‘Sy sal nié net ’n statistiek word nie’

Die laaste foto wat van Heila Kilian geneem is. Dié foto is die oggend van 16 April geneem, ure voordat sy vermoor is. Foto: Verskaf

Hein Killian van Springs in Gauteng het homself belowe dat sy vrou met die vlamrooi hare en die sprankelende glimlag nie net nog een van die misdaadstatistiek in hierdie land sal word nie.

“Die afgelope jaar was ʼn tragiese jaar met baie laagtepunte. In hierdie jaar moes ek baie tyd, moeite en geld insit om seker te maak dat die skuldiges agter tralies sit. Ek het aan almal se deur geklop om my te help. Ons gáán haar onthou,” sê Hein, ʼn oudpolisieman.

Vandeesweek was dit presies ’n jaar sedert sy geliefde vrou tydens ʼn plaasaanval buite Stilbaai in die Wes-Kaap doodgeskiet is toe sy vir familie op die plaas gaan kuier het.

Hoewel al vyf verdagtes van daardie nag in die maande na die moord in hegtenis geneem is, bring dit steeds nie afsluiting aan dié tragedie nie, glo Hein.

Maroela Media het destyds berig Heila (63) het by haar suster, Brenda, en Brenda se man, David, op hul plaas buite Stilbaai gaan kuier. Dit was die tweede dag van haar kuier op die plaas wat veronderstel was om ʼn rustige week saam met familie te wees.

Daardie aand het Heila, Brenda, David en Sean, wat ook op die plaas bly, rustig buite die huis om die braaivleisvuur gekuier. Hulle het Christelike musiek geluister en saam gesing in die koel aandlug om die knetterende braaivleisvuur. En dit is toe dat die skoot skielik uit die donker klap. Heila het onmiddellik gesterf. Die ander is erg aangerand voordat die verdagtes laat spaander het.

Hein en Heila Killian. Foto: Verskaf

“Die manier waarop sy dood is, is dit wat my die ergste vang. As dit ʼn ongeluk of siekte was, sou ek haar dood meer verstaan, maar dié manier is onaanvaarbaar. Ons bly nie eers op ʼn plaas nie, sy het net op ’n plaas gaan kuier,” sê ’n gebroke Hein.

“Ek dra ʼn wrok in my. Die feit dat ek ’n oudpolisieman is, maak dit soveel erger. Ek het nog altyd toegesien dat mense rustig slaap en hier gebeur dit met een van my mense. My enigste troos is dat sy dadelik weg was. Hulle het nie aan haar geraak nie. Sy het nie eers geweet sy is weg nie.”

Hein was ten tyde van die plaasaanval by die egpaar se huis in Springs en kan die oproep wat sy lewe op sy kop kom draai het goed onthou. “Dit is ʼn onwerklike skok wat jy nie vir iemand kan beskryf nie.”

Hein het met Maroela Media gesels oor die aanpassing om die lewe sonder sy lewensmaat van 44 jaar aan te durf. Dié egpaar het mekaar van hulle kinderdae af geken en het vier kinders en sewe kleinkinders saam.

“Dit is ʼn verskriklike aanpassing. Sy was die anker in ons lewe. My lewe sal nooit weer wees wat dit was nie.” Hy woon steeds in dieselfde huis en vertel dat dit veral in die aande en oor naweke is wat die leemte van Heila hom vang.

Hein en Heila Killian. Foto: Verskaf

“Daar is nie ʼn manier wat jy dié ding kan verwerk nie. Mense kan sê dit word beter maar dit doen nie.  Die herinneringe aan haar maak dit nie beter nie, dit maak dit erger. Ek mis al die goeie dinge. Sy was een van daardie uitsonderlike mense.”

Hein bly vir ʼn oomblik stil voor hy weer praat. “Weet jy wat is verskriklik? Dat hierdie ding met ander mense ook gebeur.  Ons is nie die uitsondering nie. In hierdie land is jy ʼn teiken en niemand sê niks daaroor nie. Vir die regering is dit net nog ʼn moord.”

