Taakspan ondersoek lughawe-rooftog; Sabric ontstoke

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Taakspan is saamgestel om die rooftog te ondersoek wat by OR Tambo Internasionale Lughawe plaasgevind het, het die Valke Woensdag gesê.

ʼn Groep gewapende mans, waarvan sommige in polisie-uniforms geklee was, het met ʼn gemerkte SAPD Toyota-bakkie en ʼn wit Mercedes Benz gery. Hulle het veiligheidspersoneel met vuurwapens gedreig en na die aanloopbaan beweeg waar hulle ʼn houer oopgebreek het wat die buitelandse valuta bevat het, het die Valke gesê.

Maroela Media het vroeër berig die rooftog het omstreeks 19:45 plaasgevind. Dit het net ʼn paar minute lank geduur en geen skote is gevuur nie.

“Die verdagtes het met 27 pakkies vol buitelandse valuta in ʼn onbekende rigting gevlug.”

Die polisie kon nie mediaberigte bevestig dat meer as R24 miljoen gesteel is nie.

Lede van misdaadintelligensie en die Gautengse oorlogkamer is deel van die taakspan.

Lt.genl. Mthandazo Ntlemeza, hoof van die Valke, het ʼn beroep op die publiek gedoen om ondersoekbeamptes by te staan met enige inligting oor die “vreemde rooftog”. “Dit is ʼn ernstige saak en die Valke sal geen steen onaangeroer laat om die waarheid oop te vlek na dié vreemde rooftog nie. Ons wil nie in hierdie stadium spekuleer nie, maar ons is vol vertroue dat die persone aangekeer sal word,” het hy gesê. “Die lughawe is ʼn nasionale sleutelpunt en veiligheid is van absolute belang. Ons doen ʼn beroep op die publiek om enige inligting aan ons te verskaf wat die ondersoek kan ondersteun.”

Intussen het die Suid-Afrikaanse bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) gesê hy is ontstoke oor die multimiljoen rand se rooftog.

Kalyani Pillay, uitvoerende hoof van Sabric, het gesê dit is duidelik dat die rooftog uitgevoer is met akkurate inligting. “Dit vererger die reeds benarde situasie van aanvalle op kontant-in-transito-voertuie en -personeel,” het sy gesê. “Die astrantheid van die misdadigers en die gemak waarmee toegang bekom is tot só ʼn veilige deel, is ʼn groot kommer vir ons.”

Sabric is ʼn nie-winsgewende maatskappy wat deur Suid-Afrikaanse banke opgerig is om die bankbedryf te ondersteun om misdaad te bestry.

Sabric het in 2016 nasionaal altesaam 269 kontant-in-transito-voorvalle aangeteken, in vergelyking met 249 voorvalle in 2015. Daar was reeds 57 voorvalle in 2017.

“Ons weet die sindikate wat hierdie misdade pleeg is gewoonlik baie vaardig en georganiseerd. Ons vertrou dat wetstoepassers vinnig ʼn deurbraak sal maak in hul ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Yster ·

Hoekom klink dit vir my daar is weer n haas wat daar ruik. Nasionale sleutelpunt. Was die Guptas nie ook laas op so n punt nie. Nou wonder ek wie se geld dit is. Ek vra maar net.

AL ·

Kriminele lag die gereg en instellings uit. Hulle weet dat hul korrupte en onbevoegde amptenare kan omkoop.
Die voorval is n geweldige verleentheid vir SA.

JaJa ·

Miskien is hierdie mense van die VVIP wat spesiale toegang het op OR soos die Puttas, dit le nog helder in my geheue van al die miljoene wat hulle uit geneem het maar niemand a steen (edel) aangeroer het nie.

rafel ·

Dalk is die geld geroof Om die Sassa betalings in April Te doen…haha

bogale ya mpya ·

Dit lyk al te veel na n goed beplande “inside job”.
Vrae wat op duik is:
1. Die.gemerkte Toyota bakkie is a) gesteel b) geleen of c) privaat bakkie vermom soos SAPD voertuig.
2. “Roetine” toegang vir SAPD voertuie toegelaat.
3. Rowers het PRESIES geweet waar die houer is.
4. Hulle het presies geweet watter houer betrokke is.
5 Alleen buiteland se valuta gesteel – om wat mee te maak in RSA?
6 Wie was die eienaar van die valuta ?
7 Niemand het verlies verklaar nie – hoekom nie?

o ·

Daar behoort oral kameras te wees. Hoekom is alle uitgange nie dadelik gesluit toe die beeldmateriaal op die skerms verskyn het nie? Onbekende rigting gevlug? Daar is oral op die snelwee ook kameras

John ·

Is dit nie dieselfde groep wat onlangs die rooftogte by FNB uitgevoer het nie? Hulle moet beskerming vanuit hogere gelede kry om soos vrywild rond te beweeg. Hierdie tipe mense hou ook nie daarvan dat die minister van finansies wonder hoekom hul bankrekeninge skielik so bult nie. ORT behoort op die aandele-beurs te registreer.

SARIE VAN HEERDEN ·

Kameras langs die paaie help nie wanneer jy ‘n gesteelde voertuig afneem nie. Foto’s van die kriminele help ook nie want hul gesigte word verberg onder enige ding. Toegang tot sulke plekke moet beter beheer word. Waar was die mense wat dit moes beheer? Hierdie is ‘n hoogs opgeleide span diewe en mense in poste wat hiermee te doen behoort te he moet nodige onderrig kry.

cor ·

Hulle moet net geduldig wees en kyk watter amptenare in altwee instellings daag nie by die werk op nie , wie ry skielik die blinkste en duurste voertuig en gaan bly in n golf estate , want “easy money” brand jou sak en die lus vir koop is dan ook nog onuitblusbaar.

ME ·

Is daar werklik iets gesteel? Ons weet die lugreedery het begrotings probleme, nou word ‘n onbekende bedrag gesteel (wat dalk nie werklik bestaan nie) en daar word geeis van die versekeraar want so ‘n bedrag was tog seker versekerd?

Gert ·

Word hierdie geld nie gebruik om te betaal vir al die huidige moorde op ons mense nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.