Tafelberg-kabelkarretjies tot dán gesluit

Tafelberg se roterende kabelkar Foto: Marianne Styan

Tafelberg se kabelkarretjies gaan vir sowat twee weke gesluit wees.

Wahida Parker, besturende direkteur van die Tafelberg-sweefspoor, het in ʼn verklaring gesê die sweefspoor word van 24 Julie tot 6 Augustus gesluit vir beplande jaarlikse instandhoudingswerk.

“Die instandhoudingstydperk verseker dat die stelsel voldoen aan die hoogste standaarde soos deur die Switserse beheerliggaam vir kabelweë (BAV) bepaal word,” het Parker gesê.

Sy het gesê vanjaar se planne behels om die hysbakke by die onderste stasie te vervang. “By die boonste stasie gaan die ingang- en uitgangplatform omgeruil word om ʼn beter vloei van voetverkeer te verseker. Die paadjies by die boonste stasie gaan ook oorgelê word.”

Verder gaan die sitplekke by die Tafelbergkafee oorgedoen word om te verseker dat meer gaste geakkommodeer kan word.

“Die besoekersentrum aan die onderkant kry ook ʼn nuwe baadjie en die kabelkarretjies kry nuwe handelsmerke.”

Die gewone instandhoudingswerk sal ook gedoen word, waaronder die skoonmaak van toue, versnellingstoetse en diens aan die hoofratkas, kragopwekkers en rugsteunkragopwekkers.

Dié beplande instandhoudingswerk volg twee dae nadat talle mense Saterdag van Magaliesberg in Hartbeespoort, Noordwes, gered moes word toe die kabelkarretjiestelsel daar weens ʼn meganiese fout gaan staan het.

Bedrywighede by die Harties-sweefspoor is onbepaald tot stilstand gebring totdat die stelsel weer volledig in werking is. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

johnny_walker ·

dis mooi dat julle al daai dingetjies wat julle noem gaan vervang , ai te lieflik , maar vergeet julle nie ietsie nie , ek meen dit is die een ding wat ek eerste sou na kyk en my die meeste sou pla as ek op daai KABELkarre mos ry , terloops wat is n kabbel ?

Dalene de Vente ·

Dagsê johnnyˍwalker

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Spelling ·

Johnny_walker, en van wanneer af het DAARDIE verander na DAAI?

Houtoog ·

Weer ekke! Kabbel=kabel in hoofopskrif. Daar word gereeld ook op myne skagondersoek (weekliks) gedoen waar ook die kabel van die hysbak ondersoek word. Ek glo dieselfde geld vir Tafelberg.

Dalene de Vente ·

Dagsê Houtoog

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Johann ·

Om te voldoen aan internasionale standaarde…want behoede ons as dit van plaaslike standaarde afhanklik was! Kan myself net indink…snaaks die kabels is nog nie gesteel nie?

Frik ·

Inderdaad, Johann, inderdaad. En as die verkeerde toeris daar opdaag en die kabelkar loop nie, kan dit brandstigting tot gevolg hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.