te steek en te dink hulle gee nie om nie. Intussen is dit die teendeel. Hulle gee om. Hulle weet net nie. Sterkte Sonyia en Familie.

Helen

Ek dink nie dis regverdig dat Button sê die gemeenskap is ook skuldig nie. Die gemeenskap het nie geweet sy gaan so simpel ding aanvang nie, en dis ook nie die gemeenskap se plig om vir te sê om nie babas te hê, reeds nadat sy gediagnoseer was nie! Sy het mos geweet van haar “toestand”, dan moes sy mos iets gedoen het daaraan. Sy alleen het die moord gepleeg, nie die gemeenskap nie! Pleks sy maar net haarself uitgehaal het, en die kind dan vir die gemeenskap gelos het. Jammer as ek nou gevoelloos klink, maar sy het ook… Lees meer »