Taalverslag nié ontleding van NWU se taalbeleid, sê Solidariteit

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging Foto: Solidariteit

ʼn Verslag wat uitgereik is oor moedertaalonderrig op tersiêre vlak, is nie ʼn ontleding van die NWU se taalbeleid soos beweer word in die media nie, het Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, Woensdag gesê.

Hermann se reaksie volg nadat Theo Venter, spesiale raadgewer van prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit, gesê het dat AfriForum en Solidariteit pas die taalverslag uitgereik het met die doel om die komende raadsvergadering te beïnvloed.

Professor Fernand de Varennes, ʼn internasionale taalregtekenner, het in die verslag beklemtoon dat ʼn taal met die omvang en ontwikkelingsvlak van Afrikaans as ʼn primêre onderrigmedium aan beide publieke en privaat universiteite gebruik mag word.

“Die verslag se fokus is op die internasionale reg en praktyk van moedertaalonderrig op tersiêre vlak,” het Hermann gesê. “Dit is dus nie ʼn ontleding van die NWU se taalbeleid nie, maar ʼn ontleding van die internasionale prentjie ten opsigte van moedertaalonderrig. Dit is ʼn onafhanklike verslag oor die internasionale wêreld en dit is vreemd dat die NWU die verslag voor die tyd wou beïnvloed.”

Hermann het gesê dr. De Varennes is een van die voorste taalkenners in die wêreld en daarom is hy gebruik. “Sy voorwaarde vir die opstel van die verslag was dat daar nie ingemeng mag word in die inhoud nie. Ons het dit gerespekteer en die NWU moet dit ook respekteer.”

Volgens hom is die verslag ʼn insetdokument oor die hele debat oor Afrikaans by tersiêre instellings en spesifiek die NWU. “Niemand moet uitgesluit word uit die debat oor die verslag nie. Solidariteit en AfriForum het ʼn konferensie gereël om die verslag bekend te stel. Dit was ʼn oop uitnodiging en alle rolspelers is genooi,” het Hermann beklemtoon. “Die registrateur van die NWU het reeds op 23 Februarie laat weet sy kan dit nie bywoon nie en Venter het bevestig dat hy namens die registrateur die konferensie sal bywoon.”

Die konferensie was glo egter net ʼn bekendstellingsgeleentheid van die verslag. “Die groot debat lê nou voor. Al die raadslede, senior bestuur, konvokasie en alumni-strukture en studenteleiers het die verslag ontvang.” Hy het gesê hulle vertrou dat die verslag sal help om inhoud aan die debat oor Afrikaans by die NWU te gee.

“Ons kry ongelukkig die idee dat die topbestuur van die universiteit reeds op ʼn uitkoms besluit het en nou besig is met ʼn proses om by die vooruitbepaalde uitkoms te kom,” het Hermann bygevoeg. “Hierdie verslag is vir hulle baie lastig want dit wys dat die internasionale reg en praktyk ʼn plig plaas op moedertaalonderrig ook op tersiêre vlak. In plaas van om benoud te reageer oor die verslag stel ons eerder voor hulle maak die inhoud van die verslag deel van die groter debat.”

Lees alle vorige berigte oor die taalverslag op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.