Taalmonument kry nuwe raad

Taalmonument (Foto: Alexander Mickel)

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl het pas ʼn nuwe raad verwelkom wat deur die departement van sport, kuns en kultuur aangestel is.

Volgens die direkteur, Michael Jonas, sien die bestuur en personeel daarna uit om in noue samewerking met die raad die visie en doelstellings van ʼn inklusiewe instelling teweeg te bring. “Ons bou voort op ons projekte om miskende variëteite van Afrikaans te erken en om die diversiteit van Afrikaans deur inklusiewe programme en aktiwiteite te bevorder,” sê hy. “Hoewel ons 45ste verjaardagviering in 2020 deur die Covid-19-pandemie omvergewerp is, het ons goed aangepas by die nuwe uitdagings en ons virtuele voetspoor aansienlik vergroot.”

Jonas sê die nege lede, van wie drie in die vorige raad gedien het, verteenwoordig ʼn breë spektrum van kulturele, linguistieke, regs- en finansiële kundigheid “wat met vrug tot voordeel van die instelling aangewend sal word.”

Die raadslede, wat vir drie jaar sal dien vanaf begin 2021, is adv. Jean Meiring (voorsitter), Sibongile Tsoleli (ondervoorsitter), prof. Anne-Marie Beukes, Heidi Erdmann, Jurie Saal, Lionel Adendorf, Logan Munsamy, Suren Maharaj en dr. William Langeveld.

“ʼn Deel van ons missie is om die ATM op gesonde en deursigtige finansiële en administratiewe beginsels te bestuur wat die instansie sal vestig as ʼn leidende en gerekende rolspeler in die erfenissektor. Dit is ons taak om Afrikaans se diverse taalerfenis, kultuurhistoriese geboue en erfenisterreine te beskerm en te bevorder,” sê Jonas.

Volgens hom is die instelling in ʼn bevoorregte posisie om kultuur, natuur én plesier te kan vier. “Ons moet egter ook ons onmiddellike gemeenskap in ag neem en na hulle uitreik. As die Bolandse gemeenskap nie die monument as relevant beskou nie, is dit moeilik om die waarde van hierdie plek, hierdie ruimte, aan ander mense oor te dra. Gelukkig lyk dit asof die Afrikaanse Taalmonument toenemend as ʼn moet-sien-toerisme-aantreklikheid deur binnelanders en buitelanders beskou word. En dit is waarop ons wil voortbou.”

Die monument en museum is oop vir besoekers. Vir meer inligting oor al die beplande geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (met Covid-19 wat in gedagte gehou word), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Kokerboom ·

Solank die persone Tsoleli, Munsamy en Maharaj Afrikaanssprekend is geen problem. Indien nie, wat soek hul daar?
MM gee asb klarigheid

Anti-Verkramp ·

Van daai suile moet ‘n bietjie technicolor kry. Altyd gedink dit lyk te wit. Daar is meer Afrikaans-sprekers van kleur afterall.

MakersMark ·

Goed so drie en vier kliek is moeilik om te tik op ‘n sleutelbord.

Anti-Verkramp ·

Wel hulle moedertaal is nie Afrikaans nie. Die blote feit dat hierdie mense bereid is om op ‘n raad van ‘n Afrikaanssprekende organisasie te dien, se mos reeds vir jou dat hulle belangstelling toon in die taal (en met Afrikaanssprekendes wil saamwerk). Afrikaans is nie ‘n eksklusiewe taal nie en geen bevolkingsgroep kan dit as hul eksklusiewe eie kleim nie, dit verwelkom ALMAL wat daarin belangstel en in wil deel. Ek is seker dat hierdie persone in elk geval, as hulle nie alreeds die taal magtig is nie, dit gaan aanleer.

