‘Taal mag nie toegang tot leergeleenthede beperk nie’ – US-bestuur

Universiteit Stellenbosch Foto: cair.za.net

Universiteit Stellenbosch Foto: cair.za.net

“Taal moet op so ʼn manier gebruik word dat dit daarop gerig is om met kennis om te gaan in ʼn diverse samelewing en om gelykberegtigde toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle studente te verseker. Aangesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in ten minste Engels gefasiliteer word om geen uitsluiting op grond van taal te verseker. Die universiteit bly verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale.”

Dít is van die beginsels wat as vertrekpunte ingesluit is in ʼn verklaring oor taalimplementering wat Donderdag deur die bestuurspan van die Universiteit Stellenbosch uitgereik is. Die verklaring lig van die beginsels uit en omskryf die toon vir die pad vorentoe en vorm deel van ʼn voortgesette konsultasie- en kommunikasieproses met die breër kampusgemeenskap en ander belanghebbers.

“Die verklaring is ʼn sintese van insigte wat die bestuur sedert Mei vanjaar opgedoen het vanuit die geleefde ervaringe en insette van die studentegemeenskap oor die Taalbeleid en taalimplementering,” het die bestuur van die universiteit in ʼn verklaring gesê. “Dit is bespreek by ʼn vergadering met Senaatslede, na samesprekings met die Studenteraad en Dekane van fakulteite vroeër hierdie week.”

Volgens die universiteit is die status van die verklaring van ʼn besprekingsdokument. “Die Statuut van die universiteit bepaal dat die Raad die Taalbeleid met instemming van die Senaat bepaal. Vir enige voorgestelde veranderinge aan die huidige taalbeleid, sal voorstelle by ʼn formele vergadering van die Senaat voorgelê word voordat dit aan die Raad voorgelê word. Dit is onwaarskynlik dat so ʼn proses nog in 2015 voltooi kan word.”

Van die vertrekpunte in die verklaring sluit in die doel om taal te gebruik op ʼn manier wat daarop gerig is om met kennis om te gaan “in ʼn diverse samelewing en om gelykberegtigde toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle studente te verseker”.

Die universiteit het dit benadruk dat, aangesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in ten minste Engels gefasiliteer sal word om geen uitsluiting op grond van taal nie, te verseker. “Dit impliseer nie dat Afrikaans as taal van leer en onderrig aan die Universiteit Stellenbosch sal verdwyn nie,” het die bestuur gesê. “Die universiteit bly verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale.”

Vanjaar was die eerste implementeringsgeleentheid ná die Taalbeleid en -plan in November 2014 goedgekeur is om gelyke status aan Afrikaans en Engels as onderrigtale te verleen. Die doel van hierdie veranderinge was om gelykberegtigde toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle Suid-Afrikaners moontlik te maak, soos uiteengesit in ons visie vir inklusiwiteit in die Institusionele Voorneme en Strategie. Die uitgangspunte in die verklaring is gebaseer op lesse wat gedurende die jaar geleer is en studente se praktiese klaskamer-ervarings na konsultasie met verskeie studentegroepe, insluitend, maar nie beperk nie tot die Studenteraad, Open Stellenbosch, [studentevakbond] SASCO en die Studenteparlement.

“Vir 2016 sal die implementering van parallelmediumonderrig (aparte Engelse en Afrikaanse klasse) vir modules met groot inskrywingsgetalle soos in die vooruitsig gestel in die huidige Taalplan, drasties versnel word,” het die bestuur van die universiteit bygevoeg. “By vandag [Donderdag] se Senaatsgesprek is departemente herinner aan die bestaande riglyn in die Taalplan dat behoorlik ag geslaan moet word op ondersteuningsmeganismes vir studente wat nie voldoende vaardig is in Engels of Afrikaans nie, veral in kleiner klasgroepe waar parallelmedium-onderrig nie haalbaar is nie.”

Lees meer oor: Open Stellenbosch, Universiteit Stellenbosch

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann Marx ·

Grootste klomp KAF wat ek al ooit gehoor het. Laat jou keuse van TAAL bepaal na watter Universiteit jy toe wil gaan……….Motiveer die lamsakkige pap regering om vir elke “taal” ‘n universiteit te bou. Hoekom moet Universiteite nou probeer om al hulle kursusse in AL die land se tale aan te bied? Sal ek myself by ‘n Portugese, Italiaanse of Griekse Universiteit loop inskryf? Nee. Hoekom nie? Want ek is nie een van daardie tale magtig nie. Nou hoekom skryf jy in SA by ‘n Universiteit in wat alles in Afrikaans aanbied as jy nie Afrikaans magtig is nie, en breek dan alles af tot hulle dit in Engels aanbied? Swak.

Fanus ·

Dit is verseker nie die idee wat ‘n mens kry wanneer jy hul twitter verklaring van gisteraand lees nie. Volgens die US sal groot groepe waar bestaande dubbel medium bestaan voortgaan. Kleiner groepe sal in Engels aangebied word en na Afrikaans getolk word. Engels sal teen einde volgende jaar hul uitsluitlike onderrig taal wees. Die wat wil kan dit in engels lees by die US se webblad. http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=3172

Boervrou ·

As ons almal dan een taal moet praat, naamlik engels, goed en wel, MAAR dan ook geen zulu, khoza of wat ookal. Wat geld vir die een, moet ook geld vir die ander. Terloops, ek weet net nie hoe ons werkers ons gaan verstaan nie. Hulle kan nie engels praat behalwe vir okay, yes en lunch time

Remondo ·

Ja nee dis net die begin binne n jaar sal daar besluit word afrikaans word afgeskryf–dis hoe hulle alles verander in DIE land stadig moor hulle ons uit eers geskiedenis dan taal en boere . afrikaanse volk “genocide”

Marous ·

Slapgattigheid!!!!! Breek die plek af en gaan loop ‘n ambag. Gouer as nou gaan ‘n graad in die land nie die papier werd wees waarop dit gedruk is nie!

Vra maar net ·

“taal mag nie toegang tot leergeleenthede beperk nie”
Dit geld blykbaar nie vir Afrikaanssprekende studente nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.