Taalbesluit by Elsenburg-landboukollege omgekeer

Elsenburg-landboukollege Foto: Alta Griffiths/eGGSA Library

Elsenburg-landboukollege Foto: Alta Griffiths/eGGSA Library

Die besluit dat alle onderrig by Elsenburg-landboukollege slegs in Engels sal plaasvind soos vroeër die week aangekondig, is Vrydag tydens ʼn vergadering omgekeer. Beide Afrikaans en Engels is weer as onderrigtale ingestel.

“Hoewel ons baie bly is oor die besluit, is ons eerstens steeds bekommerd oor die afwesigheid van ʼn besluitnemingsproses wat gevolg kan word wanneer besluite soos dié om die onderrigtaal te verander geneem word,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê. “Tweedens kan ons nie verstaan dat daar nog nie opgetree is teen die studente wat die onwettige optog gelei het nie.”

Maroela Media het vroeër berig sowat 14 leerders van Elsenburg het deelgeneem aan die optog. Die optog is gelei deur ʼn lid van die studenteraad, Sibelo Nkobo. Die optoggangers het talle klasse ontwrig en ander studente hul reg tot onderrig ontneem. “Die bestuur het tot dusver nog glad nie teen die studente opgetree nie. Wat nog erger is, is die feit dat Nkobo die hele studentegemeenskap in vergaderings moet verteenwoordig terwyl dit duidelik is dat hy ʼn politieke agenda dryf.”

Darryl Jacobs, waarnemende adjunk direkteur-generaal van landbou-ontwikkeling en ondersteuningsdienste in die Wes-Kaap, het in ʼn skrywe opdrag gegee dat alle onderrig voortaan slegs in Engels moet plaasvind.

“Daar was geen konsultasie met enige party nie. Die departement was ook baie vinnig, dalk te vinnig, om so ʼn drastiese besluit te neem sonder enige ondersoek,” het Maree bygevoeg.

AfriForum Jeug het vroeër dié week ʼn skrywe aan die kollege gerig waarin daar geëis word dat die besluit om alle onderrig in Engels aan te bied omgekeer moet word, anders sal verdere stappe geneem word.

“Talle lede van AfriForum Jeug het die week aktief saamgewerk om die ondeurdagte besluit van die departement teen te staan. Ons sal die situasie fyn dophou omdat ons vas oortuig is, die week was net ʼn voorsmakie van wat voorlê,” het Maree afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mike ·

Ons het al die geleenthede in die wereld om ons eie landbou kolleges op te rig. Kom ons hou op kla en begin daaraan werk.

Winston ·

Ja vir wat moet ons terug staan en agter oor lê? Ons het ook regte en dit wat daar bestaan het nie soos n paddastoel opgekom nie! Laat die res van die bevolking ook opstaan en self begin bou en nie net bakhand staan in die afbreek van alles nie. Puik Afriforum en trots om n lid te wees!!!

Winston ·

Dave maak eers 100% seker voordat jy so n stelling maak asb.

George ·

Mooi so Afriforum!!! Ek is trots om ook ‘n lid te wees. Julle het die vyande van Afrikaans weereens ‘n bloedneus geslaan. Hou hulle maar fyn dop, hulle is maar ‘n agterbakse spul.

Adriaan ·

Wat is die DA se kommentaar? Hulle is in beheer van die betrokke Provinsiale Departement van Landbou onder wie se beheer Elsenburg val. Wat is die DA se beleid rakende die handhawing van Afrikaans? Hellen Zille is die Premier en moet sekerlik ook rigting gee rakende beleid in die provinsiale departemente in die Provinsie.

Dave ·

Die DA volg ANC-beleid soos in regstellende aksie en dies meer èn die DA minag Afrikaans wat beteken dat DA-kiesers verraai die land.

Sarie ·

Die DA gee nie ‘n snars om vir Afrikaans nie. In ‘n provinsie met net drie amptelike tale is dit baie maklik om ‘n bruikbare taalbeleid saam te ste in staatsdepartemente. Engels word egter verkies. Selfs die onderwysdepartement sukkel aan met Engels terwyl die oorgrote meerderheid leerders Afrikaans is. Jy moet hoor hoe die vergaderings in die Weskusdistrik in Engels aangebied word. Om van te huil. Dit terwyl 80 persent wat daar sit Afrikaans is en die ander wel Afrikaans kan verstaan.

Bruno Stef ·

Die opgesweepte groepe sal by elke instansie kyk hoe ver hulle die status van Afrikaans kan ondermyn en as daar nie hewige teenstand is nie en aanvaar word beweeg hulle aan na die volgende teiken. Dit is n goed georkestreerde metode soos straat en dorpsname wat op n slinkse manier by die agterdeur ingeglip word en met groot veronwaardiging van hulle kant verdedig word.

Martin ·

Ja Die afrikaners se reg tot afrilkaans word ondermyn terwyl die meederheid nie afrikaans wil leer nie ,maar hulle het graad 12 ,Ek kan maar net so wel met graad 10 op unversiteit gaan sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.