Sylvester weer aangekeer

Sylvester voordat hy Maandag ontsnap het. Foto: Verskaf

Sylvester voordat hy Maandag ontsnap het. Foto: Verskaf

Sylvester, die jong rondloperleeu wat Maandag vir die tweede keer uit die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes ontsnap het, is Donderdagmiddag ná vier dae op vrye voet weer opgespoor en gevang.

SANParke het in ʼn verklaring gesê Sylvester is vanuit ʼn helikopter hoog op in die Nuweveldberge opgespoor en uit die lug met ʼn verdowingsmiddel geskiet.

“Die soekgeselskap is tans op die toneel saam met ʼn veearts,” het Wanda Mkutshulwa, SANParke se uitvoerende hoof van korporatiewe dienste, gesê.

“Die terrein maak dit moeilik om hom terug te vervoer. Hy sal vir sowat 3 km te voet op ʼn draagbaar gedra word na waar ʼn voertuig hom sal oplaai en terugneem na die reservaat.”

Sylvester sal vir ʼn ruk lank in afsondering in ʼn spesiale kamp gehou word vir waarneming en terwyl daar oor sy toekoms besluit word.

Een van vyf opsies wag op Sylvester:

* Hy kan teruggeneem word na die Karoo Nasionale Park, met die heinings wat versterk word.
* Hy kan hervestig word in ’n ander nasionale park.
* Hy kan geskenk word aan ’n ander staatsbeheerde bewaringsgroep.
* Hy kan geskenk word aan ’n private bewaringsgroep.
* Hy kan van kant gemaak word indien hy ʼn gevaar vir mense inhou.

Fundisile Mketeni, SANParke se uitvoerende hoof, het die soekgeselskap geloof vir hul harde werk wat hulle in moeilike weerstoestande gedoen het. Hy het ook lede van die publiek bedank vir hul besorgdheid, ondersteuning en geduld tydens die soektog. “Ons wil die publiek verseker dat die besluit oor sy lot in die dier en natuurbewaring se beste belang sal wees,” het Mketeni gesê.

Maroela Media het vroeër berig nuus dat Sylvester moontlik van kant gemaak gaan word, het hewige reaksie op sosiale media ontlok.

Talle mense het met #SaveSylvester op Twitter hul misnoeë oor die besluit uitgespreek en dié hutssleutel was Woensdagoggend een van die gewildste onderwerpe.

Verskeie reservate en wildplase het aangebied om vir Sylvester ʼn nuwe heenkome te bied.

Sylvester, die naam wat boere in die omgewing vir hom gegee het ná sy eerste ontsnapping op 5 Junie verlede jaar, het Maandag vermoedelik weer op dieselfde manier ontsnap.

Sylvester, toe drie jaar oud, se vorige soektog en versekeringseise van al die prooi wat hy tydens sy 25 dae op vrye voet verorber het, het SANParke R800 000 uit die sak gejaag. Hy het toe jag gemaak op soveel as 26 skape, ʼn koei en ʼn koedoe.

Hy is uiteindelik op 29 Junie omstreeks 17:00 ook in die Nuweveldberge aangekeer.

Onlangse swaar reënval het veroorsaak dat grond onder die heining weggespoel het en hy het weer deur ʼn gat onder die heining gekruip. Hy het teen Dinsdag reeds een koei op ʼn plaas gevang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

wynand ·

Dankie tog dat hy gered gaan word!!!! En veilig aangekeer is!.

Helene ·

Ek hoop regtig dat Sylvester OK gaan wees. Wat hulle sê en gaan doen, sal ons maar moet sien. Ek hou duimvas Sylvester dat jy na ‘n veilige plek geneem sal word!!

Theresa ·

Raait. Daar staan dit mos. Grond weggespoel en hy het weer ontsnap onder drade deur. KNAP DIE PLEK OP – dan eers kan daar gepraat word van werklik omgee vir die diere in die park. Mensig! Dis ‘n leeu. Dis koning van die diereryk. Slim en natuurlik gaan hy die mak goedjies loop soek om te eet! Span ordentlik toe. Spaar sy lewe – eintlik doen hy absoluut niks verkeerd nie. Hy was mos nie geleer om die skapies en bokkies uit te los nie (ook nie iemand op ‘n fiets wat groot pret sal veroorsaak nie). Nee. Doen die nodige onderhoud en herstelwerk en red hierdie pragstuk se lewe. Anders moet niemand ooit weer ‘n woord rep oor ander leeus wat geskiet word nie…

Karma ·

@Theresa:

Raait, kom ons help SANParke nou – as daar een in jou omgewing is gaan besoek die park gereeld en betaal die toegangsgelde met ‘n “smile”. Of as jy weer so lekker in die Wes-Kaap kom kuier: ons het die volgende parke:

Agulhas Nasionale Park, Bontebok Nasionale Park, Camdeboo Nasionale Park, Tuinroete Nasionale Park, Karoo Nasionale Park, Namaqua Nasionale Park, Tafelberg Nasionale Park
Tankwa Karoo Nasionale Park, Weskus Nasionale Park.

