Taalbul Christo van Rensburg oorlede

Prof Christo Janse van Rensburg (Foto: Facebook)

Prof Christo Janse van Rensburg, een van die bekendste Afrikaanse taalkundiges, is Maandag in die ouderdom van 80 oorlede.

Hy was emeritus professor van literatuur en die voormalige direkteur van die Eenheid vir die Ontwikkeling van Taalvaardigheid by die Universiteit van Pretoria. Hy het vroeër vanjaar die C.J. Langenhovenprys vir taalwetenskap ontvang, spesifiek vir sy werk om taalvariëteite te identifiseer, op te teken en te ontleed.

Prof. van Rensburg is veral bekend vir sy boek, So kry ons Afrikaans. In dié boek het hy die geskiedenis van Afrikaans opgeteken met ‘n klomp hoogtepunte langs die pad. In die boek val die fokus op Afrikaans en die mense wat Afrikaans praat.

Hy was dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria toe hy begin belangstel het in die dialekte van Afrikaans. Hy het verskeie navorsingsondersoeke uitgevoer op soek na antwoorde, onder andere ʼn omvattende ondersoek oor die Afrikaans van die Griekwas. Later het hy departementshoof geword van die departemente Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria. Hy het steeds navorsing gedoen oor die wortels van Afrikaans.

Prof. van Rensburg laat ‘n indrukwekkende lys vakwetenskaplike geskrifte na. Hy was ook lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en betrokke by verskeie taalverenigings, die taalmuseum en opleidingsprogramme vir taalonderwysers.

Prof. van Rensburg het op 21 Julie sy 80ste verjaarsdag gevier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

IK ·

Dankie prof. vir u onskatbare navorsing en bydrae tot die mees opgevoede- en beskrywendste taal ter wêreld. Dan dink ek ook aan C.P. Hoogenhout se bekende:
Engels! Engels! Alles Engels
Engels wat jy sien en hoor.
In ons skole, in ons kerke
word ons moedertaal vermoor.
……………………………………………………..
Wie hom nie laat anglisere,
word geskolde en gesmaad.
Dan die eerste versie deur ”n Regte Afrikaander’ met opskrif: ‘ONS TAAL”.
Ons ou’ers taal, ons erfnis goed,
Wat ower gaat, van bloed op bloed,
Van tijd tot tijd, van ouer op kind,
Hou dus mar stijf, mijn liwe vrind!
Aangehaal uit Afrikaanse Gedigte (gedruk 1888) versamel deur F.W.Reitz (Hoofregter in d’Oranje Vrijstaat).

Charles ·

Wat ‘n plesier om jou kommentaar te lees.
Ek self is besig om President Reitz se outobiografie en 62 gedigte te lees wat ek aangeskaf het by die NALN.
Afrikaans ons dierbaarste, lieflikste skat, ons sal jou koester en beskerm so lank as wat ons lewe, net soos Professor van Rensburg gedoen het!

Corlietha Swart ·

‘n Groot verlies vir die Afrikaanse Taalkunde – ons sal sy menswees net so baie mis. Prof. Christo onlangs in die Rosestad gesien met prof. Jaap Steyn se 80ste verjaarsdagviering.
Baie sterkte aan sy familie en vriende. U reuse navorsingstaak is nou (goed) afgehandel –
RIV, prof. Christo!

Taalkoei ·

Het julle nix anders om te doen,om Worde te draai.

Ek is n Buitelander en het hard probier,om afrikaans te leer praat en skryf.
Ek is Trots dat my Mense hier (Kinders en Vollwassene!) my kon verstaan.Ook smile hulle.
Afrikaans is lekka en plesierig.
Dankie Christo van Rensburg

Renier ·

Nog ‘n seder het geval in die bos van taalstryders. Dankie, Prof Christo, vir u wonderlike kultuur-nalatenskap.

Bossie ·

Mag die Vader ons behoed met sulke onopgevoede mense wat net MOET kommentaar lewer, die uitskieters van die hoogste vorm van eenvoud. Hier gaan ‘n man verby… Groot waardering vir u ongelooflike aandeel en u liefde vir ons taal so eie aan ons mense. U bydrae is ‘n erflating van onskatbare waarde. Afrikaans, ons mooiste, mooiste taal. Rus in vrede Prof.

Bren ·

Wat n verlies ! Ek gaan jou vreeslik mis, die vriendelike geselsies en altyd n mooi woord en n grappie! RIV

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.