Taakspan vir verspreiding van voedsel saamgestel

(Foto: Verskaf deur Helpende Hand.)

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Saai, die landbounetwerk vir familieboere, het ʼn taakspan op die been gebring om in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Josef Silo’s-projek voedsel en noodsaaklike items soos handreiniger en gesigsmaskers in te samel en te versprei.

Hierdie voedsel en items sal aan behoeftige individue, gesinne en instansies soos onder meer kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe reg oor die land versprei word.

Die Helpende Hand se Josef Silo’s-projek het meer as 70 silo’s reg oor die land gevestig, waar behoeftige mense voedsel kan ontvang en waar ander mense voedsel kan aflaai. Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê die probleem ontstaan egter nou dat sekere behoeftiges nie by daardie spesifieke silo’s kan uitkom nie.

“Dit is moeilik vir mense soos boere wat ver van hierdie silo’s af woon om skenkings af te laai. Diegene wat hierdie skenkings benodig, het ook nie noodwendig die vermoë om by die silo’s uit te kom nie,” sê Cameron.

Cameron sê AfriForum en Saai sal die verspreiding van dié items op grondvlak vanuit die silo’s behartig. Saai se familieboere sal skenkings by die naaste silo’s aflaai en AfriForum sal verantwoordelik wees vir die mikro-verspreiding van die voedsel en ander items aan behoeftiges.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê hierdie inisiatief versterk ’n netwerk van rolspelers uit stede en die platteland om die mees behoeftige mense in dié tyd van nood te help. “Deur bydraes en verspreidingsvermoë saam te snoer, is ons impak veel groter. Sommige boere wat tans ’n surplus voedsel het wat vermors gaan word, skenk dit aan dié inisiatief of versprei dit deur plaaslike strukture,” sê Rossouw.

Rene Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand, sê die bedrag wat tot dusver deur die Josef Silo’s-projek ontvang is, is byna R2 miljoen. Helpende Hand kon die afgelope week reeds 736 gesinne en 96 instansies soos tehuise vir bejaardes en kinderhuise van kos voorsien.

“Helpende Hand se strukture is reeds gevestig en die feit dat ons hande vat met AfriForum en Saai verseker dat drie sterk instansies saamstaan om hoop te skep binne hierdie strukture. Gedurende hierdie moeilike tye is Helpende Hand se Josef Silo’s ’n reddingsboei vir talle behoeftige persone,” sê Roux.

Helpende Hand doen ’n beroep op mense om, indien hulle in die afsonderingstydperk goedere gaan aankoop, iets ekstra te koop en by die Josef Silo’s in hul gebied te gaan aflaai. As die afsondering verby is, sal die silo’s vir ’n geruime tyd bedrywighede voortsit totdat die krisistyd verby is. Alle voorsorgmaatreëls sal getref word om die publiek se veiligheid te verseker.

Mense kan ook skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun.

Skenkings kan by www.helpendehand.co.zawww.afriforum.co.za of by www.krisisfonds.co.za gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Die Wolf

Pragtig. Moet asb nie in our peoples se hande los nie.

Willem

Baie bly julle doen dit self ,anders sal dit nooit by die behoeftiges uitkom nie. DANKIE

Scalla

Dankie Hannes en julle manne.

PieterP

Dankie manne, goeie werk!

Sonneblomkind

Dankie Manne julle is sommer te awesome en ons is dankbaar.