Hein vertel dat Heila, wat ure voor haar dood nog afgeneem was waar sy aan ʼn koppie tee teug, nié verdien het wat met haar gebeur het nie. “Sy was een van die mooiste vrouens wat daar was, binne en buite,” onthou Hein.

Die vyf verdagtes in die moordsaak is steeds in aanhouding. Die saak het egter nog nie in die hof voorgekom nie aangesien daar nog uitstaande bewyse is.

Die saak sal na verwagting deur die loop van die jaar in Swellendam aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Strand looper ·

My hart gaan uit na jou. Ek is nou 34 jaar getroud en is geseend met n lieflike vroutjie en 3 kinders. Om jou leewens maat so te verloor is tragies verby.

Hoe lank moet ons net toe kyk hoe die satan gespuis ons mense uitmoor vir niks. Plaasmoorde is aan die orde van die dag en nie eers meer nuus waardig nie dan praat ek nie van ons “dier”bare regeering nie.

Staan op mense en dryf satan en sy gespuis in die see

Gerhard ·

Baie sterkte, Hein, vir die verwerking van hierdie verskriklike trauma.

En Essie… Moenie pleit vir die doodstraf nie. Dink mooi na waarvoor jy vra! Dink na of die doodstraf in SA regverdig toegepas sal word. Dink na of dit net op sommige toegepas sal word. En dink daaraan: daar is, skat ek, 58 moorde per dag. As bv. net twee van hulle op teregstellings uitloop, beteken dit twee teregstellings per dag, elke dag. Is dit volhoubaar? Ek wil pleit dat ons mense nugter en helderdenkend sal wees in hierdie donker tye waarin ons leef. Laat ons aandring op die regte dinge (soos verbeterde polisiëring en ‘n doeltreffende regstelsel), nie vir nonsies nie.

Genoeg ·

Hein, ek kan net vir jou bid vir krag, genade en genesing vir daardie ongelooflike seer wond in jou hart. 44 jaar is ‘n leeftyd en my ou Moedertjie het na my Vader se heengaan gesê dat die verlange en die onthou net meer raak en nooit weggaan nie. Sterkte Hein en onthou jy is nooit alleen nie, want Jesus is elke oomblik by jou.

Ria Maritz ·

Hein ek is die laaste persoon wat jou sal veroordeel omdat jy wrok in jou hart dra. Baie sterkte vir al jul geliefdes.

John ·

Hi Hein
My pa is die 1 Maart 2019 voor sy huis geskiet hy was 72 jaar oud. Hy was 30 dae in icu en toe het hy gesterf. Hy en my ma was hierdie jaar 51 jaar getroud. Die man het hom drie keer geskiet en sy kar gevat en weg gery. Ek het nie woorde vir jou nie maar die seer kan n mens nie beskryf nie. Om die hartseer in my ma se oe te sien laat my elke aand bietjie huil. Haar lewens maat is ook vermoor. Hulle is aangeval by die huis.

Anoniem ·

Hein ek glo nie jy is die enigste met n wrok in jou nie. Ek het nie n geliefde aan die dood afgestaan deur geweld nie maar glo my vir elke afrikaner wat vermoor word, skeur daar n stuk van die liefde wat ek vir hierdie land gehad het uit my uit. Ek kan nie weghardloop nie want ek wil nie. Hier in S A sal hulle my begrawe. Die moordenaars, wreedaards wat dit doen gaan nie my vreugde ontneem maar daar gaan n dag kom wanneer die afrikaner bul in die hoek vasgekeer word en dan gaan alle hel losbars. Ek sal deel wees van daardie hel al is dit net om te wys dat die afrikaner nie gaan le nie.

Wereld ·

Laat die wereld weet en laat ons steun vir reg en geregtigheid kry. Dis tyd om die kommuniste en kriminele op hulle plek te sit.

