Taai taak wag op Godongwana

Die minister van finansies, Enoch Godongwana (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Enoch Godongwana, minister van finansies, sal Woensdag sy mini-begroting binne ʼn uitdagende internasionale ekonomiese ruimte voorlê en Isaah Mhlanga, hoofekonoom by AlexForbes, sê die minister gaan moeilike keuses moet maak.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) verwag dat 34% van die wêreldwye ekonomie vanjaar of volgende jaar in ʼn resessie gaan wees. Rusland se oorlog teen Oekraïne het die verhoging in internasionale inflasie – veral kos en energie – verder aangejaag en die Euro-gebied se ekonomie is in resessie weens die energiekrisis wat gevolg het op die daling in gasvoorraad vanuit Rusland.

Die Verenigde Koninkryk se inflasie, rentekoers, groei en fiskale vooruitsig het versleg en in die VSA gaan stygende rentekoerse Amerikaanse en internasionale groei rem.

Mhlanga sê die minister gaan in die lig van al hierdie faktore – en meer – oplossings vir die Suid-Afrikaanse ekonomie moet vind.

Staatsbeheerde ondernemings

Een van die belangrikste oplossings is ʼn vermindering van Eskom se skuld van R392 miljard om sy balansstaat te verbeter en die kragvoorsiener beter in die oop mark te posisioneer. Die skuldverligting aan Eskom word wyd verwag as dat dit in die omgewing van R200 miljard gaan wees.

Daar is geen maklike oplossings nie, sê Mhlanga, maar markte, beleggers en kredietgraderingsagentskappe verwag een of ander antwoord om Suid-Afrika se fiskale posisie en dus sy kredietgradering, behoorlik te assesseer.

Annabel Bishop, hoofekonoom by Investec, sê ook enige verwysing na Eskom sal fyn dopgehou word.

“Dan, natuurlik, sal ons kyk wat gebeur op die inkomste- en belastingfront, sowel as met besteding.”

Eskom is diep in die skuld en steier weens korrupsie en vandalisme en Bishop sê daar word gewag op antwoorde oor herstrukturering en strenger beheer. Sy is van mening dat Eskom se groeiende skuld na die regering se balansstaat oorgeskuif moet word en dat dit moet gepaardgaan met streng beheer sodat die instelling nie verdere onvolhoubare skuld kan aangaan nie.

“Kredietgraderingsagentskappe gradeer reeds die Suid-Afrikaanse regering se skuld asof dit Eskom se skuld insluit. Die nasionale tesourie behoort meer betrokke by Eskom se finansies te wees, veral aan die leningskant, en uiteraard moet daar ʼn veel duideliker koers rakende besteding wees.”

Bishop sê Transnet is een van die SBO’s wat aangedui het dat hy ook beduidende hulp op ʼn deurlopende grondslag van die regering gaan benodig.

“Ek is nie seker of die regering dit gaan aanvaar nie. Alle SBO’s moet hulself begin finansier. Hulle moet soos maatskappye bedryf word. Ek dink nie hulle kan verwag om permanent op reddingsboeie van die regering te oorleef nie.”

Mhlanga sê daar word ook gewag op meer besonderhede oor die struktuur, bedrag en voorwaardes verbonde aan die $8,5 miljard-beleggingsplan vir die oorgang na skoner energie in Suid-Afrika.

“Deurslaggewend is hoeveel geld uitbetaal gaan word, die voorwaardes verbonde daaraan en of dit die staat se skuldvlak gaan verhoog,” sê Mhlanga.

Toelae

Nog ʼn groot beleidsbesluit wat ʼn uitwerking op die land se geldkoffers gaan hê, is maatskaplike toelae. Die krisis met stygende lewenskoste bo-op die uitwerking van die Covid-19-pandemie beteken daar is druk om die spesiale toelaag in ʼn permanente en universele basiese inkomstetoelaag om te skakel.

Bishop sê dit lyk of die regering groot werk agter die skerms doen om die toelaag in ʼn permanente een te verander en dat dit gebruik moet word as ʼn manier om mense te help om werk te soek, eerder as net as ʼn aalmoes.

Mhlanga verwag dat die toelaag tot Maart volgende jaar verleng gaan word, maar meen daarna sal daar waarskynlik nie meer geld voor wees nie. “Dit sal aandui dat dit ʼn tydelike maatreël is en dat toekomstige verlengings gaan afhang van die beskikbaarheid van geld uit belastinginkomste en ekonomiese groei.”

Nog kwessies wat met ʼn valkoog dopgehou gaan word, is die staat se salarisrekening en finansiering van ander staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) omdat dit ʼn sleutelrol speel in die land se fiskale posisie en kredietgradering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Di ·

TE VEEL geld word aan TOELAES uitgegee. Daar is ‘n handtjievol belastings betalers wat moet sorg vir die miljoene werkloses wat intussen die een na die ander kinders kry vir meer grants. Ons sal nie vir ewig hierdie miljoene kan onderhou met toelae nie, skep meer werk en raaak onstlae van die BEEEE gemors want dit kniehalter werkskepping in die privaat sektor

Jack ·

Maak nie saak hoe jy daarna kyk nie die skrif is teen die muur.Die staat is bankrot en die belastingbetalers al hoe minder. Meer as 30 miljoen is afhanklik van die staat en amper 80% van die GDP word bestee aan salarisse,toelae en skuld.Die enigste oplossings nou is herforming met ‘n drastiese swaai om die ekonomie te bevredig en werk te skep.Arbeids wetgewing moet drasties verander.Die ANC moet waai.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die staat sal net meer belasting hef op elke denkbare ding.

Wondermaarnet ·

Ek raak bang en baie bekommerd as ek nog ‘n kader met ‘n hoed sien.
Staak, staak, staak en meer mense sit sonder werk, wat beteken SARS en die staat kry minder en moet dit verhaal van ons wat werk en self sukkel om kop bo water te hou.

Suzette ·

Ek raak nie bang nie. Dit se wat ons reeds weet. Die groot meerderheid glo aan “GROOT VERTOON”.Hulle skroom nie om met hul hoede, kopdoeke, blink pakke, motors, en n uitspatige leefwyse plus al hulle stupid vereistes dit in ons keelgatte af te druk dat ons leef nou in die drakoniese, kommunistiese mafia era nie.

Jack ·

Dit het baie beter met ons mense en die ekonomie gegaan toe die ANC ‘n verbanne organisasie was. Dit net hoe fantastiese dit kan gaan as die ANC/SAKP/Cosatu verdwene organisasies word. Die rede vir ons ellendes is skelm onbevoegdheid in die regering.

domheks ·

Die BAAS het altyd hoede gedra toe hylle nog kinners was. Hehehheheeee

Frank John ·

Ek twyfel of ek nog in my leeftyd die herstel van Suid Afrika sal sien nie – en ek plan nog om by 120 jaar uit te kom.

Vonkprop ·

Gee toelae aan die wat dit regtig nodig het, nie aan die wat te slap is om te werk nie, sny die luukshede van die ministers dat hulle soos ons vir alles betaal. Sny sommer ‘n paar ministers ook, want die kabinet is heeltemal te groot. Hou op om geld in Eskom te stoot. Maak Eskom toe, privatiseer die krag en skep nuwe poste in hernubare krag, sny die ministers se luukshede, skaf BEEEEEEEE en EE en AA af en laat almal toe om te kan werk en o ja sny die luukshede van die ministers.

Mrs H ·

Anc moet bedank soos daai britse tannie – daar is geen verskik in die poef wat hulle veroorsaak het nie. Anders, verban anc weer!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.