Taksbaas ‘het nie met Guptas vergader’

Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Vrydag ontken dat SAID-kommissaris Tom Moyane in Desember 2015 met lede van die Gupta-familie in Dubai vergader het.

Dit kom nadat media vandeesweek berig het Moyane was tussen Junie 2015 en Desember 2016 minstens vyf keer in Dubai. Moyane was glo oor Kersfees in 2015 in Dubai, ʼn reis wat hy volgens berigte op sy persoonlike paspoort onderneem het.

Volgens berigte het die besoek aan Dubai ooreengestem met die teenwoordigheid van al drie Gupta-broers, Rajesh, Atul en Ajay, asook pres. Jacob Zuma se seun, Duduzane Zuma, en die seuns van Vrystaatse premier Ace Magashule, Gift en Thato Magashule.

Die SAID het Vrydag in ʼn verklaring bevestig dat Moyane op 23 Desember 2015 in Dubai was terwyl hy onderweg was om Kersfees in Portugal deur te bring. Die SAID het ook bevestig dat hy op 29 Desember teruggekeer het na Dubai en weer op 8 Januarie 2016 teruggevlieg het na Suid-Afrika.

“Kommissaris Moyane het nooit enige lid van die Gupta-familie in sy private of professionele hoedanigheid ontmoet nie,” lui die verklaring.

“Die SAID sien die pogings om die kommissaris en/of die SAID as ʼn instansie met die Gupta-familie of hul medewerkers te verbind, as kwaadwillig en uiters roekeloos. Ons doen ʼn beroep op enigiemand met inligting wat die teendeel bewys om dit aan die SAID of enige staatsinstansie te verskaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

emo ·

sjoe Dubai is darem n gewilde kuier plek vir regerings amptenre wonder wat trek hul daarheen

snoefie ·

is enige mens nie veronderstel om te alle tye met sy of haar eie persoonlike paspoort te reis nie?

koos1 ·

Snoefie, soos ek dit het kan jy 2 paspoorte besit. Amptelik en privaat.

koos1 ·

Daar was mos spanning tussen hom en Gordan, toe hy nog minister was? Gordan glo ek weet baie meer as wat ons weet, en ek glo ook dit was sy rede vir afdanking!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.