Tafelberg lok steeds miljoene ondanks kommer oor misdaad

Tafelberg. (Foto: Kobus Bezuidenhout/Maroela Media)

Nagenoeg 1,7 miljoen toeriste het Tafelberg Nasionale Park in Desember en Januarie besoek.

Kaappunt, die Boulders-bewaringsgebied en die Tafelberg-sweefspoor was van die gewildste toeristeaantreklikhede in die stad.

Daar was met die aanvang van die feestyd groot kommer oor veiligheid in die Tafelberg Nasionale Park ná verskeie voorvalle waar stappers onder meer beroof is.

Tesame met belanghebbendes in die toerisme- en gasvryheidsektor, asook met vennote wat verantwoordelik is vir veiligheid, is daar hard gewerk om die voorvalle hok te slaan, het JP Louw, woordvoerder van SANParke, gesê.

Daar is 33 misdaadvoorvalle in November in die park aangemeld, teenoor ses in Desember en ʼn enkele voorval in Januarie.

Volgens Louw is hommeltuie ingespan om die nodige bystand te lewer.

“Daar is ook verhoogde sigbaarheid op die terrein, in die see, op die berg en in die lug met ʼn SANParke-helikopter wat daagliks waarneming doen.”

Bykomende veiligheidsmaatreëls sal ook tydens die Paastyd in die Tafelberg Nasionale Park geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.