Taalsaak: Wetgewing hoef nie in 11 tale te wees nie

Argieffoto

Argieffoto

Die gelykheidshof in Kaapstad het Woensdag beslis wetgewing hoef nie in al 11 amptelike landstale gepubliseer te word nie.

Die taalaktivis Cerneels Lourens het ʼn versoek ingedien dat alle wetgewing in die amptelike landstale gepubliseer moet word, aangesien hy van mening is daar word, kragtens die Wet op Gelykheid, onbillik teen hom gediskrimineer op grond van taal.

Volgens Lourens word die status van ander tale ondermyn wanneer wetgewing, wat deur die Parlement uitgevaardig word, nie in alle amptelike tale gepubliseer word nie. Engels word gevolglik ook tot ‘n “super” amptelike taal verhef.

Die hof het egter nie met Lourens saamgestem nie. “Daar is geen grondwetlike of statutêre verpligting op enige van die respondente om alle nasionale wetgewing in al die amptelike tale te publiseer of te vertaal nie,” het regter Bennie Griesel in sy uitspraak gesê.

Griesel het gesê die omvang van die diskriminasie was billik soos beoog deur die Wet op Gelykheid. “…die saak kan nie op emosie beslis word nie, maak nie saak hoe diep dit gewortel is nie,” het hy gesê.

Volgens Griesel moet die antwoord in die Grondwet, wat die amptelike tale erken, gesoek word. Een van die grondwetlike bepalings is dat die nasionale en provinsiale regering enige van die tale kan gebruik vir hul doel met inagneming van gebruik, uitvoerbaarheid, koste, streeksomstandighede en die balans van die behoeftes van die bevolking as ʼn geheel.

Die Grondwet bepaal verder dat die nasionale en provinsiale regering minstens twee amptelike tale moet gebruik. Die gesamentlike reëls van die Parlement bepaal dat die amptelike teks van ʼn wetsontwerp in een van die amptelike tale moet wees en in minstens een ander amptelike taal vertaal moet word.

AfriForum het Lourens finansieel gesteun. Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies, het AfriForum besluit om die saak te ondersteun omdat dié organisasie baie sterk oor taalregte oor die algemeen en Afrikaanse taalregte in die besonder voel.

Die saak is voorberei om deur al die howe tot selfs in die VN se Menseregtekommissie geneem te word, sou daar nie aanvanklik sukses behaal word nie.

Lees ook:
Uitspraak in taalhofsaak vandag verwag
Video: Taalaktivis hof toe vir wetgewing in al elf landstale

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.