Taalaktivis se seun in ‘ontvoeringsnagmerrie’

André Alkema saam met twee van sy seuns, Riaan (links) en Martin. Foto: Verskaf

André Alkema saam met twee van sy seuns, Riaan (links) en Martin. Foto: Verskaf

André Alkema, hoofbestuurslid van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA), se seun is glo Woensdagaand in Pretoria se middestad gekaap, waarna hy ure lank aangehou en beroof is.

Alkema het Donderdag aan Maroela Media gesê sy seun, Riaan (32), is die bestuurder van hul familie-onderneming in Pretoria-Wes, Kitstekens 2000, wat naamborde vervaardig.

“Hy het gisteraand laat gewerk en is Sunnyside toe om afmetings vir ʼn naambord by MediClinic Sunnyside te gaan doen, toe hy in Leydsstraat oorval is,” het Alkema gesê.

Riaan het vermoedelik by ʼn rooi verkeerslig stilgehou toe drie mans in die bakkie geklim het. “Hulle het hom beveel om af te kyk en hom geblinddoek terwyl een van hulle met die bakkie na ʼn woonstelblok in die omgewing gery het.”

Die mans het Riaan na ʼn woonstel gedwing, waar hulle hom glo kaal uitgetrek het om hom te intimideer. Die aanvallers, vermoedelik Nigeriërs, het hom glo in Engels gedreig hulle gaan hom onder meer “vigs” gee as hy nie vir hulle sy bankkaart se pinkode gee nie.

“Riaan het gelukkig koelkop gebly en sy samewerking gegee. Een van die mans het gaan geld trek en R2 000 onttrek. Die R5 000 daaglikse limiet is toe reeds bereik, aangesien hy vroeër die dag geld getrek het om voorraad vir die onderneming te koop.”

Die mans het verskeie pogings aangewend om meer geld te trek en deur dié pogings het Alkema begin om SMS-kennisgewings van die bank te ontvang dat die limiet bereik is.

Alkema het verduidelik dat Riaan en sy vrou, Sonette, in ʼn afsonderlike huis op hul kleinhoewe in die Moot-omgewing woon.

“Ek het omstreeks 18:50 die eerste SMS ontvang, maar nie dadelik daarop ag geslaan nie. Sonette het omstreeks 20:00 na ons toe gekom en gesê sy is bekommerd omdat Riaan steeds nie by die huis is soos afgespreek nie. Toe ek hom van my selfoon af probeer bel het, het ek al die kennisgewings gesien.”

Sonette het hul twee kinders in Alkema en sy vrou se sorg gelaat en na Sunnyside gejaag om na haar man te gaan soek. Sy het in die voorstad rondgery en Riaan se bakkie verlate gevind. “Sy het ʼn polisievoertuig in die straat sien ry en met haar hoofligte aangedui sy het hulp nodig. Sy en die beamptes het saam van kitsbank na kitsbank in die omgewing gery om te kyk of hulle hom kan opspoor.”

Die mans het glo intussen agterkom hulle kry niks met die kaart uitgerig nie en het Riaan sy klere laat aantrek en hom opdrag gegee om self na die kitsbank te gaan en geld te trek. “Hulle het sy troupand gehou en gedreig hulle het vriende in die polisie en weet waar om hom te kry en sal sy vrou verkrag as hy nie met kontant terugkom nie.”

Volgens Alkema het Riaan na ʼn kitsbank naby die woonstelblok gestap en daar probeer om geld te trek, toe Sonette en die polisie hom gekry het. “Dit was net ʼn bestiering dat sy op daardie tydstip daar aangekom het,” het Alkema bygevoeg.

Die polisie het Riaan na die polisiestasie geneem om ʼn verklaring te gaan aflê. “Hy het die polisie gaan wys waar die woonstelblok is waar hy aangehou is, maar omdat hy geblinddoek in- en uitgelaat is, het hy nie geweet watter verdieping of woonstel dit was nie.

“Die ‘wag’ by die woonstel het aan die polisie erken dat die mans met Riaan daar op is. Waarom die wag nie alarm gemaak het nie, kan ons almal net raai.” Hy het gesê Riaan is erg deur die voorval getraumatiseer, maar gelukkig ongedeerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hendrik Oosthuyzen ·

Die ‘wag’ behoort aangekla te word vir sameswering en dwarsboming van die gereg!!! Wat se slap ondersoekwerk is dit!!??

m ·

Die sogenaamde “wag” is heel moontlik deel van hierdie sindikaat wat mense kaap.

m ·

Sjoe, interessante storie. Die wag is beslis deel vd sindikaat.

Kandas ·

Ek kan julle verseker dat dit alles behalwe ‘n wolhaarstorie is.

M2222 ·

In Suid-Afrika dink jy regtig dit klink na n wolhaar storie? Die arme persoon wat dit oorleef het dink beslis nie so nie.

KP ·

Nog gevaarlike misdadigers wat niks gaan oorkom net om volgende teikens te target. Meestal onwettige immegrante wat besig is om almal te terroriseer.

DMC de Koker ·

Met alle respek, maar dis nie ‘n veilige area daardie om op daardie tyd te gaan opmetings neem nie.

J ·

Dit het met my broer n paar jaar gelede gebeur. Hulle het hom na n woonstel blok geneem. Hy kon ontsnap en ek en die polisie het die volgende dag gegaan om sy bakkie te gaan haal. Want my broer het seergekry in die voorval. Die wag het vir my gese die polisie werk saam met die Nigeriers. Hy het ook gese hy is bang vir hulle.My broer het gese hulle het die heeltyd van dokter gepraat. Hulle het my broer se foon gehad en daarna het ons familie en vriende dreig oproepe gekry. Dit is die Here se genade dat my broer en Riaan veilig is.

Wat-ek-lees ·

Hulle het darem té maklik in daardie bakkie geklim. DRIE van hulle, dis seker ‘n dubbelkajuit?
Nogtans net so gevaarlik met ‘n oop bak (sonder kappie) sou hy/hulle agterop spring. Dis daardie slag wat ek die bakkie sal omgooi.

Liewe Heksie ·

Wolhaar storie se dinges julle Dit het werklik met een van my manlike kollegas gebeur Hulle het tot sy vrou gebel en gese sy moet nie eers die moeite doen om sapd te kontak nie want hul het hul kontaks sy moes ook gaan geld trek het en aan n person in sunnyside gaan gee het inruil vir haar man se lewe Ek het self die merke van die strykyster brande gesien hy loop nogsteed met die merke So ja en hulle het hom van R9000 beroof en hy is aangehou van die vrydag tot die sondag sodat hul 3 dae se lemiet kon trek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.