Talentvolle matrikulant dood in rivier gevind

Wiaan Botes [Foto: Knor Varkie, Facebook]

Hoërskool Vredenburg in die Wes-Kaap is geskok ná een van hul matrikulante, Wiaan Botes (19), se liggaam in die Bergrivier gevind is. Die skool is Woensdag van sy dood in kennis gestel – op die dag wat die matriekeksamen afgeskop het.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het Botes Saterdagaand verdwyn toe hy glo in die Bergrivier gaan swem het. Die polisie is van sy verdwyning in kennis gestel en hulle het sedertdien na hom gesoek.

Polisieduikers het Botes se liggaam Woensdag omstreeks 09:40 in die rivier gevind.

“’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van Botes se dood te bevestig,” sê Van Wyk.

Lemfvia Craill, Botes se Afrikaansonderwyser, sê die skool is Maandag van Botes se verdwyning in kennis gestel.

“Almal het gehoop dat daar ’n positiewe uitkoms sou wees. Dit was vir ons ’n groot skok toe ons Woensdag hoor hy is oorlede,” vertel Craill aan Maroela Media.

Volgens Craill het sy vir Botes van gr. 8 af Afrikaans gegee en was sy soos ’n tweede ma vir hom.

“Dit is ’n voorreg dat ek kon sien hoe Wiaan in vyf jaar se tyd tot ’n volwasse man gegroei het.”

Craill sê Botes was baie geliefd onder sy medeleerders omdat hy maklik met enigiemand oor die weg gekom het.

“Hy het ’n charismatiese persoonlikheid gehad en kon aanpas by enigiemand en in enige situasie. Hy was ’n lewendige, positiewe leerder.”

Botes het graag gehengel en het ook erekleure daarvoor gekry.

Sy groot passie was egter kosmaak en volgens Craill sou hy ná skool hierdie passie wou uitleef. Hy het die afgelope jaar as studentesjef by die Knor Varkie-restaurant in Velddrif gewerk.

“Ons harte is baie seer. Wiaan het soveel potensiaal gehad as ’n jong kok en hy was beslis ’n aanwins vir ons,” skryf Knor Varkie se bestuur op hul Facebookblad.

Daar is Vrydag ʼn verbyry‑seremonie ter nagedagtenis aan Botes by die skool se hoofhek gehou. Leerders, onderwysers en mense van die gemeenskap het blomme, foto’s en briewe daar neergelê.

Die matrieks en personeel het wit ballonne in die lug laat opgaan, terwyl Botes se ma, Monica, ’n rooi ballon laat opgaan het.

Volgens Craill het die skool reeds beraders laat kom om met die matrieks en personeel te gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mariana ·

Ai dis hartseer. Simpatie en sterkte aan familie en vriende.

Jaquar ·

Het die ontsnapte Bonnievale krokodille nie iets daarmee te doen nie?

Skappie ·

Jammer om te hoor van Wiaan. Sterkte aan sy gesin en sy vriende in hierdie hartseer tyd. Mag onse Liewe Jesus julle styf in sy arms vashou.

Hennie Biebouw ·

Die Berg ‘n baie gevaarlike, en bedrieglike rivier , om van die ergerlike besoedeling nie te praat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.