Taalfikse ouers beteken presterende kinders

kind-seun-taal-woorde

Foto: Bigthink.com

Suid-Afrikaanse kinders se leesvermoëns en -begrip is oor die laaste paar jaar aan’t afneem, maar talle ouers meen steeds hulle moet hulle kinders Engels grootmaak om te verseker dat hulle wêreldgehalte-onderrig kan kry.

“Dit is eenvoudig nie die waarheid nie. Ons probeer hierdie mite die nek omdraai op ʼn baie praktiese wyse. Daar is geen beter manier om dit te doen as om by taal- en spraakterapeute kers te gaan opsteek, wat elke dag met kinders werk en die leemte sien nie,” verduidelik Hannie Viljoen, projekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand se Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT).

GeRAT bied Donderdagoggend ʼn gratis konferensie aan waar Christien Neser, ʼn skrywer en spraakterapeut, en Hannekie Verwoerd, ʼn spraak- en taalterapeut, ʼn leeswêreld vir ouers en belangstellendes sal oopbreek. Die twee sprekers sal ook verduidelik hoekom kinders se taalontwikkeling en akademiese sukses hand aan hand loop.

Neser sal spesifiek fokus op die belangrikheid van lees in Afrikaans, van voorlesings en wat die resultate daarvan is. Sy sal ook vir konferensiegangers verduidelik hoe hulle kinders kan motiveer om te lees.

Verwoerd praat weer oor taalontwikkeling, wat die sleutel tot akademiese sukses is. “Sy sal vir ouers verduidelik dat dit reg is om ook ʼn tweede en selfs ʼn derde taal in ʼn huis aan te neem, maar dat ʼn mens eers ʼn fondasie met ʼn moedertaal moet vestig,” het Viljoen gesê.

Volgens haar het GeRAT uit navorsing gesien dat ouers deesdae dikwels nie meer net een taal suiwer gebruik in ʼn huisgesin nie.

“Dit beteken kinders se woordeskat ly daaronder, wat weer ʼn negatiewe invloed op hulle akademiese prestasie kan hê. As ʼn kind nie mooi Afrikaans kan praat nie, het die kind ʼn tekort in sy Afrikaanse taalskatkis. Die kind gaan sukkel om hom- of haarself uit te druk, buiten dat die kind boonop self gaan sukkel om die akademiese taal behoorlik te verstaan.”

Viljoen hoop dat ouers na afloop van die konferensie opnuut geïnspireer en gemotiveer sal wees om, wanneer hulle Afrikaans in hulle huisgesin praat, dit suiwer te praat.

“Ek hoop ouers sal teenoor hulleself onderneem om te let op hulle woorde wanneer hulle met mekaar praat en dit nie met Engels te meng nie. En wanneer hulle hul kinders aan Engels blootstel, vir watter rede ook al, dat hulle suiwer Engels ook sal gebruik en nie die twee tale sal meng nie, met die wete dat dit sukses vir hulle kinders op skoolvlak sal beteken.”

  • Daar is nog sitplekke beskikbaar vir ouers en belangstellendes wat GeRAT se Taalfiks-konferensie wil bywoon. Die geleentheid vind reeds Donderdag 8 Februarie om 08:00 vir 08:30 tot 12:00 by die Doxa Deo Ouditorium by die Lyttelton-winkelsentrum in Govermentweg plaas. Besprekings kan gedoen word deur ʼn e-pos te stuur na Hannie Viljoen by [email protected] voor Woensdag 7 Februarie om 16:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Lees sosiale forums en ontmoet ouers van kinders wat nie taalvaardige ouers het nie.

Veritas ·

Hierdie is gladnie nuwe nuus nie. As ek kyk na die spelling en algemene taalgebruik van kommentators, op hierdie forum, is dit al sowat dertig jaar lank ‘n probleem. Die koms van televisie, selfone en rekenaars het natuurlik ook baie daarmee te doen dat ouers nie werklik taalvaardig is nie. Ek vind dat ek self soms my tale meng, veral as dit kom by tegniese terme.

Cherokee ·

Heeltemal toegegee met wat jy sê. By tegniese terme is ek net so skuldig. Want wie van ons sal ‘n rekenaar kan instel in Afrikaans of Microsoft Office of Photoshop in Afrikaans kan hanteer! Ek het ‘n onderdelewinkel se personeel baie jare gelede laat skaterlag toe ek instap en vra of hulle straalvliegtuie in voorraad het. Na vele fronse het ek verduidelik dat ek na carburator jets soek. Maar dit is steeds reg om ten minste te kan spel in jou eie taal en nie te spog met jou liefde vir Afrikaans onder ‘n Engelse skuilnaam nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.