‘Sy het nie meer pyn nie’

Amy Mills (5). Foto: Verskaf

Amy Mills (5). Foto: Verskaf

“Ek gaan nie vir Amy sien grootword en sien dans en sing nie. Ek gaan nie eendag haar kindertjies sien grootword nie. Dit sou dalk moontlik gewees het as meer mense bewus was van orgaanskenkings.” Dit is die woorde van Natasha Miller wat Dinsdag haar dogter op vyfjarige ouderdom weens ʼn seldsame hartsiekte aan die dood moes afstaan terwyl sy op ʼn skenkerhart gewag het.

Amy is op 8 September 2010 in die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad gebore nadat haar ouers, Michael en Natasha Miller van Umhlanga naby Durban, deur voorgeboorte-sonars op 20 weke van swangerskap uitgevind het dat hul baba moontlik ʼn hartdefek het. Die egpaar is spesiaal na dié hospitaal vir haar geboorte om by van die land se beste hartspesialiste en -chirurge te wees.

Haar hart se belangrikste pompkamer het nie voldoende ontwikkel nie en Amy het haar eerste hartoperasie gehad toe sy ses dae oud was. Op vier maande het sy ʼn tweede operasie ondergaan en haar laaste toe sy twee jaar oud was.

Met dié drie operasies kon haar dokters vir haar ʼn paar jaar wen. ʼn Paar jaar waarin sy diep in haar ouers, familie en selfs vreemdelinge wat van haar verhaal bewus geword het, se harte ingekruip het.

Amy het die afgelope paar maande ietwat van ʼn woordvoerder vir orgaanskenking geword nadat haar toestand begin vererger het. Sy het drie keer hartversaking gekry en kon tydens al drie geleenthede gestabiliseer word.

“Sy was in haar eerste jaar sowat 60 dae in die hospitaal en in haar tweede jaar tien dae. Andersins was sy heel gesond, maar ons het haar mooi opgepas. Haar sussie, Layla (nou drie jaar oud), is gebore en Amy was mal daaroor om familietyd saam met ons almal deur te bring. Sy sou eerder saam met ons wou wees as wat sy met speelgoed wou speel,” het Natasha Donderdag aan Maroela Media gesê.

Amy saam met haar gesin. Foto: Verskaf

Amy saam met haar gesin. Foto: Verskaf

Amy is in Augustus amptelik op die hartoorplantingslys vir kinders geplaas nadat haar hart so “moeg” geword het dat sy slegs met ʼn nuwe hart ʼn kans sou staan om te kon lewe. ʼn Geskikte hart kon egter nie vinnig genoeg vir haar gevind word nie en sy is Dinsdag in die hospitaal dood.

“Sy het die afgelope twee weke baie pyn gehad. Weens swak bloedtoevoer het sy gedurig pyn in haar voete, bene en hande gehad. Die hartversaking het ook veroorsaak dat haar lewer vergroot het wat vir haar erge maagseer gegee het. Sy kon skaars eet. Sy is Sondag in die hospitaal opgeneem.”

Natasha het gesê dit het Maandag ʼn bietjie beter met haar gegaan en die gesin kon ʼn lekker tydjie saam hê. “Dinsdag het sy gekla dat haar bors en been pyn. Haar handjies het begin skud en skielik was alles verby.”

Haar dokter het sowat 40 minute lank alles probeer om haar by te bring, maar was onsuksesvol.

Natasha het gesê sy hoop Amy se dood sal ander inspireer om orgaanskenkers te word.

“Amy was op haar gelukkigste as sy kon sing en dans. Sy was mal oor musiek en musiekspelvideo’s. Haar gunsteling-liedjie was “Roar” van Katy Perry en sy het omtrent elke woord daarvan geken,” het Natasha hartseer gesê.

Sy het gesê dat Amy langer hier op aarde kon sing en dans as meer mense bewus was van orgaanskenkings. “Daar gaan elke dag mense dood. Mense wat potensiële orgaanskenkers kan wees. Mense wat organe kan skenk wat nie net kinders nie, maar volwassenes se lewens kan red. As meer mense dit besef en registreer om orgaanskenkers te word, dan sal Amy se dood nie doelloos wees nie.”

Natasha, Michael en Layla is geregistreerde orgaanskenkers. Amy se hooforgane kon nie geskenk word nie, aangesien dit te lank sonder suurstof was. “Haar korneas kon wel geskenk word, so ons weet darem Amy gaan iemand anders die kans gee om te kan sien.”

Amy word Vrydag om 13:00 vanuit die by die Grace Family Church in Umhlanga ter ruste gelê.

