Taakspan aangestel om xenofobie te stuit

Skermskoot uit 'n video op Facebook van vermoedelik 'n Xenofobiese voorval in Johannesburg (April 2015)

Skermskoot uit ‘n video op Facebook van vermoedelik ‘n Xenofobiese voorval in Johannesburg (April 2015)

ʼn Interministeriële taakspan is Maandag deur pres. Jacob Zuma aangestel om die aanvalle op buitelanders teen te werk.

Die presidensie het Maandag bevestig dat sewe mense reeds in die aanvalle dood is, onder wie drie Suid-Afrikaners en vier buitelanders.

Volgens Zuma het die land se ministers tot dusver goeie werk gedoen om die situasie te stabiliseer en die boodskap te versprei dat geweld nie geduld sal word nie. “Die uitdaging van migrasie verg egter ʼn langtermyn-oplossing. Daarom het ek ʼn interministeriële taakspan aangestel om stelselmatig te werk en na alle aspekte van migrasie te kyk,” het Zuma gesê.

Die komitee, onder voorsitterskap van Jeff Radebe, minister in die presidensie,sluit die volgende lede in:

Minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba;
Minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Pravin Gordhan;
Minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane;
Minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula;
Minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini;
Minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi;
Minister van basiese onderwys, Angie Motshekga;
Minister van polisie, Nathi Nhleko;
Minister van staatsveiligheid, David Mahlobo; en
Minister van justisie en korrektiewe dienste, Michael Masutha.

Die presidensie het gesê Zuma beoog om langtermyn-vennootskappe met alle betrokke partye te smee om te verseker die “skandalige” aanvalle op buitelanders gebeur nie weer in Suid-Afrika nie.

“Miljoene Suid-Afrikaners veroordeel hierdie gruwelike moorde en het ’n afsku van xenofobie en alle verwante gevalle van onverdraagsaamheid. Ons moet saam harder werk om geweld en haat in ons samelewing te verwyder,” het Zuma gesê.

Zuma sal na verwagting Woensdag met verteenwoordigers van geloofsgebaseerde organisasies, sakeondernemings, arbeid, jeug, vroue, sport, maatskaplike ontwikkeling, skeppende bedrywe en ander sektore vergader. Hy sal in die week met leiers wat asielsoekers en vlugtelinge verteenwoordig, asook die media, beraadslaag.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bruno Stef ·

Zuma wat van die geweld en moorde teen plaasboere tel hulle nie as Suid Afrikaners nie.Die moorde en martelings op sovele van hulle word nie deur jou Regering en die pers n ophef van gemaak nie.

Uys ·

Die anc is gekant teen rasse haat maar nie ń plaasmoord nie. Xenofobie moet niu strenger gebruik word sofat die anc ook ń stop sit aan plaasmoorde.

Uys ·

MM julle verander my brokkie nuus om julle te pas, hoekom nie die tikfout ook regmaak nie?

Deon Kotze ·

Daar is geen taakspan nodig nie. Die rede is voor die handliggend. As jy toelaat dat miljoene nie landsburgers die land onbeheers binne stroom sonder dat hulle enige skaars vaardighede besit kan jy ongelukkigheid verwag. Met n werkloosheidssyfer van 27% raak die situasie vir die werkloses al hoe hopeloser met die toestroming van miljoene werksoekers van buite.

Akram ·

Die voorvalle het SA nie goed gedoen nie. Dit het internasionale medis gehaal en is wereld wyd vertoon. Ek ondersteun die groepe wat TEEN xenofobie is. Dit is nie reg nie. Ek sal graag wil sien dat die plaas moorde die selfde dekking geniet internasionaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.