Taakspan trek verdagte vas ná rooftog by Tsineng-polisie

(Argieffoto: Maroela Media)

Lede van die Valke, die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, taktiese reaksie-eenheid, hoofwegpatrollie, honde-eenheid en die plaaslike kriminele rekordsentrum is as deel van ʼn multidissiplinêre taakspan ontplooi om te soek na die verdagtes wat die Tsineng-polisiestasie in die Noord-Kaap Saterdag beroof het.

Talle vuurwapens is gebuit.

Maroela Media het vroeër berig volgens die vakbond Popcru was net twee polisiebeamptes aan diens tydens die voorval by die polisiestasie in die omgewing van Hotazel. Een van die beamptes het volgens die vakbond die polisiestasie beman terwyl haar kollega die omgewing gaan patrolleer het.

ʼn Menigte polisiebeamptes is ná die voorval na die gebied ontplooi om met die ondersoek te help. Die Valke het vroeër ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van ʼn verdagte kan lei.

Die eenheid sê ʼn 41-jarige verdagte is gister aangekeer vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

“Die ondersoekspan het al die vuurwapens en ammunisie herwin en die verdagte sal Donderdag in die Kuruman-landdroshof verskyn,” sê Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke.

“Die span verwag om nog inhegtenisnemings te maak.”

Die vuurwapens is die afgelope naweek gebuit nadat drie gewapende verdagtes glo die polisiestasie binnegekom en voorgegee het dat hulle ʼn klagte aanhangig wil maak.

“Terwyl die polisiebeampte besig was om met een van hulle te praat, het een van die verdagtes oor die toonbank gespring en ʼn vuurwapen op haar gerig.

“Die beampte is beveel om ʼn kluis oop te sluit en die verdagtes het met agt pistole, drie gewere en twee haelgewere, asook ammunisie, gevlug,” sê Mnisi.

tsineng polisie stasie saps

(Kaart: Google Maps)

Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die vinnige inhegtenisneming geloof.

“Talle lewens is gespaar danksy die herwinning van die vuurwapens.”

Bheke Cele, minister van polisie, het ook die blitsige vordering in die saak geloof. Cele het ook die gemeenskap bedank wat met inligting oor die voorval na vore gekom het wat tot die inhegtenisneming gelei het.

“Laat dit ʼn les vir misdadigers wees wat dink hulle kan wegkruip. Gemeenskappe is siek en sat vir misdaad en werk toenemend saam met die polisie om misdaad hok te slaan.”

Popcru het vroeër sy kommer uitgespreek omdat ʼn gebied met 23 000 inwoners en 43 nedersettings volgens die vakbond net twee polisiebeamptes aan diens gehad het om inwoners te bedien.

“Dit plaas nie net die beamptes se lewe op die spel nie, maar versterk ook die wanopvatting dat ons manne en vroue in blou doelbewus versuim om die misdaadsituasie in hul streke te pak,” het Richard Mamabolo, nasionale woordvoerder van Popcru, gesê.

Die vakbond het ook die polisie gekap vir die beweerde oneweredige toewysing van hulpbronne, veral by landelike en township-polisiestasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Sjoe…daar kan darem vinnig gereageer word as dit die mede landsburgers is. Jammer diè soort reaksie en optrede is nooit daar met ‘n plaasaanval of moord op onskuldige mense nie.

Kokerboom ·

Afwesigheid van behoorlike polisie bestuur!Opmerking: ” Talle lewens is gespaar” is twak. Die voorval moes NOOIT eers plaasgevind het! Onnodige tyd, geld en mannekrag word verspil op nalatigheid!!

Mudguard ·

As ek kyk waar al die polisiekarre en vans staan sal n mens sweer die polisiestasie sit langs die KFC.

Persheks Adri ·

Steeds is hoed in beheer van die polisie en hy’s voorwaar die swakste skakel tussen die lot pffft!

SjN ·

Indien alles volgens reels en voorskrifte gedoen was sou die voorval nie kon plaasvind nie, dit gaan so as daar gebrek is aan kundigheid, kaderaanstellings wat gemaak word en onbevoegdes in posissies geplaas word.

Frank ·

Nee, Cele, die SAP werk saam met die gemeenskappe om misdaad hok te slaan, nie andersom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.