Tabakverbod ontneem boere van regte – Saai

Die hooggeregshof in Kaapstad. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die landbouorganisasie Saai voer in die hooggeregshof in Kaapstad aan tabakboere ly in hierdie stadium enorme ekonomiese skade omdat hulle weens die verbod op die verkoop van tabakprodukte geen kopers vir hul produkte het nie.

Saai verteenwoordig tabakboere se belange in British American Tobacco SA (Batsa) en nege ander partye se saak teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma.

Die verhoor het Woensdag begin.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het gesê Batsa – wat al die aansoekers in die waardeketting verteenwoordig – betwis die verbod grondwetlik en administratief.

“As die verteenwoordigers van tabakboere voer ons aan dat regulasie 45 van die Rampbestuurswet tabakboere ontneem van hul reg om ʼn bedryf, beroep of professie te kies, soos vervat in artikel 22 van die Grondwet van Suid-Afrika,” het Rossouw gesê.

Volgens Rossouw voer die minister aan dat die regulasies net tydelik is en dat handel in die toekoms hervat kan word. Terselfdertyd gee sy geen aanduiding van wanneer dit gaan gebeur nie. Volgens hom het boere nou geen manier om hul bedrywighede voort te sit nie en ook geen skedule waarvolgens hulle kan beplan nie.

“Die inperkingsregulasies moet ten doel hê om die verspreiding van Covid-19 te beperk en om die gevolge daarvan te verlig. Beskikbare data ondersteun glad nie die siening dat ʼn verbod op die verkoop van tabakprodukte ʼn wenslike impak sal maak in die bereik van hierdie doelwitte nie,” het Rossouw gesê.

Dlamini-Zuma voer aan die verbod is ʼn beperking op handel en dus die regte van verkopers. Sy meen enige inbreuk op rokers se reg op privaatheid, waardigheid en outonomie is vervolgens ʼn bysaak en kan nie in die hof geopper word nie.

Alfred Cockerill, Batsa se regsverteenwoordiger, het aangevoer die regering se redenasie is ʼn “verstommende argument omdat die hele doel van die verbod is om rook te stop”.

“Ons is verward oor die argument. Ons geleerde vriende is desperaat om te sê dat hierdie saak nie handel oor die regte van verbruikers nie, maar oor die regte van handelaars.”

Cockerill het ook verwys na die regering se veelbesproke verduideliking dat die verbod probeer om rokers te keer om tabak te gebruik en dan Covid-19 só ernstig op te doen dat hulle ʼn las op die land se reeds sukkelende gesondheidsorgstelsel plaas.

“Ver van bykomend, is dit die hele doel van die verbod,” het Cockerill gesê.

Cockerill het ook verskil van die minister se argument dat die verbod nie die grondwetlike regte van tabakprodusente skend nie omdat hulle nie verhoed word om hul werk te doen nie. Volgens die minister word hulle ten slegste deur tydelike kontantvloeiprobleme in die gesig gestaar omdat die verbod die aanvraag na hul produk verminder het.

Die saak duur Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Die ANC land is n grap hulle moet dalk eers graad een gaan klaar maak.

Persheks Adri ·

Die regering se regulasies is dubbel sinnig en verwarrend! Sy vat ons regte weg. Die brein kan nie dink hoeveel mense sonder werk gaan sit nie en dis te danke aan haar, maar ons moet werk skep! Hoekom mag taxi’s vol gelaai word en kry hul voorkeur bo ons? Vat hulle regte weg dan gaan ons bollie sien spat!!! Korrupte spul die klomp

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.