Tabakverbod dalk nog maande met SA, waarsku stigting

(Argieffoto)

Volgens sommige aanduidings gaan die verbod op die verkoop van tabakprodukte selfs ná vlak 4 van die afsonderingsregulasies volgehou word, wat beteken rokers gaan aanhou om buitensporige pryse vir swartmarksigarette op te dok.

Dít, volgens die Vryemarkstigting, wat sê die regering het nog nie vorendag gekom met bewyse vir ʼn verband tussen rook en Covid-19 nie.

“Rokers moet hulle gereedmaak om maande lank R20 vir ʼn enkele sigaret of R200 vir ʼn pakkie te betaal. Die pandemie gaan nog tot volgende jaar op die een of ander manier met ons wees, so moenie verwag dat tabakverkope voor 2021 toegelaat gaan word nie,” het Leon Louw, uitvoerende hoof van die stigting, gesê.

“Soos met alle gejaagde en ondeurdagte regulasies, geld die wet van onbedoelde gevolge ook hier. Teen die einde van April was die tesourie meer as R300 miljoen in aksynsbelasting van tabakprodukte kwyt, die mark is op ʼn skinkbord aan onwettige handel oorhandig en dié vra buitensporige pryse. Mense het nie opgehou rook nie. Die regering het 11 miljoen rokers oornag in misdadigers verander,” het hy gesê.

Louw sê die groot vooruitgang wat gemaak is om die handel in onwettige sigarette te stuit, is ongedaan gemaak. Die toekoms vir die wettige bedryf lyk donker – en dit sluit alle informele en kleinhandelaars in wat op die verkoop van tabakprodukte staatgemaak het om ʼn inkomste te verdien. Hy sê dit gaan moeilik wees om die situasie in die toekoms om te keer en dat onwettige handel Suid-Afrika sedert 2010 meer as R40 miljard in verlore belasting gekos het.

“Wat is die motivering vir die verbod op tabak? Wie weet. Waar is die bewyse dat tabakprodukte die verspreiding van Covid-19 verhoog en hoekom word tabakprodukte uitgesonder terwyl ander goed soos kos, drankies en gemeenskaplike toilette gedeel word?

“Hoekom word suiker nie verbied nie? Studies van Chinese Covid-19-pasiënte het gewys die sterftesyfer is drie keer hoër onder pasiënte met diabetes.”

(Foto: SA Polisie)

Onlangse navorsing deur die Universiteit van Kaapstad oor die ekonomie van produkte waarop aksyns gehef word, het bewys dat die meerderheid rokers in Suid-Afrika steeds sigarette tydens die afsonderingstydperk koop. Waar hulle dit vantevore by wetsgehoorsame, belastingbetalende winkels gekoop het, doen hulle dit nou in groot getalle op die swartmark. Hulle reis dikwels ook ver om dit te doen.

“Soveel vir die reisverbod,” het Louw gesê.

Suid-Afrika is een van net drie lande ter wêreld wat die verkoop van sigarette tydens afsondering verbied het. Die ander twee is Botswana en Indië. Die regering moet nog bewyse verskaf dat rook enige uitwerking op Covid-19 het, sê Louw.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het nog nie bewyse of data uitgereik wat wys of rook ʼn uitwerking op die virus het nie en het ook geensins standpunt ingeneem oor of lande tabakverkope moet verbied nie. Selfs al het sekere studies ʼn verband tussen rook en Covid-19 probeer trek, is die vraag waarom ander lande nie die raad gevolg en tabakprodukte verbied het nie.

“Dit lyk of die regering die raad van sy eie mediese advieskomitee geïgnoreer het. Wat is dus die bron van hul raad? Die publiek – rokers en nierokers – het ʼn reg om te weet,” het Louw gesê.

Hy sê die regering verontagsaam die geestelike gesondheidsaspek van skielike nikotienonttrekking.

“Die verbod is verregaande, onnodig en ongekend. Die regering is aanspreeklik aan die mense en sy dag van afrekening gaan kom. Openbare welwillendheid en steun wat in die eerste drie weke van afsondering opgebou is, verdwyn vinnig. Hulle beter ʼn goeie storie hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ferdie

R200 n pakkie? Maklik sou dit gebeur. Maar tans is sigarette nog volop. R300 n carton vir ongekende name. JFK, Savannah R600 n carton. Brand name soos Camel R1800 n carton. Belaglik maar maklik verkry baar!!

Jan

Hulle. Kry genoeg geld van smokelaars. Wel hulle gaan dit nodig kry. Carona kom vir hulle. Paw het mos in sy boek veduidelik wie trek voordeel uit die smokel van sigarette. As hy nie die waarheid gepraat het nie . Hoekom het hulle hom nie vervolg nie. Op vlak 3 moet hulle sigatette verkoop of hulle moet suiler onwetig verklaar. Deur aantegaan oor die tabak verbot. Maak hulle hul anc seporters se koppe deurmekaar . Almal praat oor sigarette. So steuk hulle hulle wan bestuur weg want almal praat oor sigarette. Hulle kan nie vir hulle me se sorg nie… Lees meer »

Baardman

Ai moet nou nie idees in hulle kop sit nie, more is suiker dalk regtig verbode

SomeOne

ndz sal aanhou om sigaret verbod daar te stel, as sy haar sin kry sal sy dit vir altyd verban, omdat sy op haar neus geduik het met ‘n koop transaksie wat met sigarette te doen het

Venter

Kyk nou mooi daar is verbod op verkoop van tabak maar geen verbod op die gebruik nie met snder voorde jy kan maar dwelms gebruik en rook Dit is die volgende stap niemand gaan jou keur nie die hele verbod is ontsmaaklik die verkoop van drank daar is alle baie mense dood aan self gemaakte drank wie sal nou die meeste se lefens neem ons weet dwelms en self gemaakte drank