Tafelberg se kabelkar vir 2 weke gesluit

Instandhoudingswerk op Tafelberg se beroemde kabelkarretjie. Foto: www.tablemountain.net

Tafelberg se beroemde kabelkarretjie sal van Maandag vir twee weke gesluit wees.

Die beplande sluiting word gedoen sodat die jaarlikse instandhouding aan dié Kaapstadse kabelweg gedoen kan word. Volgens Wahida Parker, besturende direkteur van die kabelweg, is dié instandhouding noodsaaklik om die veiligheid te verseker van die miljoene besoekers wat jaarliks die toeriste-trekpleister besoek.

“Veiligheid is vir ons van kardinale belang. Om te voldoen aan die hoogste standaarde soos deur die Switserse Beheerliggaam vir Kabelweë gestel word, sal die kabelkarretjie vir die publiek gesluit wees sodat toue skoongemaak kan word, toutoetse en -metings gedoen kan word, breking- en ladingstoetse gedoen kan word en kajuitbelyning nagegaan kan word,” het Parker verduidelik.

Tydens die instandhouding sal die kabelweg se hoofratkas, opwekkers en bystand-opwekkers ook gediens word en algemene elektroniese komponente sal nagegaan en getoets word. Besoekers kan ook verwag om ʼn opgradering van die vloere en sitplekke van die Table Mountain Café te sien.

“Ons is trots dat besoekers al vir 88 jaar hul vertroue in ons plaas om hulle veilig teen die berg op te vervoer en ons is toegewyd om ʼn wêreldklas, veilige ervaring te bied,” het Parker gesê.

Die kabelkarretjie sal van 23 Julie tot 5 Augustus gesluit wees. Suid-Afrikaners van 18 jaar en ouer wat hul verjaardae in hierdie tydperk vier, kan hul komplimentêre kabelritkaartjie in die week ná die heropening opeis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanna Botha ·

Was onlangs daar gewees …plek lyk verwaarloos, die resturant bo lyk ook afgemat en dalk kan hulle oorweeg om die stoepe te vee vir n slag.

Lilipit ·

Was verlede week daar… wêreldklas… skoon en netjies.. puik diens ook…

Peet Schabort ·

Daar was (en ek glo nog steeds) ‘n weeklikse inspeksie gedoen op myne met die ondersoek en instandhouding van mynskagte, hysertoue, aswinders (shaft winders) en gepaardgaande toestelle. Toetse word gedoen oor die hoeveelheid kabeldraad (cable strands) wat reeds gebreek is op die kabel. Dit dui daarop wanneer die kabel in totaal vervang word sonder lasplekke. Die ‘weghardloop’ (over winding) word ook getoets, dit is wanneer die remme faal en die hysbak/kar gestop moet word. Dit is natuurlik ook wat hier gebeur. Eintlik is daar maar weinig verskil tussen ‘n mynskag en hierdie kabelkar se vervoer.

Sue ·

Genade, ek haal my hoed af vir daardie werkers, ek raak skoon angstig net om na daai foto te kyk. Hoogtevrees is n duiwelse ding jong.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.