Tafelberg-lyk: Identiteit van vrou nog onbekend

Charlotte Nikoi. Foto: Verskaf

Die identiteit van die vrou wie se ontbinde liggaam Dinsdagoggend op Tafelberg in Kaapstad gevind is, is nog nie bekend nie.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê daar is nog geen nuwe verwikkelinge nie en dat die polisie se ondersoek voortgaan.

Maroela Media het Dinsdag berig die liggaam is omstreeks 10:15 deur speurders van die provinsiale speurtak en wildbewaarders van SANParke gevind.

Tafelberg was vir besoekers gesluit nadat die liggaam gevind is, terwyl die polisie se forensiese ondersoekers die gebied vir leidrade gefynkam het.

Van Wyk het gesê ʼn nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van die vrou se dood en haar identiteit vas te stel. Die polisie het nie gesê hoe lank dié proses na verwagting gaan duur nie.

Die vrou se liggaam is in die omgewing van die Platteklip-ravynroete gevind waar Charlotte Nikoi (50), ʼn Ghanese werknemer van die Verenigde Nasies (VN) wat in Johannesburg woon, verdwyn het toe sy saam met haar man, Chris (57), en een van hul drie dogters op 21 Maart (Menseregtedag) op die roete gaan stap het. Lees meer hier.

Haar man, Chris Nikoi, het ná die vonds aan die media gesê hy weet nie of die liggaam dalk dié van sy vrou is nie en wag vir terugvoer van die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

al ·

Sterkte aan haar gesin. Dit moet martelend wees om in soveel onsekerheid te leef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.