‘Sy is vir my gegee, daarom sal ek baklei tot die dood’

Danika Venter (Foto: Facebook)

Danika Venter (Foto: Facebook)

Behalwe vir die paar keer toe sy emosioneel gekwes uit pure frustrasie en intense seer haarself toegelaat het om te wonder waarom juis sý dié kruis moet dra, is daar ʼn soort vrede wat daagliks deel is van Natacha Venter se lewe.

Natacha, ʼn ma van Sasolburg, se dogtertjie, Danika, is maar ʼn raps ouer as een jaar, maar moes vroeg al leer om vir haarself te baklei.

Maar Natacha vra nie waarom nie, sê sy. Sy kyk ook nie na die toekoms en raak wanhopig nie. Nee, daarvoor is haar pligsbesef en haar liefde vir die klein mensie gans te groot.

Danika is in Oktober verlede jaar gebore met die sogenaamde chromosoom-6 afwyking. Dit verwys na ʼn toestand waar die DNS nie reg geheg het nie, en veroorsaak ʼn stormvloed van fisieke probleme.

Sy is boonop gebore met “rocker bottom”-voetjies, ʼn toestand wat gekenmerk word deur die hakskeen wat aan die enkel geheg is, ʼn gewas op die brein en die vlies op haar kleinbrein het nie reg ontwikkel nie en veroorsaak dat daar baie probleme met haar motoriese vaardighede is.

Sy het op vyf maande ook skoliose ontwikkel, ʼn toestand wat gekenmerk word deur ʼn abnormale laterale kromming van die ruggraat.

Danika Venter (Foto: Facebook)

Danika Venter (Foto: Facebook)

Ten spyte van haar dogtertjie se siektetoestand, verloor sy nie hoop nie. “Dis verskriklik. Wanneer ek ander mense vertel hoe siek sy regtig is, besef ek van voor hoe erg dit eintlik is. Sy is elke dag in pyn en dinge word nie beter nie. Maar ons baklei ons vuiste stukkend, elke liewe dag,” vertel sy.

Danika is op drie maande geopereer om die “rocker bottom”-voetjies reg te stel. Hoewel die operasie ʼn sukses was, moes die voetjies by twee afsonderlike geleenthede geopereer word omdat sy allergies is vir narkose.

Danika kan nie self regop sit of loop nie en sy kan ook nie praat nie. Sy sukkel om enige bewegings te maak en sien nou weekliks ʼn arbeidsterapeut om haar bewegings te oefen.

“Ons weet nie of sy ooit gaan praat, self kan opstaan of vir haarself kan dink nie. Wat ons wel weet is dat sy ʼn vegter is. Sy wil hier in die lewe wees en baklei hard daarvoor. Sy is daagliks in baie pyn, veral ook oor die skoliose wat haar lyf baie seer maak, maar sy bly baklei vir die lewe,” sê Natacha.

Die gewas op die eenjarige se brein was in Oktober vanjaar ook ná drie MRI-skanderings steeds dieselfde grootte. Hoewel die gesin ook nie Danika se toekomspad kan voorspel nie, wil dokters nou opereer om die skoliose te verbeter en haar pyn te verlig.

“Die dokters wou eers nie opereer nie, maar die kurwe is nou al 60˚. Die dokters het gesê hulle wil binne vier maande opereer, en die kans dat sy minder pyn sal hê is groot.”

Danika Venter (Foto: Facebook)

Danika Venter (Foto: Facebook)

Sy sal twee stutte moet kry ná die operasie – ʼn “nagstut” vir wanneer sy moet slaap, en ʼn ander stut in die vorm van ʼn stoel sodat die groeiproses voortgesit kan word terwyl sy herstel. Albei stutte saam kos meer as R100 000, terwyl die mediese fonds reeds aangedui het hy sal slegs R2 200 daarvan dek.

“Ons dokter het ʼn hele motivering geskryf, maar steeds het hulle volgehou hulle betaal net R2 200. Die medies het ook gesê my “gap”-verserking gaan dit nie betaal nie, omdat sy daarvoor heeltyd gehospitaliseer moet wees om die koste te dek. Daarom vra ons nou mense om hulle harte oop te maak en te help waar hulle kan. As sy minder pyn het, is dit ʼn stap in die regte rigting.”

Venter sê ten spyte van dié siektetoestand staan sy elke dag vol hoop vir Danika op. “Sy is vir my gegee. Dit is my verantwoordelikheid om na haar om te sien en haar te versorg. Ek kan nie net terugsit en kyk hoe sy seer het en aand ná aand haarself hees huil van die seer nie. Hoe kan ek selfsugtig wees en vra ‘hoekom ek?’ Ek sal baklei tot die dood toe, selfs al is dit die laaste ding wat ek doen.

“Sy is my kind en ek het al vrede gemaak met die feit dat dinge soms skeefloop. Soms kyk sy in my oë en glimlag, en dan wil ek bars van trots en liefde. Daarom baklei ek, want sy is myne en sy verdien om hier te wees,” voeg sy by.

As jy meer inligting soos rekeningbesonderhede wil hê of meer oor Danika wil lees, besoek Fairytale for Danika op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Jane ·

Foeitog my liewe mens. Jy is ‘n brawe mamma, dank die Here vir mense soos jy. Dankie dat jy soveel omgee en haar die beste lewe probeer gee. Hoop net julle kry genoeg geld ingesamel om haar stutte te koop. Sys gelukkig om jou in haar lewe te hê. Alles van die beste.

