Taakmaglid in Wes-Kaap doodgeskiet

(Foto: SA Polisie)

Konst. Mlungisi Kidwell Ranaka (38), lid van die spesiale taakmag in die Wes-Kaap, is Donderdag in Mfuleni in Kaapstad doodgeskiet.

Vier mans het Donderdagaand glo omstreeks 21:00 Ranaka se huis bestorm en sy dienspistool geëis, maar hy het dit nie by sy huis gehad nie.

Die verdagtes het hom in die kop geskiet en met sy persoonlike besittings, waaronder twee televisiestelle, van die toneel gevlug.

Ranaka is oorspronklik van Willowvale in die Oos-Kaap. Hy het 12 jaar lank in die polisie gedien, waarvan agt jaar as lid van die spesiale taakmag in Kaapstad.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die moord op Ranaka veroordeel. Hy het opdrag gegee dat ʼn omvattende soektog van stapel gestuur word na die verdagtes. “Ek is baie hartseer oor hierdie moord op ʼn lid van ons elite eenheid. Die provinsie het my verseker dat alle nodige hulpbronne ontplooi is om die verdagtes te soek.”

Sitole doen ook ʼn beroep op die gemeenskap van Mfuleni om met die polisie saam te werk om die misdadigers aan te keer. “Ons het die gemeenskap nodig om die strate terug te vat. Enigiemand met inligting kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of deur die MySAPS-app. Persone kan anoniem bly en inligting sal vertroulik hanteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael ·

Dit lyk vir my asof die kriminele teiken die polisie om wapens te bekom ,as dit wel die geval is dan is net die polisie self se skuld dat die kriminele van hulle sien as sagte teikens wat korrup en maklik omgekoop kan word.

Fanie ·

Vat weg ‘n krimineel se regte. Hulle kies om ‘n ander persoon se regte te misken, dus kies HULLE om van hulle regte afstand te doen. As julle wil hê die gemeenskap moet die strate terugvat, gee ons ONS reg terug om die kriminele element op ONS manier uit te sorteer. Die doodstraf kan slegs werk as hulle tereggestel word binne ‘n week na strafoplegging, anders sit hulle weer op die belastingbetaler se rekening in die dodesel.

Pieter J ·

As gevolg van sommige polisielede se optrede is die publiek ook nie meer so gretig om met hulle saam te werk nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.