Taks-baas dalk privaat oor ‘aanranding’ vervolg

Tom Moyane (Foto: ANA)

ʼn Meisie (17) wat beweer Tom Moyane, die geskorste hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, het haar tydens ʼn rusie in die gesig geskop, se ma het AfriForum genader om Moyane privaat te vervolg.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het aan Maroela Media bevestig die organisasie het Donderdag in die media gelees dat die meisie se ma AfriForum wil nader. Hulle het dus Vrydag met haar in verbinding getree. Kriel het gesê indien daar ʼn sterk saak teen Moyane is, sal hulle hom vervolg.

“As jy ʼn goeie vriend van die vorige president was, kan jy nie nou sommer wegkom met so iets nie,” het Kriel gesê.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het bevestig dat AfriForum 30 Julie met die ma byeenkom.

“Sy het volgens haar doktersverslae en stemopnames waarin Moyane se stem na bewering in die agtergrond gehoor kan word en sal dit saambring,” het Nel gesê.

Daar is in dié stadium nie meer besonderhede oor die voorval beskikbaar nie.

Rapport het die afgelope naweek berig dat die meisie ʼn kind by Moyane se seun het en in Mei vanjaar tydens ʼn rusie in sy huis in Johannesburg onder meer in die gesig geskop is.

Phindi Louw-Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media bevestig dat die NVG Moyane nié op aanklag van aanranding gaan vervolg nie aangesien “daar nie ʼn prima facie-saak teen hom is nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

TLC ·

As ek reg onthou het hy n hele klomp tax betalers ook in die gesig geskop Ja afriforum laat ons sien of jul die een kan deurhaak Want jul wag mos nog vir Grace Mugabe ne Net as jul iets kan regkry mag ek jul dalk weer vertrou met my bydrae En wow vir jul vinnige optrede in witrivier

Ouman ·

Die sogenaamde NVG het duidelik te kluts kwyt geraak. So ook die ANC. Daar word tyd en geld spandeer in die veldtog teen geweld teen vrouens en kinders maar dan word Uncle Tom en Manana nie vervolg. Ek ruik ‘n rot . Dit wil voorkom dat geweld teen vrouens en kinders selektief hanteer word. Die NVG sal hulle sokkies moet optrek en kyk na die tekort aan kundige staatsaanklaers.

Koos ·

Al hierdie sg. privaatvervolgings en nie een nolle prosequi sertifikaat sover in die sak nie. Wanneer gaan AfriForum groot sake vervolg en hierdie Mickey Mouse-goed liewer eenkant sit? Hou op spog en kondig maar liewer aan sodra iemand reeds in die hof was.

Pateties ·

Ag dis belaglik Afriforum vervolg net mense wat hoe profiele het en waarmee hulle punte kan score .. die boodskap ‘ons gee om vir ons anderskleurige vriende’ . nooit vervolg hulle plaasmoordenaars wat nie vervolg word nie, en nooit probeer hulle boere wat onskuldig aangekla word help nie .. NEE kom ons help die Duduzanes en die Manyanes .. DIE ERGSTE is daar het nog NIKS van gekom nie .. ABSOLUUT NIKS . van die MUgabe saak het niks gekom nie . .van die Duduzane saak ook niks nie .die NVG spring hulle elke keer voor en maak of hulle gaan vervolg en AFriforum val elke keer daarvoor. VERDUIDELIK asb vir my watter van hierdie sake was al in die hof en wat was die uitslag???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.