Taai stryd wag op NSFAS-administrateur onder Nzimande

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys. (Foto: GCIS)

Die nuwe administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) gaan ʼn moeilike taak hê om die sukkelende instelling se geloofwaardigheid te herstel en probleme met onder meer die betaling van diensverskaffers, die verblyfloodsprojek en uitstaande toelae uit te pluis.

Freeman Nomvalo is die naweek as die nuwe administrateur van NSFAS aangewys nadat besluit is om die instelling se raad te ontbind. Volgens die minister het die raad versuim om sommige van die basiese verantwoordelikhede wat hy aan hulle toegewys het, na te kom of in werking te stel.

Chantal King, die DA se woordvoerder oor hoër onderwys, sê Nomvalo se taak gaan selfs moeiliker wees terwyl Blade Nzimande steeds minister van hoër onderwys, opleiding en innovering bly.

“Pres. Cyril Ramaphosa het boonop besluit om die wolf in skaapsklere te hou deur te versuim om Nzimande in die pad te steek,” sê King.

Sy sê ondanks die waghondorganisasie Outa se ondersoek wat die minister betrek by ʼn sogenaamde patronaatskapnetwerk in die departement, het Nzimande geweier om te bedank.

Hy het die naweek opnuut herhaal dat daar geen rede vir hom is om die tuig neer te lê nie. Volgens die minister het diegene wat sy bedanking eis hom nie aangestel nie en het hy die NSFAS as instelling laat groei tot een met ʼn begroting van meer as R50 miljard.

King meen egter indien Ramaphosa en die ANC werklik oor die welstand van studente omgegee het, en wil verseker dat duisende jong mense in die toekoms werk kry, sou Ramaphosa vir Nzimande afgedank het om ʼn “einde te bring aan die vlaag van korrupsie en wanbestuur by NSFAS”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Dis eenvoudig. Soos Zuma het Blade sy mes teen Cyril se keel; sy ou vriend en afdreiger sal hom in die stof laat byt as hy uitpraat. En so hou ‘n bende mekaar bymekaar om voort te woeker op hul wellustige weë. Die sg kommuniste staan nie amptelik as party nie, maar gebruik die naam ANC as nom de plume.

OW ·

@ Annie.Ek dink nie die SA kommunistiese party gebruik die ANC as skuilnaam nie.Die ANC is vir meer as driedekades al bekend as drie alliansie vennote,ANC,
COSATO en SAKP.

Andrew ·

Mooi stories als. Op die ou end al is die geld in die begroting, as die “cash” nie in die bank is nie kan jy dit nie uitbetaal nie.

Jacobus ·

Ai, by aanskoue van so ‘n trog vol geld – dan is bedank die laaste opsie!

JohanR ·

Wat het pres. Ramaphosa al in 5 jaar reg gedoen of gekry? Bheki Cele moet die mees nuttelose Minister van Polisie in die geskiedenis van Minister’s van Polisie en daar sit hy! En daar het ons gedink in 2019 Ramaphosa gaan ons red!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.