Sybokhaar-uitvoerskrik verby; wol bied steeds kommer

(Argieffoto ter illustrasie.)

Chinese regeringsamptenare het verlede week die sybokhaarbedryf ingelig dat sy produkte nie meer in China welkom is nie. Dit volg op die verbod wat dié land verlede maand op Suid-Afrikaanse diereprodukte soos wol ingestel het, weens die verspreiding van bek-en-klouseer buite die beheergebied.

Pierre van der Vyver, hoofbestuurder van House of Fibre, het by navraag aan Maroela Media verduidelik dit was ʼn misverstand en dat die verbod intussen gelukkig weer opgehef is.

“Die haar word in Suid-Afrika verwerk en aan hitte- en wasprosesse onderwerp wat potensiële siektes doodmaak. Daarom is ons sybokhaarprodukte veilig vir China, wat ʼn groot persentasie van Suid-Afrikaanse sybokhaar koop,” sê hy.

“Maar die tydsberekening was uiters swak. Die verbod is kort voor die jongste veiling aangekondig en boere het met onsekerheid hul haar na die veiling gebring. Hoewel die wisselkoers in ons guns was, het die markaanwyser met 3% geval nadat dit tydens die vorige veilings mooi geklim het.

Volgens Van der Vyver het House of Fibre en BKB toe besluit om die kopers ʼn maand, in plaas van ʼn week, uitstel op betaling te gee. “Boere sal dan eers op 24 Mei betaal word en ons as die veilingsmakelaars sal dan die ander twee weke se kostes van ongeveer R100 000 per week dra.

“Gelukkig is ons nou aan die einde van die seisoen en die haar wat nou gekoop word, gaan eers deur ʼn drie maande verweringsproses voordat dit op die skip gelaai word.”

Hoewel sake na verwagting binnekort weer vlot vir sybokhaarboere sal verloop, veroorsaak die Covid-19-inperkings in China en die beperkte aktiwiteite in die Sjanghai-hawe ʼn probleem vir Suid-Afrikaanse verwerkers, wat reeds kontantvloeiprobleme ondervind.

Isak Staats, BKB se bestuurder van wol en sybokhaar, het aan Maroela Media gesê dat plaaslike verwerkers nie betaling kry as hul produkte nie aan daardie kant afgelewer word nie.

Hy sê daar is moontlik aan die einde van die tonnel. “In informele gesprekke met die kopers in China kom dit na vore dat die inperkingsmaatreëls in die binneland binnekort verslap gaan word.

Kommunale wolboere in die knyp

Wolboere is egter nie so gelukkig nie. Wolverwerking is ʼn hoogs gespesialiseerde en volume-gedrewe bedryf en vind deesdae uitsluitlik in China plaas. Wol word dus in rou formaat uitgevoer en dier wol wat sedert verlede maand China toe sou gaan, moes weens die bek-en-klouseer verspreiding na ander lande gestuur word.

“Ons kommersiële wolboere se wol is baie gesog in Europa omdat dit besondere eienskappe het, van hoë gehalte is en aan hul gesofistikeerde behoeftes soos etiese boerderypraktyke en groen landbou- vereistes voldoen,” sê Staats. “Met dié dat China al ons wolinvoere gestop het, kan ons gelukkig al daardie wol Europa kanaliseer.”

Europa neem nou 60% van Suid-Afrikaanse wol, waar hulle voorheen 30% geneem het.

Volgens Staats het ons kommunale wolboere egter ʼn probleem. “Omdat hul wol uit verskillende lengtes en gehalte bestaan, is dit net die Chinese wat hul wol kan verwerk. Die 4 000 tot 5 000 bale wol wat daarheen sou gaan, word nou in ons pakskure opgeberg.”

Hy sê dit beteken egter dat Suid-Afrikaanse wol 5% tot 6% goedkoper as Australië sʼn verhandel en hoewel die verswakte rand die verskil verbloem het, kon dit beter gegaan het.

“Gelukkig is die wolskeerseisoen nou verby, maar ons gaan groot probleme optel as die nuwe seisoen in Augustus begin en die kommunale boere teen September begin lewer en die verbod nog nie opgehef is nie.”

Hy sê die bedryf is egter nou besig om aktief nuwe markte te ontgin.

In haar begrotingstoespraak verlede week het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aangevoer dat haar departement tans besig is om die ekonomiese impak van bek-en-klouseer die hoof te bied. “Ons het die owerhede in China gekontak oor die heropening van uitvoere van ons wol, want ons glo die huidige stelsel wat in die wolbedryf gebruik word bied toepaslike beskerming wat vereis word vir internasionale handel,” sê sy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.