Taalbeleid by UV bespreek

Hoofgebou byop die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: Evert Kleynhans (RooistoelTV) via UV Facebook

Hoofgebou byop die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: Evert Kleynhans (RooistoelTV) via UV Facebook

Die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat is onlangs tydens ʼn Algemene Vergadering bespreek en meeste studente voel baie sterk daaroor dat onderrig in Afrikaans sowel as Engels heeltemal te veel nadele vir persone in klasse, sowel as dosente veroorsaak.

Prof. Jonathan Jansen, visekanselier en rektor van die universiteit, het in ʼn bulletin aan Kovsie-personeel en -studente gesê die drie sleutelpunte wat geopper is vir ’n enkelmedium onderrigtaal, wat vir die meeste studente wat teenwoordig was, Engels beteken, is soos volg:

• Die praktyk van afsonderlike Afrikaanse en Engelse klasse lei tot skeiding van rasse, aangesien die meeste swart studente in Engels klas loop en die Afrikaanse klasse hoofsaaklik wit studente bedien. Dit is teen die UV se beleid van integrasie
• Die vermoede bestaan dat studente in Afrikaanse klasse bevoordeel word in terme van “eksamineerbare inhoud”, aangesien die opsomming van die hoofsaaklik Engelstalige handboeke slegs die noodsaaklikste inligting wat nodig is om te leer, en waaroor studente getoets sal word, saamvat.
• Die herhaling van klasse in Afrikaanse en Engels plaas ’n dubbele werkslading op dosente, terwyl hulle hul tyd aan navorsing en ander akademiese pligte kon wy.

Die oplossings wat as deel van die voorleggings ter tafel gelê is, het gewissel van onderrig slegs in Engels tot onderrig in Engels tesame met simultane tolking na Afrikaans en Sesotho. Sommige het vir keuse geargumenteer, asook dat daar klasse in Sesotho moet wees. Ander het beweer dat simultane tolking nie werk in die konteks van die snelle intellektuele besprekings en beraadslaging wat kenmerkend van akademiese onderrig is nie – selfs al sou tolking werk in die verskaffing van eenvoudige inligting in openbare en private omstandighede.

“Wat vir my duidelik is, is dat die bestaande taalbeleid van die UV vir die meerderheid van ons studente op die kampus en, vermoed ek, baie van ons personeel, ’n probleem is,” het Jansen gesê.

“By die vergadering het ek my eie standpunte oor die onderwerp gelug – naamlik dat Afrikaans ’n kosbare taal van die universiteit en ’n konstitusioneel erkende landstaal is; dat dit histories onakkuraat is dat Afrikaans ’n taal van witmense is, aangesien baie swartmense die taal help vorm het en nog steeds die taal praat; dat die klaskamer nie die enigste plek is waar integrasie nagestrewe kan word nie en dat die feit dat ons in staat was om feitlik al die ander ruimtes waarin studente saamleef en -leer, byvoorbeeld die koshuise te desegregeer; en dat eerstejaarstudente van plattelandse Afrikaanse skole beslis sal sukkel om die oorgang na akademiese taal te maak indien hulle klasse in Engels was. Hierdie is my standpunte. Maar dit is belangrik dat die standpunte van al ons belanghebbers, insluitende personeel en studente, duidelik oor hierdie belangrike onderwerp aangehoor word.”

Jansen gaan die aangeleentheid by die Senaat en die Raad opper, maar hy het intussen sy senior span versoek om met ’n proses te begin wat die insette van alle personeel en studente, wat met die gevolge van ons bestaande taalbeleid moet saamleef, sal ondersoek vir die doeleindes van onderrig, leer en navorsing.

“Uiteindelik gaan enige verandering aan die UV se taalbeleid deur die Raad gemaak word,” het Jansen verduidelik. “Niks verhoed ons egter om weer oor hierdie belangrike kwessie debat op die drie kampusse te voer nie, wat ons sal aanhou om te doen.”

Jansen het dit benadruk dat hierdie bulletin sy eerste poging is om belanghebbers, insluitende personeel en studente, se standpunte te vra oor die bestaande taalbeleid en of dit verander behoort te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Die verskoning dat engelse studente benadeel word omdat opsommings van engels na Afrikaans net die kern bevat wat dan in vraestelle gevra word is ‘n nuwe slenter. Waarom nie erken dat daar wel ‘n verskil is in “brain power” en “boereverstand”.

Joe64 ·

Weereens die afhangklikheid ten toon stel met analise. Die ANC het die gevolg van die aksie deeglik bestudeer voordat dit toegepas gaan word, en die resultaat is die een wat hulle nou kry, en dit is WEG MET JOU AFRIKANER!!! Wanneer word ons wakker!

Maar aan die anderkant, as hulle “simultane” tolking gaan aanbied, kan hulle maar net sowel die klasse in Engels gee, die taal is reeds daarmee heen!

Asjas ·

Probleem is nie die taal waarin die klas aangebied word nie. Die Afrikaner sal studeer en leer en presteer maak nie saak of sy vak in Engels is nie. Meskien sal die res ook iets leer as hulle so af en toe klas bywoon ipv monumente skend en betoog die heeldag. Wat my by die volgende vraag bring, hoe weet hulle in watter taal of watse inhoud studie materiaal bevat? Hulle is dan te besig om hulself te “liberate “?

Patrys ·

Ek kan nie verstaan wat soek diegene by die Uv wat nie Afrikaans magtig is nie!! Daar is mos Fort Hare en die talle swart kampusse vd universiteite wat moes saamsmelt. Daar word Engels mos as voertaal gebruik!

`n Kovsie student ·

My ervarings en voorstelle:
Dit is wêreldwyd bewys dat moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig is.
Hoekom kan ons nie liewer uitbrei en nog van ons inheemse tale bevorder en in die klas gebruik nie ?

Op die oomblik is tolking beskikbaar in vakke aan die Universiteit van die Vrystaat, waarin daar nie 2 lesings (een in Afrikaans en een in Engels) beskikbaar is nie. Ek as student gebruik die tolkdiens in van my klasse wat nie in Afrikaans aangebied word nie. Al probleem is dat ons lokale by die Universiteit van die Vrystaat glad nie ingerig is vir tolkdiensde nie.

Dit veroorsaak dus dat jy die Engelse lesing en die Afrikaanse tolk in jou oorfone hoor, dus kry jy nie die selfde standaard lesing as die Engels moedertaal student nie.

As kovsies `n tolkstelsel oorweeg, sal ek hulle aanraai om by die NWU te gaan leer, om te sien hoe `n tolksisteem baie effektief werk en kan werk.
Ons sal dus `n groot aantal kapitaal moet uitlê om elke fasiliteit toegankilik te maak vir `n effektiewe tolkdiens.

My oplossing: Hou aan om `n dubbelmedium instansie te wees, en sit liewers maatreëls in plek om te verseker dat kwaliteit onderrig in beide tale kan plaasvind.

Groete
`n Kovsie wat sy studies in Afrikaan wil voorsit.

Marlene ·

Wat n wyse student! Wel gedaan! Dat die rektor van Kovsies (wat sy HELE akademiese lewe in die Onderrig – en Opvoedkundige arena bestee het) dít nou nie as debatpunt gebruik nie! As opvoeder vir 32jr in onderrig onderskryf ek die wysheid geopper deur die student en wil ek byvoeg dat ons weet dat onderrig in n tweede taal die leerder se prestasievermoeëns ondermyn – dus maar net weer n manier om die Afrikaner van moedertaalonderrig te beroof en akademiese standaarde te verlaag??!! Marlene Esterhuizen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.