Sonneblom ·

Ek wil graag ‘n donasie maak, maar is nie op facebook nie. Hoe kan ek die bank besonderhede bekom?

Ronel ·

Kan Maroela ons dalk help met bankbesonderhede asb? Ek is ook nie op facebook nie

Anoniem ·

Mediese fonds is n grap…. maar ongelukkig kan n mens nie jou vertroue op staats hospitale plaas nie.
Jou dogtertjie is pragtig en sy kan gelukkig wees om so n sterk mamma te he. Wens julle baie sterkte toe

Susan ·

Ai hoekom moet daar tog soveel pyn en swaarkry wees? En hoekom kan ons nie mediese fondse hê wat bereid is om die ekstra myl te loop nie? Foeitog, ek voel so jammer vir hierdie mamma. Moed hou kind.

Natacha ·

Goeie middag.
Danika se banke sonder rede is asvolg
Rek houer”: D. Vorster
Bank: Standard bank
Rek nr: 028317157
Sasolburg.
Baie dankie vir almal se bydrae, dis n lang pad om te stap. Dit word opreg waardeer.

Ronel ·

Dankie Natacha. Baie sterkte vir julle! Ek kan nie baie bydra nie, maar help graag.

MissDemeanor ·

Dis tragies. Hierdie dogtertjie is haar hele lewe lank al in pyn en al wat vir haar voorle is pyn. Ek het ook n dogtertjie, ek het haar lief met my hele hart. As sy elke dag in pyn was dan sou ek haar help om nooitweer pyn te he nie.

snoepie ·

die mediesefondse kan gou hulle skouers optrek en “as per government decree” voorgooi. maar vigs medikasie en volwasse grote doeke word 100% gedek. die kindjie se probleme is nie self opgele nie. ook nie hioertensie, diabetes, hartsiektes nie. tog le hulle “as per government decree” dik aan vir enige ander siekte as vigs. doen die medueselui, mediesefondse, opposissie partye, afriforum of Solidariteit iets aan hierdie WANPRAKTYK? o nee. almal betaal maar die kortvalle om vigs medikasie te befonds

Mellie ·

Mense kom ons help!! Maak nie saak hoe groot of klein die bedrag nie, elke sent maak n verskil. Versprei ook onder familie en vriende – ons kan almal n verskil maak!! Sterkte moedige Natascha en Danika.

Mel ·

Sterkte Natacha, dis ‘n vreeslike hartroerende storie, jy is een van die min ouers wat so braaf is, jou dogtertjie is pragtig en mag God jou bo jou verwagtinge seën

Fiefie ·

Natacha, ek kyk op na jou in verwondering. Dankie dat jy so hard veg vir jou kind. As ek in jou skoene was weet ek nie wat ek sou doen nie, maar vir jou om by te staan en jy kan niks vir haar doen nie, moet vreeslik wees. Ek gaan wanneer ek my bonus kry vir julle geld oorbetaal. Dit gaan nie baie wees nie, maar elke bietjie help. My hart gaan uit na jou en jou pragtige kind! Sterk staan liewe mens

Claudette ·

Nomineer haar by Good morning Angels op Jakaranda. Sterkte mamma

Jaco Grobler ·

Sjoe, julle is darem maar twee ysters hoor! Ek gaan bid vir julle, die Vader sal besorg.

Zella ·

God het geweet jy as mamma sal sterk wees en baie liefde vir die dogtertjie gee… Sterkte, my bydrae is nie baie nie maar ek weet elke bietjie help… julle is in my gebede..

sarie van heerden ·

Mediese koste aan skema’s word in ‘n mate gedek behalwe dat bydraes ook gaan aan siektetoestande waarvoor ek as amper 78jarige gladnie bedreig word nie. Hoekom moet ek bydra tot iemand anders se onverantwoordelike lewenswyse om vigs te kry ook verantwoordelik wees? Gee mediese fonds lede die keuse of vigs in hul portefeulje ingereken moet word anders word “onskuldige” mense nou geteiken om vir ander te betaal. Of anders, stel mense bo 60 heeltemal vry van die onnodige bydrae tot die siektetoestand. Die wat wil kattemaai moet vir hulself betaal as die paw-paw die “fan strike”.

Natacha ·

Vreeslik baie dankie vir almal se gebede, bydrae en raad.

chris ·

gee net 1 kers geskenk prys en skenk daai geld vir 2 sulke voortreklike mense beskikbaar

alle sterke vir die meder en kind ons bid vir julle

Bankbesonderhede ·

CHECK ASB Die bankbesonderhede, ek is ook by Standardbank en my nommer is een syfer langer. Jammer as dit klink soos kritiek, wil net seker maak die geld kom by haar uit.

Leatitia ·

Hi die nommer is reg…..ons het nou weer gaan kyk. ;-) Groete Leatitia

Laatweetnet ·

Bankbesonderhede…..nee ek ook by Standard bank die rek nr het net 9 nommers.

Olga ·

ai ek is in trane!

glo my as ek ‘n dokter was, sou ek sulke kleine lyfies wou help en geld sou nie eers ‘n bekommernis gewees het nie. my hart breuk hier…… Mamma reel ‘n golf dag ens en samel so geldjies ook in.

Shimoney Aberg ·

Julle is sulke sterk ouers Natacha en Nico en God het hierdie wonderwerkie vir julle gegee en Hy sal julle nie alleen los nie. ❤ Julle het baie mense wat omgee en altyd bereid is om te help. Hulp sal kom, hou hoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.