Taai vrae vir Ramaphosa vandag

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa gaan ʼn taai stel van ses vrae beantwoord wanneer die Nasionale Vergadering vanmiddag byeenkom.

Die eerste van die mondelinge vrae kom van ANC-LP Judy Hermans. Sy vra aan Ramaphosa hoe hy van plan is om ekonomiese groei en werkskepping te stimuleer gegewe die land se ekonomiese probleme, waaronder die swak toestand van staatsbestuurde ondernemings.

Tweede aan die beurt is DA-leier Mmusi Maimane, die einste persoon wie se vasvra van Ramaphosa oor bydraes tot sy CR17-verkiesingsveldtog in die ANC tans tot gevolg het dat die president soveel kritiek op sy geloofwaardigheid en eerlikheid beleef.

Hierdie keer vra Maimane hom juis wanneer hy ʼn kommissie van ondersoek gaan aanstel om die skenkings aan daardie leierskapsveldtog van hom te ondersoek.

Dan sit EFF-leier Julius Malema die aanval voort met ʼn vraag waarom Ramaphosa gesê het hy het nie geweet wie die skenkers aan die CR17-veldtog was nie, as dit nou aan die lig kom watter sleutelrol hy daarin gespeel het.

Die vierde vraag behoort aan ANC-LP dr. Sibongiseni Dhlomo wat wil weet wat die land se gereedheidsvlakke is vir die nasionale gesondheidsversekering.

Voorlaaste aan die beurt is die IVP se Mkhuleko Hlengwa met ʼn vraag oor watter aanbevelings van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming Ramaphosa gaan aanvaar, en watter aanbevelings hy nie gaan instel nie.

Die laaste vraag behoort aan die VF Plus se dr. Corne Mulder en handel oor watter rol Ramaphosa wil speel om nasionale versoening uit te bou. Die opvolgvrae op hierdie ietwat wye vraag kan wees waar die angel lê.

ʼn Taai dag vir Ramaphosa, dus, maar niemand het gesê dit gaan maklik wees om president te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

chris ·

Jip. Ons verwag eerlike reguit antwoorde van ‘n man met integriteit.

Werner ·

Die niks seggende liegstories wat hulle dink almal moet glo is seker klaar uitgewerk

Willie ·

Nee wat ons moet nie asem ophou nie… in hul denke is als reg, dit kom hulle toe…

Hanna Hoekom ·

Hoop nie hy begin ook oor die Drakensberg Seunskoor praat nie… Of vir raad / opsies vra oor hoe om jouself teen jouself te beskerm nie.

koos ·

Hy het gekies en betaal om prez te wees, nou moet hy maar sy hou vat!

Arak ·

Hier gaan dadels van kom, water op ‘n eend se rug. Hy kan geld was met CR17 na wille keur, maar laat jou opgawe nou laat wees by die SAID, dan bars jy.
Ek is van mening daar moet ‘n volledige oudit gedoen word op die CR17 rekeninge en elke sent moet gevolg word om te sien van waar dit gekom het, aan wie dit oorgedra is en of daar volledig belasting op betaal is. Indien nie, vervolg almal betrokke. Dit sal nou nie gebeur nie, maar mens mag seker maar nog droom, solank dit net nie die ou vlag in die die agtergrond het nie.

leser ·

en so gaan cr elke vraag met ‘n vraag agterlaat of sommer van die begin af heeltemal ontwykend antwoord en die vraag in ‘n ander rigting stuur

JohanR ·

Moenie te veel moelike vra vra nie. Blykbaar het SA die ou brood nodig, of anders kry ons Ace Magashule, David Mabuza of Nkosazana Dlamini-Zuma. Wonderlike keuse!

Netso ·

Ek sou eintlik graag ñ vraag vir die President wou vra! Of hy sy persoonlike leier van die land weergawe, en nie dit wat hy voorgesê word om te antwoord is wat ek wil weet?

Thinus ·

Kul jou hier en kul jou daar en sien daar…nog ‘n stel oogklappe uit die mou geruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.