Taakspan in lewe geroep om staalbedryf te red

Argieffoto (Foto: hera.org.nz)

Argieffoto (Foto: hera.org.nz)

Die vakbond Solidariteit is vandeesweek tydens ʼn noodvergadering versoek om deel te wees van ʼn krisistaakspan om die sukkelende plaaslike staalbedryf te red.

Die taakspan, wat ook uit verteenwoordigers van Numsa, Seifsa en ArcelorMittal sal bestaan, is gevra om met oplossings vir die bedryf vorendag te kom. Die taakspan sal reeds teen die einde van Augustus voorstelle aan die regering voorlê.

Volgens Marius Croucamp, hoof van die metaal- en ingenieursbedryf in Solidariteit, sal hierdie taakspan ʼn deurslaggewende rol moet speel om tot die krisisbelaaide staalbedryf se redding te kom. “Die taakspan sal indringende navorsing oor die plaaslike staalbedryf en sy verskeie uitdagings moet doen om sodoende met werkbare langtermynoplossings vir die bedryf vorendag te kom. Tans word die verlaging van energiekoste en regulasies rondom voorkeurverkryging oorweeg. Ander moontlikhede word egter nog nagevors en oorweeg.”

Croucamp het gesê die taakspan sal ook, na gelang van sy navorsing en bevindings, bepaalde optrede van die regering eis aangesien die regering tot onlangs toe nog geen verantwoordelikheid vir sy aandeel in die krisis aanvaar het nie. Die genoemde taakspan sal reeds vandag hul eerste samesprekings in Johannesburg voer.

Verskeie staalprodusente het die afgelope maand met afleggingsprosesse begin. Dit sluit onder meer Evraz Highveld Steel in Emalahleni (Witbank) en die Scaw-metaalgroep in. ArcelorMittal het ook aangekondig dat hy met ʼn afleggingsproses by sy Vereeniging-walsery sal begin waardeur 600 werknemers moontlik geraak kan word, maar het die kennisgewing later teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christie Joubert ·

Die regering moet uit die bed uit klim met china… Jaag die spul chinese terug na hul eie land, saam met hul goedkoop gemors wat hulle aan ons afsmeer, en AL ons bedrywe sal reg kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.