Taalmonument vier 40 jaar met gratis fees

atm 40 jaarDie Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier volgende Saterdag, op 10 Oktober, sy 40ste verjaarsdag en almal word genooi om saam te kom partytjie hou. Die tema is 40 jaar oud, 40 jaar jonk.

ʼn Gratis Verjaardagfees word van 10:00 tot 15:00 in ‘n groot tent by die monument aangebied met ‘n opwindende program wat optredes deur kunstenaars, ‘n fakkelloop, tradisionele kosstalletjies, kinderaktwiteite én die opening van twee nuwe uitstallings insluit.

Ivan Botha en Donnalee Roberts van Pad na jou hart-faam is die seremoniemeesters. Die kunstenaars op die program sluit in klopse (die Drakenstein Jeug Ontwikkelingsgroep), rieldansers (die Boland Vastrappers), die bekroonde plaaslike mannekoor Adagio en die musikante Willim Welsyn en Ryno Velvet.

‘n Hoogtepunt is die bekendstelling van Groen: Tuin van Digters om 13:15. Die digter Marius Titus kom lees sy gedig voor, wat ingesluit is in dié uitstalling van 12 gedigte wat vir ses maande in die Taalmonument-tuin vertoon sal word. Die uitstalling bevat gedigte deur Breyten Breytenbach, Adam Small, Carina Stander, Johan Lodewyk Marais, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert, Marius Titus, Diana Ferrus, Stef Bos, Hemelbesem, Clinton V du Plessis en Koos Kombuis. Dit word aangebied in samewerking met die Breytenbach Sentrum op Wellington.

‘n Kanonafvuring vind om 12:00 in die Tuinteater plaas, met vier skote ter viering van die vier dekades. ‘n Lid van die publiek wat ‘n vraag reg antwoord, sal die kanon kan afvuur. Dit word voorafgegaan deur ‘n praatjie oor die geskiedenis van kanonne om 11:30 (Engels) en om 11:45 (in Afrikaans).

Om 12:20 daag die Voortrekkers via ‘n 8 km-fakkelloop vanaf die Taalmuseum in Pastorielaan op, waarna die groot fakkel binne die Besoekersentrum aangesteek word, gevolg deur ‘n praatjie oor die nuwe uitstalling in dié sentrum.

“Ons is baie opgewonde – dit is die eerste keer dat ‘n permanente uitstalling by die Taalmonument aangebied word,” het Jack Louw, direkteur van die ATM, gesê. “Die eerste fase van die uitstalling fokus op die bou en simboliek van die monument, asook op die plek van Afrikaans in die wêreld.”

Ander aktiwiteite sluit in die oorhandiging van 100 Afrikaanse boodskappe deur Kraal Uitgewers, die bekendstelling van Die Wonder van ‘n nuwe taal in Afrika-dokumentêr (om 11:00 in die Konferensielokaal), die oorhandiging van ‘n Afrikaanse roos deur die FAK, en ‘n bekendstelling van die Paarl se nuwe Boomroete (wat by die Taalmonument begin).

Toegang is gratis. Geen bespreking is nodig nie.
Besoek die webwerf of Facebook-blad vir meer inligting.
Vir navrae, skakel tel 021 863 4809 of 021 863 0543/2 of stuur ‘n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Ek wens almal wat daar gaan wees ‘n wonderlike dag toe. Ek wens ek kon daar wees, maar Gauteng is ‘n bietjie vêr van julle af!!!

Genis ·

Ek hoop hulle gee vir ons t-shirts soos die ANC en EFF aan hulle ondersteuners uitdeel. En lekker boereworsrolle met gebraaide uie, mostert en tamatiesous. Ons kry nooit niks, moet net gee, gee, gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.