Sylvester se lot bekend

Sylvester voordat hy vir die tweede keer ontsnap het. Foto: Verskaf

Sylvester voordat hy vir die tweede keer ontsnap het. Foto: Verskaf

Die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes het Dinsdag gesê hy het ʼn besluit geneem oor die toekoms van Sylvester, die park se rondloperleeu wat verlede maand vir ʼn tweede keer uit die park ontsnap het.

Die park het in ʼn verklaring gesê Sylvester sal in die Addo-olifantpark in die Oos-Kaap hervestig word. Hy sal daar in ʼn kamp van 200 ha in die Kuzuko-gedeelte van die park geplaas word waar hy sal aansluit by twee jong leeuwyfies wat reeds in die kamp is. Die twee leeuwyfies is as welpies uit die Addo-hoofkamp gered nadat hul ma verlede jaar deur ʼn slang gebyt is.

Fundisile Mketeni, hoof van SANParke, het gesê Sylvester is op driejarige ouderdom nog jonk genoeg om ʼn band met die leeuwyfies te vorm en hom uiteindelik as die hoof van ʼn trop te vestig. Sodra die groep hul natuurlike sosiale dinamiek gevestig het, sal die drie leeus in die 60 000 ha hoofgedeelte van die park vrygelaat word waar hulle vrylopend kan wees.

“Daar is altyd ʼn risiko dat die leeu [Sylvester] weer kan ontsnap, maar die risiko sal tot ʼn groot mate verminder word deur enige moontlike konflik met ander mannetjies te vermy deur hom eers in die kleiner kamp te plaas en hom sodoende toe te laat om homself as die dominante mannetjie te vestig,” het Mketeni verduidelik. Hy het ook gesê die park het ʼn aansienlike hoeveelheid prooi en slegs een ander groep ouer leeumannetjies. Daarom sal Sylvester nie onder druk wees om te probeer ontsnap nie.

Sylvester is op 31 Maart ná vier dae op vrye voet opgespoor en gevang en teruggeneem na die Karoo Nasionale Park. Die park het toe gesê dat verskeie opsies oor Sylvester se toekoms oorweeg sal word, insluitend om hom moontlik van kant te maak indien dit in sy beste belang is.

Mketeni het Dinsdag gesê hulle is verbind tot natuurbewaring en het die besluit gemaak omdat dit in die beste belang vir Sylvester en die natuur is. “Ons wil lede van die publiek bedank vir hul belangstelling in hierdie leeu en hulle volgehoue belangstelling in natuurbewaring in die algemeen. Ons het aanvanklik gepoog om op elke boodskap te reageer wat ons van die publiek ontvang het, maar moes uiteindelik handdoek ingooi vanweë die reuse-hoeveelheid boodskappe wat aan ons gestuur is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Loeis ·

En dankie aan Maroela Media wat ons op hoogte doen oor hierdie leeu se lot – doen so voort asseblief!

Cherokee ·

Een is genoeg om hom op sy plek te hou… wat nog van twee!

Monica ·

Ek stem saam hy is so mooi hoord in die natuur as hulle in die eerste plek die draade reg gemaak het sou hy nie onsnap het, hoor hoor beste nuus,.dink net wat se mooi welpies sal daar gebore word.

Karolis ·

Verdomde leeu, ek was vir twee weke in die dogbox by die oumies oor ek gesê het hulle moet jou maar skiet.
Maar toemaar, ek ken van die Addo manne, jy gaan nog die leeuloop doen daar.
En dan gaan ek weer lekker lag vir jou, vabond.

Veritas ·

En sy straf, vir die weglopery, moet hy nou twee vrouens onderhou en hul nonsens opvreet. Dít sal hom leer, hy wou mos. Moenie verbaas wees as hy oor sowat 6 maande weer ontsnap nie.

NET EKKE ·

wow stunning nuus hy sal nie weer wegloop nie dit sal n handvol vat om 2 vrouens gelukkig te hou en hy kan ok gelukkig wees want in hul kultuur as die man praat moet die vrou luister en so is dit ook dat die wyfies die kos op die tafel moet sit so Sylvester voorspoed en mag jy nou n tevrede leeutjie wees

wynand ·

Groot is my vreugde!
En hulle wou hom eers uitsit!!! kan jy glo!!

Maria van Dieweeck ·

My hart klop tjoklits Sylvester , geniet jou mooi, wilde lewe en moet nou nie weer die koerante haal met wegloop stories nie! Dankie vir die goeie nuus Maroela!

Marietjie ·

Die berig is voorwaar baie goeie nuus en die kommentaar vanoggend plak sommer `n groot glimlag op my gesig. Dit is verblydend om te sien hoe ons mense omgee vir Sylvester en sy lot en julle almal se kommentaar het sommer my dag gemaak. Hoop vir almal hier `n baie gesëende dag vandag en net my beste wense vergesel Sylvester op sy nuwe pad van avontuur en romanse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.