‘Sy het so amper haar lewe verloor, maar is vir ons gespaar’

Elmien Fourie (Foto: Facebook)

Die 20-jarige Elmien Fourie van Musina in Limpopo is Maandag uit die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal ontslaan nadat sy vroeër ná ʼn terugslag in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.

Manie, Elmien se pa, het Dinsdag aan Maroela Media vertel haar gesondheid is die beste nóg sedert sy om haar lewe begin veg het nadat sy tydens ʼn familiebesoek in Mpumalanga serebrale malaria opgedoen het.

Hy sê die dokters is baie positief oor haar herstel en glo dat die “volgende logiese skuif” huis toe sal wees.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir Elmien se herstel. Daar was tye toe ons baie bekommerd was, maar nou begin ons al hoe meer net fokus op huis toe gaan. Die dokters het besluit om ʼn suurstofpypie aan haar neus verbind te hou om haar deurlopend te help asemhaal, maar die pypie sal waarskynlik deur die loop van Dinsdag of Woensdag verwyder word,” sê hy.

Volgens hom het die dokters ook gesê die vog in haar longe het opgedroog nadat sy ʼn terugslag as gevolg daarvan gehad het. Sy sal waarskynlik ook nie permanente skade hê as gevolg van die malaria nie, maar dokters kan nie in dié stadium ʼn prognose maak nie.

Hy sê Elmien is opgewek en baie positief en dat haar gemoedtoestand ook baie verbeter het nadat sy na ʼn algemene saal geskuif is. “Sy het in ʼn stadium baie moedeloos geraak om net daar te lê, maar ons het geweet dat dit nodig is vir haar herstel. Haar gemoedtoestand het egter intussen baie verbeter. Sy kon Maandag vir die eerste keer vanjaar behoorlik bad en dit het haar ook wondere gedoen. Sy het self opgestaan en na die badkamer geloop en toe het ons net besef: Die einde van dié nagmerrie is nou so byna-byna in sig,” vertel hy.

Manie, wat intussen ook volkome herstel het nadat hy met ʼn minder ernstige vorm van malaria gediagnoseer is, sê hy en sy vrou, Natasja, is nog elke dag dankbaar dat Elmien se lewe gespaar is.

Elmien Fourie (Foto: Facebook)

“Toe sy aanvanklik in die Evander-hospitaal opgeneem is, het sy so amper haar lewe verloor, maar sy is vir ons gespaar. Die dokters was baie bekommerd en hulle was duidelik oor presies hóé ernstig siek sy is. Ons wou nie eers daaraan dink nie, die moontlikheid dat ons haar kon verloor het ons harte gebreek. Maar God se genade is groot en vandag is sy steeds hier saam met ons – en nou kan ons uitsien daarna om haar huis toe te neem.”

Hy sê Elmien is gretig om haar studie aan die Potchefstroom Akademie in Noordwes te hervat, maar dat die hulle eers sal moet kyk hoe sy aansterk wanneer sy wel tuis is. “Ons hoop dat sy kan terugkeer – sy mis dit geweldig en dis vir haar belangrik om verder te leer. Ons sal kyk watter medikasie sy gebruik en watter impak dit op haar algemene gesondheid gaan hê. Maar tot op dié punt was die Here vir ons baie goed; ons glo dat die pad vorentoe ook vir ons gelyk gemaak gaan word.”

Maroela Media het vroeër berig Manie, Natasja en Elmien was oor die feestyd in Kriel in Mpumalanga om by hul seun, Jaco, te kuier toe Elmien op Oujaarsdag in die Evander-staatshospitaal opgeneem is.

Haar gesondheidstoestand het teen ʼn vinnige pas versleg en mediese personeel het haar toestand as uiters kritiek beskryf. Manie is op Nuwejaarsdag ook met malaria gediagnoseer en in dieselfde hospitaal opgeneem. Pa en dogter is aanvanklik per ambulans na die Trichard MediClinic- private hospitaal in Secunda oorgeplaas en kort daarna na die Charlotte Maxeke-hospitaal.

ʼn Facebook-ondersteuningsgroep is intussen begin om familie, vriende en kennisse op die hoogte te hou. Vir meer inligting, besoek die Elmien Fourie Hulpfonds Facebook-blad.

Lees alle vorige berigte oor Elmien Fourie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Estelle ·

Dit is so lekker om goeie nuus te lees! Saam met julle dankbaar – prys God.

zunette du toit ·

Baie goeie nuus sterkte met jou herstel vorentoe.

Theresa B ·

Ek is baie bly dit gaan al so goed. Ons glo sy gaan heeltemal herstel. Sterkte.

Gesiggie ·

Baie bly dat jy so goed hestel het Elmien… sterkte met jou studies… mag als van nou af net vir jou beter gaan… als wat mooi is.

Hendrik ·

Welkom terug meisiekind en sterkte vir jou en naasbestaandes,dit moet gevier word

Mooi so ·

WOW FANTASTIES< baie bly sy is soveel beter. Baie dankie vir almal wat vir haar gebid het en geglo het dat sy sou herstel, ek is seker haar familie is in die wolke. GOEIE nuus dankie.

treurgrond ·

Goeie goeie nuus – ‘n ware vegter Elmien. Dankie Jesus.

PJC ·

Wat ń brokkie goeie nuus. Hoop die meisie gaan sommer gou gou huistoe en herstel volkome.

Anton ·

Prys die Here Jesus! So dankbaar dat jy beter is Elmien! Groete aan die familie uit die Kaap!

Will ·

Deel in julle dankbaarheid en bid steeds vir Elmien se volkome herstel. Sterkte!

christa ·

So Bly Vir Julle Dankie Here vir U goedheid oor haar lewe sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.