Taakspan vir kragtariewe in Pta aangewys

lig-gloeilampe-liggies

Foto: Vincent Tantardini/Unsplash.com

ʼn Spesiale taakspan is ná Maandagaand se veelpartykoukus van die Tshwane-metroraad aangewys om die elektrisiteitstariewe vir die Jakarandastad te hersien.

Die taakspan, wat uit politici en tegnici van die metroraad bestaan, het Dinsdagoggend dringend vergader waar almal dit glo eens was dat veral die vaste heffing wat vir elektrisiteitspunte in die stad beoog word, aandag moet kry.

“Die gevoel was dat dit nie R200 moet beloop nie en dit selfs nie eers op R120 gelos kan word nie, want dit sal kleiner verbruikers erg negatief beïnvloed,” het Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van die Tshwane-metroraad se openbarerekeningekomitee, gesê.

Erasmus het ook gesê die VF Plus se voorstelle om die verhoging van elektrisiteitstariewe tot tussen 10% en 13% te beperk is goed deur die taakspan ontvang.

Die metroraad het verlede week verskeie gesprekke gehad na ʼn berig in die Rapport uitgewys het dat veral huishoudings in die hoofstad wat minder krag gebruik ʼn werklike tariefverhoging van meer as 80% in die gesig staar.

Dit is veral toegeskryf aan die metro se planne om volgens die stad se goedgekeurde begrotingsdokument ʼn vaste heffing van R200 vir ʼn elektrisiteitspunt in te stel.

Abel Tau, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die metro, het in ʼn mediaverklaring ontken dat die tariefverhoging so buitensporig hoog sal wees. Tau het toe gesê die vaste heffing sal net R120 wees en slegs op verbruikers ingestel word wat meer as 650 kWh elektrisiteit per maand gebruik.

Hy het verder benadruk dat die metroraad by Nersa se riglyne van ʼn 13,07%-verhoging van elektrisiteitstariewe sal hou.

Erasmus het gesê die taakspan se voorstelle sal nou aan ʼn spesiale vergadering van die burgemeesterskomitee voorgelê word waarna dit Donderdag by die Tshwane-metro se maandelikse raadsvergadering sal dien.

“Die voorgestelde tariewe vir ʼn kWh kan nog nie bekendgemaak word nie, maar dit behoort na die raadsvergadering beskikbaar te wees en sal van 1 Julie af in werking tree,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Klink vir my bietjie laat om die Taak-spannetjie nou eers op die been te bring, as die tariewe van 1 Julie 2018 al weer verhoog word!? (1 Julie is om die draai = eerskomende Maandag!) Gelukkig word die amptenare en politici goed betaal, en hopelik sal logika op die ou einde seevier!?

MC Botha ·

Wat ek nie verstaan is dat vanaf April 2019 ons maandeliks minder elektrisiteit kry vir R500. Ons op pre-paid so weet presies hoeveel ons betaal vir elektrisiteit. Volgens my het daar reeds verhoging ingetree, hoe kan dit dan 2 maande later weer verhoog word.

Blikke ·

Die massas kan gerus die munimum van R200.00 betaal en dit sal die agterstand in skuld aansienlik verminder maar nou ja ….. dit sal mos sekerlik nie gebeur nie

Hendrik UAE ·

Kry ‘n taakspan om ALLE agterstallige en uitstaande geld te verhaal en los die verhogings.

Karolis ·

Die koste om die taakspan aan te stel en te vergoed sal waarskynlik meer wees as die uitstaande of agterstallige bedrae.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.