SAAM kan ons ‘n verskil maak en SAAM kan ons verseker dat Sylvester nie weer weg sal loop nie.

Hannelie ·

Dankie Theresa stem saam jou. Hy is dier en reageer op instink. En dis in sy natuur. Net bly het hul hom gekry.

Hendrik ·

Wonderlik! Sylvester is meer geliefd as al die stakers en amokmakers in ons land.

Joann ·

Mooi so ounooi se kat. Gee hom vir my,hy sal tog te lekker hier bly.

Gerhard ·

Sylvester word deur mense aangehou. As hulle die heinings in stand hou, veral na reëns wat hulle weet beskadig word, sal die dier nie uitkom nie. Nou wil hulle die dier straf deur sy lewe te beëindig en nie introspeksie hou oor hulle (die mense) se nalatigheid nie. Enige dier sal wyer areas ondersoek en het NIE die brein om te onderskei tussen n bees of skaap of koedoe of wat ookal nie…..instink en honger laat hom die maklike prooi vang en eet. So my afleidung is…..tree die nalatige mense aan en nie die leeu nie.

E ·

Die Here het ons as mense aangestel bo die diereryk. Dit is ons verantwoordelikheid om dit te versorg. As jy vir jou n hond aanskaf is dit jou plig om hom vir nodige inentings, sterilisasie ens te neem. Dit is ook jou plig om. seker te maak jou erf is behoorlik toe sodat die dier nie kan uitkom nie. Dit maak my brussend as ek troeteldiere in die pad aantref. Het die mense geen verantwoordelikheid nie! As n kind gebyt word? As jy bogenoemde nie kan toepas nie, moet jy nie n troeteldier he nie.Gee hul (leeutjie) vir iemand wat hul kan hanteer, liefhe en versorg.

Elgeraine ·

Ai, Sylvester! Jy is wraggies stout. Gedra jouself anders is jy dalk nie so gelukkig volgende keer nie. En ons wil jou nie verloor nie!

Magda ·

Hy wil terug gaan van waar hy kom. Dis hoekom hy weg loop. Hy soek die KAROO
MOOI KAROO LAND

Akram ·

Genugtig. en die kat kom weer….. Sylvester lyk na prag leeu. in sy prime, ek hoop hy hou homself in. dit sal tragies wees as hy vankant gemaak word. hy soek seker oor maar net groener weivelde. sylvester vir president…..

Pietertjie ·

Terug tronk toe met jou, Sylvester! Dis dieselfde lot wat tallose voëls tref, wat in klein hokkies vasgevang word pleks van in die lug rond vlieg tot eer van die Skepping. My buurman dink die papegaai wat hy in ‘n hok aanhou sing te mooi: intussen roep die voël aanhoudend na sy maats!

NET EKKE ·

Is daar nie plek vir hom in een van nkantla se kampe nie

Elize C ·

Weet nie hoekom die word “ontsnap” gebruik word nie. Sylvester is nie ‘n misdadiger nie. Vir ‘n dier beteken ‘n heining niks, dit sê nie vir hom: hei weet jy, eintlik mag jy net tot by die heining loop, jy mag nie anderkant toe gaan nie, maak nie saak of jy ‘n gat in of onder die heining sien waardeur jy kan kruip nie, jy moet hierdie kant bly! As hy op ‘n opening afkom, sal hy deurgaan, bloot omdat dit die rigting is waarheen hy op pad was, en wat hom aanbetref, is daar niks wat hom verhoed om aan te gaan in daardie rigting nie, hy besef nie eers regtig hy kruip nou deur ‘n gat nie, vir hom is dit maar net ‘n “obstacle”. Stem saam al die kommentare hierbo dat die MENSE wie hom in-hok in die 1ste plek, die skuld moet kry vir sy “ontsnapping” omdat hulle nie 24/7/365 sorg dat die heinings ongeskonde in plek is nie. Moet ‘n onskuldige dier nou weer boet vir die MENS se nalatigheid, wanneer hy skaap/wild/mens aanval, bloot omdat dit vir hom maklike kos is? Hy doen wat ‘n leeu doen: loop rond, verken sy omgewing, vang prooi om te eet as hy honger is, ens.

chris ·

Dit is n pragtige leeu stuur hom na Kgalagadi of etosha in namibia

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.