Taakmag bevry twee ministers, adjunk in gyseldrama

militêre veterane st. george hotel

Altesame 56 mense is in hegtenis geneem. (Skermgreep: eNCA/DSTv 403)

Die polisie se taakmag moes ingryp toe die minister in die presidensie, Mondli Gungubele, sy eweknie by verdediging, Thandi Modise, en haar adjunk, Thabang Makwetla, Donderdagaand by die St. George Hotel in Irene in Pretoria deur ʼn groep ongelukkige weermagveterane as gyselaars aangehou is.

In ʼn gesamentlike verklaring deur die polisie en NatJOINTS, sê brig. Vish Naidoo die polisie het omstreeks 19:15 inligting ontvang oor ʼn “moontlike gyselaarsituasie” waarin die twee kabinetsministers en ʼn adjunkminister aangehou is.

“Ná pogings om met hulle [die veterane] te onderhandel om die gyselaars vry te laat, het die polisie op taktiese ingryping besluit en die gyselaars suksesvol bevry,” sê Naidoo.

Hoewel daar bewerings was dat gehoor is hoe skote klap, sê Naidoo geen skote is tydens die reddingspoging gevuur nie.

Altesame 56 mense, onder wie sewe vroue, is in hegtenis geneem en sal na verwagting tereg staan op minstens drie aanklagte van ontvoering. Drie van die verdagtes is vir mediese ondersoeke geneem nadat hulle van pyn gekla het.

Die politici se persoonlike veiligheidsbeamptes het hulle glo na ʼn plek van veiligheid geneem nadat die spesiale magte hulle bevry het. Hulle is ongedeerd.

Gungubele het in ʼn videoboodskap ná die drama gesê hulle het hulle in ʼn situasie bevind wat “onhoudbaar” en “wetlike onaanvaarbaar” was.

Volgens hom het hulle gedink hulle was in ʼn vergadering waarvan die doel was om die probleme wat militêre veterane raak, te bespreek.

“Ons kon nie ooreenkom oor hoe die vergadering sou plaasvind nie. Ons het ʼn punt bereik waar ek gedink het ons ooreenstem dat die vergadering moet verdaag.

“Terwyl ons die vergadering verlaat het en op pad was na die deure, het hulle dit toegemaak. In daardie stadium het ons besef ons word as gyselaars aangehou.”

Luidens die berigte het die betrokke veterane daarop aangedring om net met pres. Cyril Ramaphosa en adjunkpres. David Mabuza te praat.

Gungubele het die veiligheidsmagte geloof wat die situasie “doeltreffend en suksesvol” ontlont het.

“Ons verwag dat die reg sy loop sal neem om gedrag van hierdie aard te hanteer.”

Die weermagveterane eis onder meer vergoeding en ander voordele van die regering vir hulle rol in die Suid-Afrikaanse vryheidstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

58 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Ek hoop sy het dieselfde tipe gevoel gekry as iemand wie se huis ingedring word deur rowers.

KB

“…sal aangekla word op ten minste drie aanklagte van ontvoering…”
Ontvoering? Werklik! Is dit die beste waarmee hulle vorendag kan kom?

Harley Davidson

Dit kon nie moeilik gewees het nie mkhonto het nog nooit ‘n geveg gewen nie altyd weg gehardloop as dit nie vir de klerk was wat hulle destyds gehelp het nie het hulle nog steeds gehardloop.

marius

Ag siestog . Nou gaan hulle seker almal vir maande met stres verlof .

AW

Wat sê ń mens nou daarop….

Ek glimlag maar dan net !