‘Sy was so lief vir buite speel’

Natasha Potgieter

Natasha Potgieter

Natasha Potgieter, die sesjarige meisie van Ladybrand wat Sondag vermis geraak het en wie se liggaam Maandagoggend in ʼn swembad naby haar huis gevind is, word Vrydag begrawe.

Maroela Media het vroeër berig Natasha het Sondag by ʼn maatjie gaan speel en glo alleen teruggestap na haar ouerhuis toe, toe sy verdwyn het. Gemeenskapslede en die polisie het onmiddellik na haar begin soek.

Volgens kapt. Phumelelo Dhlamini, woordvoerder van die polisie, is Natasha se liggaam omstreeks 09:00 Maandag deur die eienaars van die huis gevind waar sy verdrink het. Hy het gesê die huis is sowat twee huise van Natasha se ouerhuis af.

Jaco Potgieter, Natasha se pa, het aan Maroela Media gesê sy dogtertjie word uit die NG kerk Ladybrand-Noord begrawe en dat die publiek welkom is om dit by te woon.

“Natasha het drie boeties, twee jonger en een ouer. Veral die ouer een, JJ, mis haar baie, hy vra heeltyd waar sy is,” het Potgieter gesê. “Dit gaan maar baie swaar met my en Joanie (Natasha se ma) in die omstandighede.”

Volgens Potgieter was Natasha baie lief daarvoor om buite te speel en vir haar maatjies. “Sy was mal oor skool toe gaan, en sy was slim, hoor! Sy het al die kleure self geleer, ons hoef haar nie eens te geleer het nie. Sy was skaars een toe kon sy al loop.”

Tania Halse, wyksraadslid, het intussen op Facebook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om nie te bespiegel of kritiek te lewer oor die omstandighede rondom Natasha se dood nie. “Julle het almal so trots gemaak met julle pogings om na haar te soek, moet nou nie afbreuk daaraan doen nie. Kom ons ondersteun eerder die gesin in hulle uur van nood.”

Dhlamini het Donderdag aan Maroela Media gesê die polisie is steeds besig met die geregtelike doodsondersoek. “Die ondersoek sal dit duidelik maak of daar vuilspel vermoed word of nie. Ons kan nie in die stadium enigiets daaroor sê nie.”

Natasha het verlede maand haar sesde verjaardag gevier. Sy was ʼn gr. R-leerder by Bokmakierie-kleuterskool by die Ladybrand Primêre Skool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christine ·

Ai dit is altyd hartverskeurend om te lees van die verlies van ‘n kindjie, maak nie saak op hoe wyse nie. Ek bid net dat ons Liewe Jesus julle styf sal vashou in hierdie hartseer tyd. Met oe vol trane wens ek julle , Jaco en Natasha en die 2 boeties en familie baie sterkte toe .

Baie baie sterkte ·

Liewe Jaco & Joanie en natuurlik 3 boeties, baie sterkte, mag jul die liefde en ondersteuning voel in hierdie moeilike tyd. Luister en leef met positiewe nie oordelende mense en hul skrywes, hierdie hartseer kan enige gesin oorkom. Hierdie klein dogtertjie het voluit geleef in haar 6 jaartjies, ‘n goeie voorbeeld vir ons almal. Leer en leef soveel as moontlik, rus in vrede pragtige pop.

antjie ·

Die Here kom haal Sy kinders…gelukkig vir hulle, want hulle sal nie die wreedheid wat hier op aarde besig is om te gebeur, ervaar nie hulle sit veilig in ons Vader se arms.

me ·

Baie liefde vir die gesin en boeties met die groot verlies. Aan Tania Halse – dit is goed en wel om te vra dat die publiek nie moet bespiegel oor wat gebeur het, dit is egter ook ‘n geleentheid aan huiseienaars met swembaddens om te kan leer uit die hartseer ervaring dat ‘n lewenslustige kindjie sonder jou medewete in jou swembad wat nie omhein is nie kan verdrink. Een manier om te verhoed dat mense sal bespiegel is om feite te deel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.