Taalbeleidvoorstelle nie taakspan s’n nie, erken UP

Foto: UP/Facebook

Foto: UP/Facebook

Die voorgestelde wysigings aan die Universiteit van Pretoria (UP) se taalbeleid, waarvolgens Engels die primêre onderrigtaal sal wees, is nie die voorstelle van die taalbeleid-taakspan nie.

Prof. Koos Malan, professor in publiekreg aan UP en lid van die taalbeleid-taakspan, het aan Maroela Media gesê die wysigings wat deur die rektor deurgegee is asof dit die voorstelle van die taakspan is, is ʼn wanvoorstelling.

“Die voorgestelde wysigings soos per die rektor se skrywe kom op die afskaffing van Afrikaans neer en wek die indruk dat die taakspan wesenlik op ʼn eentalige Engelse voertaalbeleid ooreen gekom het. Die is nie waar dat die taakspan op hierdie voorgestelde wysigings ooreengekom het nie. Vir sover die voorgestelde wysigings derhalwe as die mening van die taakspan voorgestel word, is dit ʼn wanvoorstelling.”

Volgens Malan het die taakspan nooit tot ʼn bepaalde finale aanbeveling gekom nie en is daar op sekere vertrekpunte ooreengekom. “Diegene wat vir die wanvoorstelling verantwoordelik was, behoort dit reg te stel. Die basiese uitgangspunte van die taakspan was vanuit die staanspoor juis die teenoorgestelde as wat die wanvoorgestelde voorstelle behels. ʼn Uitbreiding van veeltaligheid is voorgestaan, nie ʼn afname of wesenlike verwydering daarvan en die vervanging met Engelse eentaligheid wat die huidige voortstelle nou basies behels nie.”

Maroela Media het intussen korrespondensie onder oë gehad waarin ʼn lid van die universiteit se bestuur, wat ook deel van die taakspan is, toegee het dat die voorstelle nié die van die taakspan is nie, “maar eerder dié van die senaat”.

Prof. Cheryl de la Rey, rektor en visekanselier van UP, het in ʼn skrywe gedateer 18 Februarie verklaar dat die volgende wysigings aan die beleid voorgestel word:

  • Dat Engels die primêre onderrigtaal in alle lesings moet wees;
  • dat die universiteit meertaligheid moet bevorder ten einde studentesukses te fasiliteer en maatskaplike samehorigheid te bou;
  • dat Afrikaans en Sepedi gebruik moet word om addisionele ondersteuning aan studente in tutoriale, praktika en besprekings te bied; en
  • dat oorgangsmaatreëls ingestel sal word indien die voorgestelde wysigings hierbo aanvaar word.

De la Rey het in die skrywe aan personeel, alumni en ander belanghebbendes voorgehou dat dit die voorstelle van die taakspan is.

Die UP se raad hou intussen Saterdag ʼn buitengewone vergadering. Prof. De la Rey sal verslag doen oor die betogings wat die universiteit tot stilstand gebring het en die pad vorentoe. Volgens die agenda sal die “substansie van die universiteit se taalbeleid” nie tydens die vergadering bespreek word nie.

Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van die universiteit, het aan Maroela Media gesê die voorstelle is op 27 Januarie aan die senaatsvergadering voorgehou en aanvaar. Sy het gesê sy kan nie kommentaar lewer oor die interne prosedures van die taakspan nie. Die bestuurslid wat toegegee het dat die voorstelle nié die van die taakspan is nie, is tans in die buiteland. Maroela Media sal vrae aan die bestuurslid rig en hieroor berig sodra die terugvoer ontvang is.

Bouwer het intussen gesê daar is talle prosesse wat nou moet volg voordat die universiteit se taalbeleid gewysig kan word, waaronder ʼn konsultasieproses. Die voorstelle moet hierna voor die raad dien en die implementering van enige veranderinge sal in ooreenstemming met die toepaslike wetgewing geskied, aangesien die taalbeleid ʼn statutêre aangeleentheid is wat aan die minister van hoër onderwys en opleiding voorgelê moet word. “Daar is ʼn persepsie dat die EFF op en af gespring het en dat die universiteit daarom sy taalbeleid hersien, maar hierdie proses is al vir ʼn jaar aan die gang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

anna ·

En Weg is Cheryl!!!!!!! Wou seker aansien by wim gekry het!!! Een van die dae is hy ook weg!!!
Die skade wat die vrou nie alle veroorsaak het nie!!!! En sy is nog daar????

Michael ·

Stel ‘n mosie van wantroue teen haar in en eis haar bedanking ,volgens die inligting het sy ‘n verskuilde agenda.

hans ·

Skokkend!!! Om die minste se. Die eerbare weg is dat die Rektor onverwyld bedank.

HEVW ·

Ja baie teleurstellend om die minste daarvan te se. So gaan dit ook op US . Dit is mense in hierdie posisies wat n onkreukbare voorbeeld aan die jeug moet stel en agting en respek moet afdwing. Waarom nie sake op n eerbare wyse hanteer nie. As die element vertroue daarmee heen is dan is daar geen gronde vir onderhandeling nie.

Veritas ·

Klink na ‘n ANC LP wat die pres probeer beskerm. Praat die waarheid man. Erken maar julle het te veel druk van die borge gekry.

Benito Odendal ·

=Verskuilde agendas ??= Cover-up’s ?? = Rektore was altyd gesienne en gerespekteerd as BO VERDENKING en TOONBEELDE van INTEGRITEIT = NOU WAT DE DROMMEL NOU….??? US , UCT , UP, NMU , PUK ,Kovsies ,UJ en Wits rektore ALMAL VAN HULLE …….= HOOGS ONDER VERDENKING = ROOILIGTE OP HUL INTEGRITEIT, AGENDAS, SELFRESPEK , RESPEK VIR HUL INSTELLINGS , STUDENTE & HUL POSTE ????….SJOE…!!!

Dan ·

Toe De Klerk, wat het geword van die grondwet ooreenkoms van eie skole, nou is jy tchoepstil, dit wys net weereens jy moes nooit vertrou gewees het nie, die grondwet beteken net mooi niks. Die wetsoortreders word beskerm en hul sin gegee. Koebaai liewe Suid Afrika!!!!

des ·

Mens kan sien sy is nie ‘n De la Rey gebore nie, want Gen. De la Rey sal sweerlik in sy graf omdraai as hy nie daar sal uitspring om ons afrikaners te kom lei nie.

des ·

Mens kan sien sy is nie ‘n De la Rey gebore nie, want Gen. De la Rey sal sweerlik in sy graf omdraai as hy nie daar sal uitspring om ons afrikaners te kom lei nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.