Klik hier vir meer inligting oor hoe om ʼn orgaanskenker te word, of bel die Orgaanskenkingstigting  Maandag tot Vrydag tydens kantoorure by 0800 22 66 11.

Hier sing Amy haar gunsteling liedjie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Andri ·

My hart is stukkend vir hierdie mense. Hoe verstaan mens dit? Amy was ‘n pragtige kind. Sterkte vir haar familie in die moeilikste tyd. Daai video…

Melkies ·

Jammer hartjie. My gebede met haar familie en almal wie sy aangeraak het. Jy is nou by Liewe Jesus.

Liesl ·

Ek en my man is trotse orgaanskenkers. Regtig mense, dit kos niks om jou organe te skenk nie. Registreer asseblief om so iets te verhoed en dalk ‘n kindjie nuwe lewe te gee. Besoek https://www.odf.org.za en registreer, groot asseblief. Die volgende sin gaan dalk wreed klink en ek vra verskoning. Jou organe beteken vir jou niks na jou dood nie, maar kan dalk net iemand anders ‘n gehalte lewe gee.

wes kaap ·

Baie Sterkte aan hierdie familie!!!!! Die Here SAL julle hier deur dra!!!!!

Berhalet Beukes ·

Sjoe, hoe breek my hart nou vir hierdie pragtige ou dogtertjie se ouers. My innige simpatie!

Marius ·

Baie sterkte aan die familie. Mag God jul dra in die moeilike tyd.

ANDRÉ ·

Ag, die hartseer. So jammer vir hierdie dierbare dogtertjie en haar gesin. Ons bid vir julle sowaar.

Driekie ·

Rus sag klein poplap. Baie sterkte aan pappa, mamma en kleinsus wat agter bly. Die Here sal julle dra in hierdie ongelooflike moeilike tyd. Dink aan julle ne bid vir julle.

marie ·

jammer dat so n pragtige engeltjie met die mooiste stem nie meer daar is nie. Sterkte vir die familie en almal wat haar geken het.

Jacoba ·

Pragtige video. Kosbare kleinnood. Sy is ñ Engelkind . Mag die Here julle vertroos in julle hartseer.

Beatrix Stevens ·

My Hart voel stukkend…. Ai wat n mooi Engeltjie… So baie jammer, dat Amy… nie betyds n skenking kon ontvang… En kon aanhou dans en sing…. Ek Glo dat sy nou voor God se voette sing en dans…Dat al haar pyn verdwyn het…. God het aan ons twee hande gegee… Een om mee te ontvang… en een om mee te gee… Mense maak jul Harte en Hande oop… Aan Amy se Ouers en Sus… wat deur al die rou moet gaan…. Mag God jul omvou met vrede… Sterkte aan jul…

Louise ·

Ek wil net se mense asseblief word net orgn skenkers, ek is n organ skenker.
Wat wil jy met jou gesonde organe doen as jy sterf, red eerder n lewe inplaas daarvan om selfsugtig te wees om nie n orgaan skenker te word nie.
Ai my hart gaan so uit na hierdie kleine mensie, die lewe is nie regverdig nie.
Julle as gesin is in my gebede en mag ons Vader sy hand oor julle hou en beslerm in hierdie moeilike tyd, vir nou en vir altyd. sterkte ek kan nie eers dink waardeur julle moet gaan nie.

Kate ·

Ek het nog altyd gesê ja, ek gaan ‘n organ skenker word, maar nog nooit geregistreer nie. Wel 5 min gelede het ek geregistreer en alreeds my epos ontvang dat ek nou ‘n skenker is. Ek vra mooi, as jy hier klaar gelees het, registreer gou. Kom Maroela leesers, kom ons kyk of ons vandag ‘n rekord kan slaan met nuwe registrasies. Laat weet ons of jy geregistreer het.

Eliza-beth ·

Ek is ook een van die trotse orgaan skenkers, mense DOEN dit, dis so maklik, kos jou niks en wie weet hoe jy iemand se lyding kan verlig en sy/haar lewe kan verleng. Dis die grootste geskenk wat mens KAN gee!

Daisy ·

Jes 35: 5 Dan sal die oë van die blindes geopen word,+ en die ore van die dowes sal ontsluit word.+ 6 Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim+, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep.+ Want in die wildernis sal waters uitbreek, en strome in die woestynvlakte…………God se belofte van n tyd wanneer daar nie meer siektes, gebreke of die dood sal wees nie. Liewe Natasha Miller jy het die hoop om jou kind weer te kan sien dans en sing, hier op die aarde, dis God se belofte. Vir meer inligting oor hierdie belofte gaan asseblief na: http://www.jw.org

Charlene ·

My hart gaan uit aan die gesin. Mag julle vertroosting kry by Jesus.Baie sterkte aan julle.