MakersMark ·

Presies dis reg so. Engels en afrikaans is die tale wat lokaal gepraat word, maar afrikaans die enigste wat lokaal ontwikkel is, wat oor volle tegniese en wetenskaplike verwysings beskik sodat wetenskap, wiskunde, rekenaargeletterheid, sterrekunde, ingenieurswese, geestes en gesondheidswetenskappe en biologie ten volle daarin bestudeer en nagevors kan word. Die monument is uiters gepas.

Anti-Verkramp ·

Hoeveel keer was julle al by die monument? Ek kan net 2 keer in 40 jaar onthou en ek bly in die Kaap.

Ibtisaam ·

Dit is ‘n baie oulike plek vir ‘n familie uitstappie. Goedkoop, pragtige uitsig oor die Boland tot by Tafelberg, iets om te leer by die Museum (die Muslims se fondamentele bydrae tot die ontwikkeling van die taal), eetgeriewe, boomryke areas vir uitspan, speelareas vir die kinders, skoon toiletgeriewe, interessante argitektuur (dit is self in ‘n Britse wetenskapfiksie gebruik!). Ek gaan gereeld.

Hector ·

Geagte Anti-Verkramp, as ‘n bevloë Vlaamse (!) minnaar van Afrikaans en die Afrikanervolk, het ek sedert 1982 my toergenote van Vlaandere af minstens 20 X na die monumentkoppie en -museum gebring en vir hulle die sterke simboliek verduidelik van Langenhoven se hiperbool en N.P. van Wyk Louw se ‘twees,ydende swaard en natuurlik ook van die leuse by die ingang ‘Dit is ons erns’. Maar van erns gepraat, die laaste paar kere wat ek vir die museum besoek het, het ek in die winkel gesoek en gevra vir kaartjies wat my toervriende kon koop. Wie skets my verbasing toe ek te hore kry: ‘Jammer, maar ons het geen kaartjies in Afrikaans nie’. In ‘n museum vir die Afrikaanse taal asseblief!
Maar nou is die nuwe Raad blykbaar op die regte pad, want Langenhoven se hiperboliek gaan nou ‘inklusief’ gemaak word. DIT KAN EK GLAD NIE VERSTAAN NIE! En U, geagte Anti-Verkrampte?

Anti-Verkramp ·

Absolute skande dat die kaartjies nie in Afrikaans beskikbaar was nie. Daar word nou bekwame mense op die Raad aangestel om sulke dinge reg te stel.

B ·

Maak dit saak? Ek sien gereeld die baken wanneer ek daar rondry. Mooi monument

Jdb ·

Praat Tsoleli, Munsamy en Maharaj Afrikaans as huistaal? Indien nie, wat maak hulle op die raad?

Nico ·

Die Taal monument het nie nie-Afrikaans sprekende lede nodig nie,die lede moet kan Afrikaans praat.

Coenraad ·

Ek het ‘n probleem met die ‘diversiteit’ en ‘variëteite’ van Afrikaans. Van die goed wat ek hoor, is nie Afrikaans nie.

Anti-Verkramp ·

Jy kan nie beheer of voorskryf hoe dit gepraat word nie maar Standaard Afrikaans (as skryftaal) moet gehandhaaf word.

MakersMark ·

Daar is net een afrikaans maar verskillende dialects hoe mr.makatees praat is verskillend van hoe mr. van wyk praat gelukkig is daar net een linguistiese korrekte manier. Drie en vier klicks werk nie.

Anti-Verkramp ·

Wat is die linguistiese korrekte manier? Gautengers kan nie eers die woord “môre” korrek uitspreek nie. Afkorting vir meneer is mnr. nie mr. nie. Engels is nie engels nie.

Francois Le Cochon ·

Ek weet vir ‘n feit dat daar baie Indiers in Silverton (Pretoria) bly wie se huistaal Afrikaans is. (Het al vir my vriend Brenesh daar gaan kuier). Hul Engels is ook net so swak soos al die ander Afrikaans sprekende Pretorianers, my familie wat daar bly ingesluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.