Taal speel tog ‘n rol in gesondheidsorg – peiling

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Dienslewering in pasiënte se moedertaal is lewensbelangrik wanneer dit kom by gesondheidsorg. Só toon ʼn peiling deur die burgerregteorganisasie AfriForum.

Moedertaaldag is Vrydag wêreldwyd gevier.

Alana Bailey, hoof van AfriForum se kultuursake, sê in ʼn verklaring die organisasie het in 2019 ’n peiling onder sy lede onderneem om vas te stel wat hul taalbehoeftes is wanneer hulle gesondheidsorgpraktisyns raadpleeg. Dít in die lig van hospitaalgroepe, die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens en mediese skemas wat aanvoer dat gesondheidsorgkommunikasie in slegs Engels heeltemal voldoende is.

“Dié stelling is kommerwekkend, aangesien Engels die huistaal van minder as 10% van die land se inwoners is,” sê Bailey. Bailey wys op internasionale studies wat bewys dat mense wat trauma beleef of onder emosionele druk verkeer, minder vlot in ’n tweede taal funksioneer. “Ons wou graag vasstel wat ons lede se ervaring in dié verband is,” sê Bailey. .

Luidens die verklaring het 1 024 mense aan die peiling deelgeneem. Die ouderdom van deelnemers aan die peiling wissel van 18 jaar tot ouer as 65en verteenwoordig al nege provinsies in die land. 59% mans en 41% vroue het aan die peiling deelgeneem en 96% beskik oor matriek of ’n hoër kwalifikasie.

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Sowat ʼn driekwart (74%) het aangedui het dat hulle verkies om met hul mediese skema in hul moedertaal te kommunikeer.

Luidens die verklaring het amper een uit elke vyf deelnemers (19,5%) aangedui dat hulle al in situasies was waar daar misverstande rondom hul gesondheid ontstaan het omdat hulle nie in hul moedertaal kon kommunikeer nie. Dit het ingesluit dat hulle nie die simptome behoorlik aan die praktisyns kon verduidelik nie. Sommige kon ook nie die newe-effekte van medisyne verstaan nie, terwyl ander nie die diagnose of behandelingsprosedure behoorlik verstaan het nie.

“Hierdie probleme wat onstaan omdat pasiënte nie in hul moedertaal met praktisyns kan kommunikeer nie, is kommerwekkend,” sê Alana.

Uit hierdie groep het 13% geantwoord dat hulle lewensgevaarlike gevolge beleef het omdat hulle nie in hul moedertaal behandel is nie, waarvan 8% van dié groep lewenslange nagevolge hiervan oorgehou het.

Volgens Bailey het 85% van die deelnemers verklaar dat taal bepaal watter gesondheidspraktisyn hulle van gebruik maak en 83% het selfs spesifiek genoem dat hulle verkies dat gesondheidspraktisyns hulle in hul moedertaal bedien.

Volgens Bailey is hierdie studie se resultate ’n bewys dat meer navorsing oor dié tema noodsaaklik is. “As daar in ag geneem word dat die respondente ’n klein, redelik homogene en geletterde groep mense is, is dit kommerwekkend dat 19,5% probleme ervaar het wees taal. Dit laat meer vrae ontstaan oor die ervaring van die mees kwesbare lede van die Suid-Afrikaanse bevolking, naamlik diegene wat minder geletterd is en vir wie Engels nie eens ’n tweede of derde taal is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leon ·

As die NP gemaak het soos wat in die res van Afrika gebeur het, dan was Afrikaans die enigste taal in Suid Afrika. Angola en Mosambiek is Portugees. Die Kongos en sekere Wes-Afrika lande is Frans. Zim en Kenya, Uganda, Tanzanië en Malawi is Engels. Om die Middelandse see is Arabies. Hoekom kon ons nie Afrikaans gevestig het nie. Maar toe moes die skole apart wees. Dom idee.

Niné ·

Dit is tog vanselfsprekend en heeltemal logies…duh. Dit is hoekom elke gemeenskap waar ook al n dr en n kliniek nodig het, as die geld tog net reg gebruik word.

Alana ·

Dis glad nie vanselfsprekend nie, want verskeie mediese dienste, soos die SANBD, groot privaathospitaalgroepe en alle mediese fondse verklaar dat almal gemaklik is met eentalige Engelse diens en dokumentasie. Hulle moet kennis neem van die enorme risiko’s wat hierdie houding vir beide pasiënte en mediese praktisyns skep.

Anel ·

Gaan lê bietjie in die hospitaal en wees afhangklik van die verpleegpersoneel. Dit is nou in privaat hospitaal. As jy Afrikaans praat met die verpleeg personeel, ignoreer hulle jou soos ‘n stopstraat. Die anderkleuriges word almal in hulle taal gehelp. Verder is hulle engels van so ‘n aard dat geen mens hulle in elke geval nie verstaan nie. Kla daaroor en jy kty nie eens jou pynmedikasie nie. So ek wil nie eers weet hoe gaan dit in staatshospitale nie. Maar nou ja, wat verwag mens van 30% slaagsyfer.

Erik ·

Jy is heeltemal reg. Kan jy Sotho, Zulu of Xhosa praat? Indien jy ‘n dokter of verpleegster was sou jy hulle in hul moedertaal kon help? Dink net hoe erg moet dit vir hulle wees om gedurig hulself in ‘n dikwels derde, selfs vierde taal te probeer uitdruk.

Elica ·

Ek Wil net hier beklemtoon hoe goed die zumajaardoktertjies by Pelonomi is. Van hulle gaan leer Sotho dat hulle met kinderpasiënte in hulle moedertaal kan kommunikeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.