Tabakverbod was onnodig, ongrondwetlik, gelas hof

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Afsonderingregulasie 45, die verbod op die verkope van tabakprodukte, was onnodig en ongrondwetlik.

Só het ʼn volbank regters Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind in British American Tobacco South Africa (Batsa) en nege ander aansoekers se saak teen Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, pres. Cyril Ramaphosa en die nasionale bevelraad vir die hantering van kwessies rakende die koronavirus.

Die land se grootste sigaretvervaardiger het in Junie ʼn dringende hofaansoek ingedien om die verbod tersyde te stel. Die verbod is in Maart ingestel toe die algehele landwye afsonderingstydperk aangekondig is in reaksie op die Covid-19-pandemie.

Die aansoekers se argumente is egter aangehoor kort voordat die verbod in Augustus eindelik opgehef is en uitspraak was tot nou voorbehou.

Die hof het nietemin in sy uitspraak bevind dat afsonderingsregulasie 45 “nie grondwetlike ondersoek kan weerstaan nie”.

“Ons het bevind dat regulasie 45 nie nodig was nie. Daar kan ook nie gesê word dat dit die doelstellings soos uiteengesit in afdeling 27 (2) van die wet bevorder nie.”

Die hof het wel toegegee dat ʼn Covid-19-pandemie die respondente met die instel van die tabakverbod in die gesig gestaar het wat daartoe gelei het dat dringende maatreëls ingestel moes word om die verspreiding van die koronavirus te beperk en lewens te red.

Daar is dus bevind dat elke party sy eie regskoste moet dra.

“Die respondente was onder ʼn grondwetlike en morele verpligting om vinnig op te tree in ʼn tyd waarin daar min bekend was oor die pandemie. Om hulle met koste te belas sou in die omstandighede onregverdig wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

gatgogga ·

Ons is glo nou in die greep van ‘n tweede golf Corolla Wireless.
Geen wonder nie, want mense het opgehou onwettige tabak rook (rook nou weer wettige tabak), en dra boonop al weer skoene met oop tone.

Oros Soros ·

Nog ‘n nikseggende gebaar. Baie swak van die hof om nie die arrogansie te bestraf met ‘n kostebevel nie. Lyk my asof die regters nie in dieselfde land of planeet as ons woon nie.

Althes ·

Vreemd dat rokers in die minderheid was wat die Covid 19 opgedoen het.

Herpiet ·

Hierdie was doelbewus.
Die swartmark het nou diep gevestig en rokers het selfs van handelsnaam verander. Dis goedkoper en belasting word nie daarop betaal nie

Nici ·

En daars geen gevolge vir die regering, dus kan hulle maar volgende keer weer ander mense verbied om inkomste te verdien of vryhede soos in die grondwet vervat te geniet.

Anel ·

Hulle gaan dit dien ook. Kyk maar. Alle strande gaan die vakansie toemaak. Maar hulle gee mos nie om of mense hul inkomste verloor nie. Hulle sakke is vol. Komuniste!!!

Persheks Adri ·

Wanneer word NDZ en haar kinders vervolg omdat hulle so baie geld gemaak het op die swart mark???

johanf ·

Skade reeds gedoen, die onwettige handel tans, oorskry die wettige handel….

4ntj13 ·

As elkeen wat moes swaar kry nou sal inval en siviele eise instel teen bogenoemde partye, kan dit dalk opmaak teen die winsmakers ook! Wat van ʼn totale suikerverbod in die Parlement? Bo-op ʼn versoeterverbod (Ons wil mos nie iemand onnodig bevoordeel nie).

Johan ·

“elke part moet sy eie regskoste dra”, nee ons betaal die NDZ se regskoste.

Sênet ·

Wonder hoeveel in die parlement het geld uit die verbod op sigarette en drank gemaak, ek is seker daar was n hele paar gewees. Ek laat my nie vertel dat hulle nie geweet het dis onwettig volgens die grondwet nie.

Jakkie ·

Ja, eindelik kom die uitslag te laat. Rokers wat wettige sigerette gekoop het moes toe oorslaan na die onwettige sigarette en het toe daaraan gewoond geraak, nou rook die meeste rokers onwettige sigarette, want hoekom moet ek dan so duur betaal vir die wettige sigarette. Om die wettige sigarette te regverdig, sal die regering die belasting van wettige sigerette moet afhaal, sodat daar groter kompetisie tussen die verskillende sigeret maatskapye kan wees. Dis ongelukkig ‘n duur les vir die staat. Pas op dat daar nie ‘n plaas vervanger in die drank bedryf ook gaan kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.