Taakspan trek 50 vas vir renosterstropery

Argieffoto: Maroela Media

Die polisie se Rhino8-taakspan het die afgelope vier weke 50 verdagtes in hegtenis geneem vir misdade wat met renosterstropery verband hou.

Dié taakspan bestaan uit verskeie regeringsdepartemente asook verskeie lede van verskillende dissiplines in die polisie. Daar is ook lede van die weermag en wildbewaarders van SANParke in dié span.

Die 50 verdagtes is in onder meer Acornhoek, Skukuza, Phalaborwa, Hluhluwe, Barberton en KwaMsane vasgetrek.

“Twee van die verdagtes, 24 en 33 jaar oud, is die afgelope naweek vasgetrek nadat hulle in besit van ʼn jaggeweer gevind is in KwaMsane,” lui die verklaring. Die polisie het ook beslag gelê op ʼn Toyota Hilux-bakkie waarin die twee verdagtes gereis het.

Daar is die afgelope vier weke ook beslag gelê op verskeie ander voertuie waar onder ʼn Toyota Quantum, ʼn VW Golf, ʼn BMW 3-reeks asook 17 wapens wat jaggewere en pistole insluit. “Daar is ook beslag gelê op ammunisie, knaldempers, byle, messe en selfone.”

Volgens die verklaring het meeste van die verdagtes al in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van vuurwapens, onwettige besit van ammunisie, die besit van gevaarlike wapens, betreding, ontvoering en aanranding.

Ses verdagtes wat vroeër die jaar in hegtenis geneem is, is intussen skuldig bevind en tot altesaam 39 jaar tronkstraf gevonnis.

“Een van die beskuldigdes, Maphoyisa Mahlaule, is tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die jag van ʼn beskermde dier, die besit van onwettige vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en die besit van ʼn vuurwapen met die bedoeling om ernstige misdaad te pleeg en te betree.”

Die polisie is hoopvol dat die vonnisoplegging van dié verdagtes as afskrikmiddel vir ander voornemende stropers sal dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

De Villiers ·

Uitstekend SAPD. Julle verdien ‘n pluimpie daarvoor. Dankie vir jul harde werk en goeie speurvernif om so baie van hierdie gewetenlose verdagtes te arresteer.
Ek glo nie dit sal egter dien as ‘n afskrikmiddel nie, hulle sal hul modus operandi net verander.
Ek sal graag meer wil sien dat die meesterbreine agter hierdie afskuwelike misdaad gevang en agter tralies beland. In Swaziland is daar ook doodstraf vir renosterstropery. Daar word byna geen renosters gestroop nie. Laasgenoemde twee punte sal wel as ‘n afskrikmiddel dien.

Van ·

Fantasties – hoop hulle sit lekker lank! Goeie werk mense……goeie werk!

HB ·

Ek stem….fantasties!!! Hou aan met die goeie werk. Ek kan aan ander meer gepaste vonnisse dink as tronkstraf…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.