Jerry ·

In die lewe het boosheid geen ontsag vir lewe, in die hiernamaals het die koningkryk van die hemele geen ontsag vir boosheid, daarom moet ons bid, “vergewe ons ons skulde net soos ons ook ons skuldenaars vergewe en lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose, want aan U behoort die koningkryk, die krag en die heerlikheid, tot in alle ewigheid! Wanneer ons as gelowiges nie die lewe en die dood verstaan nie, dan moet ons maak soos die Skrif vir ons se, ons moet glo!

Klopjag ·

My innige simpatie met die groot verlies.

Ek is dankbaar dat al my grootouers almal van natuurlike oorsake oorlede is. Ek is nog in SA maar het seker gemaak dat my ouers landuit is.

Dit is ‘n verskriklike situasie waarin ons onsself bevind, maar baie van ons besef nie die gewig daarvan tot jy self of iemand naby aan jou ‘n slagoffer word nie.

Clipper ·

‘n Jaar later en die saak is nie eens in die hof nie. Die regstelsel is ook in sy kanon in. Hoe moet mens aanvaarding hê as dit so lank vat om geregtigheid te kry. My hart gaan uit na die familie en man van nog n pragmens wst verlore is.

Wendell Myburgh ·

Ek sit in dieselfde bootjie. My vrou van 37 jaar is in Junie 2016 in Witrivier gekaap en vermoor. Almal se vergewe en gaan voort, maar dis nie hulle wat alleen met hul lewe moet aangaan nie. Die moeilik, glo my. Hulle se tyd heel wonde maar om te vergewe? Ek weet nie so mooi nie. Dit word net makliker om aan al die lekker tye saam te dink. Hartseer sal ek altyd wees. Vir my is dit net aangaan van dag tot dag. En na 3 jaar is ons hofsaak ook nie verby nie. Hopelik die jaar. Met die Heer se genade.

Marinda ·

Hein, sterkte.
Daars niks wat enige iemand vir jou kan sê om die seer beter te maak nie. Tyd sal leer.

Petro ·

Ek is so jammer vir jou oom Hein ? ek hoop oom kry berusting by ons Here xx

Nel ·

My innige simpatie , maar dis Paasfees. Christus het die dood oorwin al dink die moordenaars hulle het hul duiwelsgedrewe drange bevredig, – daar’s lewe na die dood . Dit moet ons vertroosting wees.

Weet van ·

Ek weet min of meer hoe jy voel. My pa het my groot gemaak want my ma is vroeg in my lewe oorlede aan kanker. My pa is dood geskiet in n plaas moord. Hy was my alles. Maar n wrok en onvergewins gesindheid vergiftig jou lewe en elke faset daarvan. God het gesien en hulle vergelding en straf kom nog. Ek weet ek was daar dat elkeen wat jy sien jou siek maak op jou maag maar dit bring nie jou geliefde terug nie. Baie sterkte vir die pad vorentoe! Hou vas aan God!

Amanda ·

My skoonpa is op 1 Maart deur n monster geskiet die oggend in sy oprit by die huis. Hy het vir 30 dae moedig geveg om sy lewe in die hospitaal, maar is op 30 Maart oorlede. So sinnelose, wrede manier is hy uit ons lewens geruk. N Mens kan nie die pyn en leemte beskryf nie.

Anita ·

Dit was ‘n grusame dood….dagvaar die ANC Regering, dagvaar die min. van Polisie. Dit sal haar nie terug bring nie, maar miskien as almal in dieselfde omstandighede dit doen sal daar miskien ‘n rukwind plaas vind. Ek voel jou pyn, ek het ook ‘n geliefde op normale wyse aan die dood afgegee, die pyn bly , die herinneringe bly, en die alleen wees bly. Sterkte vir jou maar doen die dagvaarding en as die skuliges hof toe gaan …lewenslank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.