Christa ·

Mense, daar is mense wie bitter graag hul organe sou wou skenk. Ek is een van hulle. Ek was ‘n geregistreerde organ- en bloedskenker, tot ek diabetes ontwikkel het en daarmee saam ‘n hele paar komplikasies, soos hartversaking, nierversaking en vergrote lewer, as gevolg van die massa pille wat ek moet drink en hoë dosisse insulien. Dink mooi voor julle mense beskuldig van selfsugtigheid as hulle nie orgaanskenkers is nie.

Rapunzel ·

Christa, jammer dat jy sukkel met jou gesondheid, maar geen niemand oordeel ‘n persoon wat medies ongeskik is vir ongaanskenking nie. Jou opmerking is onnodig oorsensitief. Geen opmerking op hierdie artikel kon jou so laat reageer nie.

Rapunzel ·

Ek is so hartseer vir haar en haar familie. So jonk, so pragtig, so kosbaar…. so onnodig dat sy moes sterf.
Ek is ‘n Suid Afrikaner wat in Wallis UK bly en hier is ALMAL orgaanskenkers by default totdat jy die NHS (mediese raad) laat weet jy verkies om nie een te wees nie. Fantasties! Hoekom nie?!? Verstaan mense nie dat as jy sterf of iemand wat na aan jou sterf iets meer kan beteken met ‘n eenvoudige proses om hul organe te skenk (wat inelkgeval tot niet gaan) nie? Dis vir my een betekenis, onselfsugtige naasteliefde wat ‘n Christen mens behoort te eer. Ek lees daagliks online Suid Afrikaanse koerante en menigmale is daar hartverskeurende artikels van kinders wat sterf. En so lees ons vandag van ‘n klein dogtertjie wat sterf omdat daar geen skenkers vir haar is nie. Dis nie reg nie. Jammer as ek iemand ontstel, maar ek is trots om te sê ek is ‘n orgaanskenker.

Disa ·

Baie sterkte aan hierdie moedige gesinnetjie. Julle is in my gebede en al is julle harte dat en stukkend, weet net dat ons wonderlike Hemelse Vader julle styf is Sy arms vasklou. Danksy julle artikel het ek ook so pas geregistreer as ‘n orgaan skenker want dit is dit regte ding om te doen.

Francie van Rensburg ·

As 40+ jarige het ‘n uroloog vasgestel dat ek 3 volledige nierstelsels het; twee aan my linkerkant, terwyl die nier aan my regterkant groter(meer nierweefsel) as normaal is. My huisdokter het destyds genoem dat die verwydering van ‘n nier ‘n groot prosedure is, en my daarteen aanbeveel.
‘n Paar jaar later lees ek ‘n inspirerende artikel in ‘n tydskrif van ‘n vrou wat aan haar man ‘n nier geskenk het. Die sg sleutelgat-metode is gevolg, en sy het reeds binne die volgende paar dae kon inkopies doen met haar kinders. Sy het my die nodige name gegee en ek is na Johannesburg vir ‘n onderhoud. Ek kon hulle verseker dat my man en kinders weet van my voorneme, en die tydjie daarop die verskillende toetse ens. laat doen. Tydens my besoek daar kon ek die mense wat gereeld dialise kry gesien, en was baie opgewonde, op daardie stadium was daar 8 mense met my bloedgroep wat op skenkings gewag het. Nadat die nodige toetse gedoen is, is my geval na ‘n kommittee verwys. Binne ‘n week het ek gehoor dat my aanbod van die hand gewys is, omdat my motivering nie aanvaarbaar was nie. Ek het nie ‘n familielid, iemand uit ons vriendekring, omgewing of selfs rassegroep uitgesonder as ‘n ontvanger nie. Ek wou iemand help, afgesien van ouderdom, taal of bevolkingsgroep wou ek ‘n verskil maak. Tot vandag glo ek dat daar iemand is wat ek kon help, en dat ek nie toevallig ‘n ekstra nier het nie. My teleurstelling bly na al die tyd steeds moeilik om te verwerk, veral wanneer ek verhale soos hierdie lees. Die boodskap wat ek destyds gekry het was dat hulle na my dood graag my niere sal wil gebruik. Ek is steeds ‘n geregistreerde orgaanskenker.

Gerhard ·

Onder GEEN omstandighede sal ek enige van my organe skenk nie. As skenkers maar bewus is van hoe disrespekvol hul liggaame hanteer word sal hulle twee keer dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.