Tabakinstituut bekommerd oor nuwe naspoorstelsel vir sigarette

Argieffoto: Pixabay

Die Tabakinstituut van Suidelike Afrika (Tisa) het gewaarsku dat die oorhaastige implementering van ʼn nuwe stelsel om sigarette te merk en na te spoor, gaan lei tot die toekenning van ʼn multimiljoenrand-tender aan ʼn monopolie wat dalk nie die multimiljoenrand- onwettige sigaretbedryf gaan stuit nie.

Tisa het gesê die tegnologie om sigarette te merk en na te spoor, wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) bekend gemaak het, gaan nie die grootste probleem in die handel van onwettige sigarette keer nie. Dít is om vas te stel of die produksievolumes wat sigaretvervaardigers verklaar, inderdaad akkuraat is.

Die SAID het in April aangekondig hy het begin met verskeie projekte om onwettige tabakhandel te stuit.

Francois van der Merwe, voorsitter van Tisa, het gesê die nuwe plan is aanvanklik onder die leierskap van Tom Moyane beraam, toe hy nog die kommissaris van die SAID was. Die inkomstediens het op 26 April vanjaar voorstelle gevra daaroor. Belanghebbendes het tot 20 Junie om voorstelle in te dien vir die aanstelling van ʼn enkele diensverskaffer om sigarette na te spoor.

Hy het gesê die SAID wil dan binne 12 maande ʼn stelsel implementeer wat die Europese Unie en Ghana meer as vier jaar van vergaderings en toetse gekos het om reg te kry.

Van der Merwe het gesê die SAID wil ʼn enkele diensverskaffer vir agt jaar aanstel om ʼn stelsel te implementeer wat ʼn impak gaan hê op groothandelaars, kleinhandelaars, verspreiders en vervaardigers – en dít teen beduidende koste én sonder enige konsultasie met enigiemand in die waardeketting.

Die kontrak sal miljarde rand werd wees vir die suksesvolle bieër.

Die inkomstediens het verlede jaar meer as R8 miljard se belasting verloor omdat sigaretvolumes nie reg verklaar is nie, het Tisa gesê.

ʼn Nuwe stelsel moet hoofsaaklik daarop fokus om die grootste probleem op te los, en dít is om produksievolumes te kontroleer deur digitale tegnologie in die fabriek, het Tisa gesê.

Van der Merwe het gesê Tisa steun merk-en-opsporingstegnologie wat die winsgewendste kant van die onwettige bedryf sal kniehalter en wat sal verseker die wettige tabakbedryf kry ʼn voet in die deur in een van die wêreld se grootste onwettige markte.

“Hierdie is ingewikkelde, hoëtegnologiestelsels wat by die bestaande sowel as toekomstige tegnologie moet inpas wat die SAID, klein- en groothandelaars, asook vervaardigers gebruik, sodat data daaroor dadelik gedeel kan word.

“Die implementering van só ʼn gesofistikeerde, IT-intensiewe stelsel benodig genoeg tyd vir voorbereiding, konsultasie en toetse, en Tisa is bekommerd dat die gejaagde proses wat die SAID volg, dié belangrike stappe oorgesien het,” het Van der Merwe gesê.

So veel as 80% van sigarette word verkoop deur klein, informele winkeltjies wat nie toegerus is vir die nuwe reëls nie en wat gevolglik uit die bedryf gedwing sal word.

Die stelsel, soos uiteengesit in die tender, gaan net op die wettige bedryf fokus en kan onwettige handel selfs verder laat toeneem, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Penny wise, pound foolish. Iemand gaan weer ‘score’

Willem van der Merwe

Penny wise pound foolish. Miljarde rande om seker te maak rokers rook nie onbelaste sigarette nie, en dan saam korrupsie,wie gaan dit betaal? Ons nie rokers gaan ook saam met die rokers weer meer belas word daarvoor.

Stripes

en iewers gaan ‘n familielid of tjommie weer vinnig miljarder word tenspyte van dit wat onder die tafel gedeel word. Ek ruik ‘n rot.

Donderstorm

Ja nee al wat dit is is n geld maak storie en n vermorsing van ons belasting betalers se geld wat vir baie meer broodnodige dinge gebruik kon word hul moet hul preoriteite reg kry eers hospitale en skole en infra struktuur werkskeping dan silke goed heel laaste as al die ander dinge in plek is.maar ja.

Jan Nel

Ag die regering is maar net opreg bekommerd oor ons rokers se gesondheid. Vandaar die kwaai belastings en nou ook nuwe middele om hul besorgdheid te befonds.