Tafelberg 365 keer op en af om kinders te help

Rudy van Dieman (Foto verskaf)

Rudy van Dieman (26), ʼn toergids vir die Tafelberg-kabelkarretjie, het 2022 met ʼn ambisieuse doelwit begin: om Tafelberg 365 keer uit te klim vir liefdadigheid.

Die uitdaging het op 1 Januarie 2022 begin en eindig op 31 Desember 2022. Dit het ten doel om jongmense te wys watter krag lê in ʼn sterk werksetiek en te wys dat hulle enigiets kan bereik as hulle hulself daarop toespits.

“Jongmense het deesdae ʼn goeie rolmodel nodig, om vir hulle te wys dat daar geleenthede buiten dwelmmiddels, misdaad en bendes is. Ek hoop my uitdaging sal ʼn baken van hoop wees vir diegene in benadeelde gemeenskappe,” sê Rudy.

Hy het al saam met verskeie liefdadigheidsorganisasies gewerk sedert hy in 2014 gematrikuleer het. Hy fokus vanjaar op ʼn nuwe organisasie, Angels SA, wat in sy dorp Mitchells Plain gesetel is.

Met ʼn skarefinansieringsveldtog wat hy op BackaBuddy begin het, hoop hy om R1 miljoen in te samel sodat dit gebruik kan word om ʼn veilige hawe vir kinders te bou.

Rudy op Dag 3 van die uitdaging (Foto verskaf)

“Daar is slegs drie weeshuise in Mitchells Plain – twee vir babas jonger as vyf jaar, en daarna word kinders vir drie maande lank in huise van veiligheid geplaas en dan skuif hulle van huis na huis totdat hulle families kry wat hulle langer hou. Met die veilige hawe wil ons ʼn stabiele lewe en omgewing vir die kinders skep sodat hulle daar kan bly tot 18 jaar voor hulle die arbeidsmark betree,” voeg Rudy by.

Sedert die aanvang van sy veldtog het Rudy reeds byna R5 000 ingesamel met bydraes van 17 skenkers. Hy het reeds 44 keer Tafelberg uitgeklim, ʼn afstand van 100 km. Meer as 15 individue het al by hom aangesluit om hom te ondersteun.

Sy inisiatief is geïnspireer deur sy held, Andrew Patterson, wat deur sy 365 Ubuntu Climbs-uitdaging in 2018 byna R1 miljoen op BackaBuddy ingesamel het om Habitat for Humanity, One Heart en The Sunflower Fund te ondersteun. Lees meer.

“Ek het gekyk hoe Andrew elke dag Tafelberg uitklim – deur somerson en reën in die winter. Ek kon nooit verstaan het hoekom hy dit sou doen nie. Hoe meer ek egter na hom gekyk het, hoe meer het dit vir my duidelik geword: fokus op vandag en doen wat jy in die oomblik kan doen om Suid-Afrika ʼn beter plek te maak,” sê Rudy.

Rudy saam met ‘Mountain Man’, Andrew Patterson in 2018 (Foto verskaf)

“Rudy het my al in 2020 gekontak om te sê hy wil dié uitdaging aanpak,” sê Andrew. “Om Tafelberg elke dag vir ʼn jaar lank uit te klim is ʼn massiewe taak, maar toe ek hoor hoekom hy dit wil doen, het ek absolute vertroue in hom gekry. Rudy is ʼn ongelooflike ou met groot drome en ʼn groter hart. Ek is ongelooflik trots op hom en ondersteun hom met elke tree wat hy gee.”

Vasberade om ʼn verskil te maak

Rudy en ‘n groep studente wat hom ondersteun (Foto verskaf)

Buiten die fisiese tol wat die uitdaging gaan eis, werk Rudy voltyds en hy het epilepsie. Hy sukkel ook self finansieel. “Dit is moeilik maar dit is tog lonend,” sê Rudy, wat vasbeslote is om voort te gaan. “Net soos wat die lewe moeilik is vir baie mense, is hierdie uitdaging nie eenvoudig nie, maar ek bly positief. Deur God se genade kry ek ʼn balans. Ek sit een voet voor die ander, konsentreer op die belangrikste dinge in die lewe en probeer my bes om ʼn positiewe verandering te maak.”

* Ondersteun Rudy se veldtog op BackaBuddy: https://www.backabuddy.co.za/angels-sa-project-365
* Maak ʼn skenking via Snapscan: https://pos.snapscan.io/qr/AngelsSAProject365

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elmarie ·

Ek is trots op mense soos jy. Ek hoop jy gaan jou doelwit bereik. Einde Feb sal ek my deeltjie bydra. Alle sukses en ag mense, asb as jul ietsie het, elke rand tel, knyp maar af en help die ou!

piet ·

Dis voorwaar ongelooflike toewyding en deursettingsvermoe. Om dit elke dag vir ‘n jaar ongeag die weer oor en oor te doen, wil gedoen wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.